Persverklaring: Jong dramaturge steel die kollig by New Voices in Kaapstad

  • 0

New Voices, die jaarlikse samewerkingsprojek tussen Suidoosterfees (SOF) en Artscape, is nou te sien by Artcape se Arena in Kaapstad. Die projek plaas die kollig op oorspronklike en opwindende nuwe verhoogstukke met agt gedramatiseerde voorlesings van werk deur opkomende dramaturge. Die program sluit af met opvoerings van die hoog aangeskrewe Fietsry vir dommies van 1 tot 4 November.

Drie gedramatiseerde voorlesings van aspirant Artscape-dramaturge was vandeesweek reeds op die New Voices-verhoog: Let’s Get Meta deur Robin Kitto, Ingcwaba deur Siyamthanda Poni, en As die poppe dans deur Marcheline Andrea Albertyn en Jurgen Romario McEwan.

Die gordyn lig op 25 en 26 Oktober vir nuwe verhoogstukke deur jong dramaturge wat gekeur is vir die SOF NATi Jong Sterre-projek, jaarliks aangebied in samewerking met NATi en die Jakes Gerwel Stigting.

Op 25 Oktober begin Miché van Wyk se Suurdeeg om 14:00, gevolg deur Cara Rossouw se Na die dood ons skei om 16:30, en Mikayla Joy Brown se Poppie in the Dunes om 19:00. Akteurs René Cloete, Jodine Ockers, Ira Blackenberg, Robert Hindley, Julia Marone, Dean Balie en Crystal Donna Roberts verskyn in die gedramatiseerde voorlesings. Elke voorlesing word gevolg deur ’n kort bespreking.

Toegang tot die gedramatiseerde voorlesings is gratis, en die publiek word hartlik uitgenooi om die jong opkomende talent te ondersteun. Die voorlesings sal teatergangers wegvoer na nuwe, inspirerende Suid-Afrikaanse wêrelde, met die volgende regisseurs aan die stuur van sake: Sandra Temmingh, Tinarie van Wyk Loots, Iman Isaacs, Oscar Petersen en Nwabisa Plaatjie.

Van 1 tot 4 November om 19:00 bereik die New Voices-program ’n hoogtepunt wanneer Tiffany Saterdaght se Fietsry vir dommies opgevoer word. Die verhoogstuk het aan die begin van die jaar by SOF as deel van die fees se NATi Jong Sterre-program gedebuteer. Dit het hoë lof ontvang en is onlangs ook opgevoer by die Toyota US Woordfees in Stellenbosch. Eldon van der Merwe vertolk die rol van Carl, ’n inwoner van Rose Valley, wat wonder oor wat dit beteken om ’n bruin man in Suid-Afrika te wees. Van der Merwe se vertolking word verryk deur boeiende kletsrym en poësie.

Die volle New Voices-program is beskikbaar by www.suidoosterfees.com; toegang tot die gedramatiseerde voorlesings is gratis, terwyl kaartjies vir Fietsry vir dommies beskikbaar is by webtickets vir R80.

New Voices word moontlik gemaak deur die Suidoosterfees, Artscape, Stad Kaapstad, die Wes-Kaapse regering, NATi, die Jakes Gerwel stigting en die National Arts Council.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top