
Johaar Mosaval tydens Dreaming Dance in District Six - The Johaar Mosaval Story wat in Maart vanjaar by die Kunstekaap opgevoer is.
Dit is met leedwese dat ek vanoggend verneem het van die afsterwe van Johaar Mosaval (95). Johaar was ’n legende in eie reg, vir my ’n ouer broer in die kunste, ’n artistieke reus wat nooit opgehou het nie om my en baie ander te inspireer om te strewe na die hoogste vlak, om die beste binne jou vermoë te wees, om nooit moed op te gee nie. Net onlangs, tydens my besoek in sy laaste oomblikke by sy ma se huis in Athlone, saam met Fatima Allie en die voormalige KRUIK-balletdanser Sharon Paulsen, sy dierbare vriend en vertroueling van baie jare, was ek diep geraak deur sy gees waar hy op sy siekbed lê, met sy voete in die eerste posisie, hande gekruis, so gepas vir ’n gebore balletdanser, terwyl hy flou glimlag toe ek vir hom ’n ruiker wit blomme wys.

Johaar Mosaval erken die dawerende applous na afloop van die produksie Dreaming Dance in District Six - The Johaar Mosaval Story.
Ek is innig dankbaar vir die voorreg om hom op sy laaste reis by Kunstekaap te kon vergesel op sy laaste produksie ter ere van sy nalatenskap in Maart vanjaar: Dreaming Dance in District Six: The Johaar Mosaval Story. Om te sien hoe Johaar aan die einde van elke vertoning aand na aand op die verhoog die staande ovasies in balletposisie te ontvang en almal in die Marble-voorportaal te groet na elke optrede was inderdaad besonders en onvergeetlik vir my.
As Suid-Afrikaners was ons bevoorreg om hierdie balletlegende van Distrik Ses ons eie te noem: Die eerste swart balletdanser wat by die Royal Ballet aanvaar is, wat gedans het by die kroning van wyle koningin Elizabeth II in 1953, met ’n glansryke internasionale loopbaan van 25 jaar by die Royal Ballet op die verhoë van die wêreld se grootste operahuise in die geselskap van groot balletname soos Rudolph Nureyev en Dame Margot Fonteyn, voor sy teruggekeer huis toe om vele ander te inspireer, te leer en te lei. Hy het die sirkel voltooi. Ons sal hom altyd onthou.

Marlene le Roux en Johaar Mosaval op die verhoog na afloop van die produksie Dreaming Dance in District Six - The Johaar Mosaval Story.
Hamba kahle, Johaar. Mag jy in vrede rus.
- Foto’s: Jeremeo le Cordeur
Kommentaar
Liewe mens, pragtige danser! RIP, Johaar!
Wat 'n legende in eie reg! Mag sy nalatingskap vrede vind en die nuwe generasie aanspoor tot groter ballethoogtes. Shalom!