Persverklaring: “Jika” gaan jazz-aanhangers betower by Suidoosterfees

  • 0

Jazz-aanhangers gaan vanjaar groot genot put uit produksies wat by die Suidoosterfees op die planke is. Internasionale jazzdag, wat wêreldwyd op 30 April gevier word, val vanjaar weer saam met die fees wat van 27 April tot 1 Mei 2022 by die Kunstekaap-teaterkompleks in Kaapstad plaasvind.

Tete Mbambisa vertolk sy “Thembile’s Workshop” in “Jika” – Sounds of the SA Jazz Real Book by die Suidoosterfees. (Foto: Gregory Franz)

“Jika” – Sounds of the SA Jazz Real Book is een van die hoogtepunte op die musiekprogram. Tete Mbambisa, Tony Cedras, Hilton Schilder, Ramon Alexander en Anathi Mobo tree op, en hulle word begelei deur van die bestes op die plaaslike musiektoneel: George Werner, Shaun Johannes, Kurt Bowers, Jannie Hanepoot van Tonder, Byron Abrahams en Muneeb Hermans.

“Jika” is geïnspireer deur die bloemlesing, The South African Jazz Real Book, waarin 116 komposisies deur 86 plaaslike jazzkomponiste opgeneem is. Dié baanbrekerpublikasie het in Desember 2021 verskyn, en word tydens die jazzkonsert by die Suidoosterfees amptelik bekend gestel. Dit sluit nommers van inheemse jazz-genres soos kwela, ghoema, mbaqanga, sopvleis en tsaba-tsaba in. Legendariese liedjies soos die “Click Song”, “Paradise Road” en “Pata Pata” word tydens die konsert uitgevoer.

The South African Jazz Real Book vul ’n leemte in die plaaslike musiekmarkopvoeding,” sê Van Tonder, wat meegewerk het aan die publikasie en lid van die “Jika”-orkes is. “Ons het nog altyd ’n volledige versameling van bladmusiek van Suid-Afrikaanse jazz gekort, iets waarop skole en universiteite kan staatmaak om die onderrig van ons inheemse musiek te bevorder.” Ná die verskyning van die bloemlesing is dit deur verskeie universiteite voorgeskryf. Befondsing deur die National Arts Council (NAC) het die publikasie moontlik gemaak.

Jannie Hanepoot van Tonder, medesamesteller van The South African Jazz Real Book, tree by die Suidoosterfees op in “Jika” – Sounds of the SA Jazz Real Book. (Foto: Gregory Franz)

Van Tonder, wat in die tagtigerjare as lid van Johannes Kerkorrel se Gereformeerde Blues Band opslae gemaak het, se mede-orkeslid in “Jika”, die pianis George Werner, het ook meegewerk aan die bloemlesing. Hulle neem die leiding in die feesproduksie en stel vier komponiste wat in die boek opgeneem is tydens “Jika” voor: Tete Mbambisa, Hilton Schilder, Tony Cedras en Ramon Alexander.

Tete Mbambisa kom van New Brighton naby Gqeberha. Sy groep, The Soul Jazzmen, se 1969-album Inhlupeko Distress het jazz-grense verskuif. Mbambisa sal “Thembile’s Workshop” by die fees vertolk. Die trekklavierspeler Tony Cedras het 25 jaar lank die wêreld deurkruis as lid van Paul Simon se Graceland-groep. Hy speel sy liedjie “Ngena Ngena (To Move)” saam met die “Jika”-orkes.

Hilton Schilder, ’n lid van die befaamde Kaapse jazzfamilie, se meesterlike “Khoisan Symphony No. 1” is deel van die program, met Hilton self op die klavier. Pianis Ramon Alexander, ook ’n gekwalifiseerde wynmaker van Mamre aan die Weskus, is een van die nuwe geslag Kaapse jazzmusikante. Hy lewer spesiaal ’n nuwe verwerking van sy “Sons & Captains” in die feesproduksie.

Die jong sangeres Anathi Mobo het jazzopleiding aan die Universiteit van Kaapstad ontvang. Sy sal onder meer “Meditations on a lost love” uitvoer, ’n komposisie van Buddy Wells met lirieke deur Melanie Scholtz.

Die orkeslede het in hul loopbane reeds ’n enorme bydrae tot die Suid-Afrikaanse musiektoneel gelewer. George Werner is bekend vir sy gemeenskapsopvoedingsprojek, The Litte Giants, wat briljante musikante uit minderbevoorregte omgewings na die internasionale jazzverhoog begelei. Shaun Johannes en Muneeb Hermans, albei in die “Jika”-orkes, is produkte van dié inisiatief.

Die legendariese Ramon Alexander tree by die Suidoosterfees op in die jazzproduksie “Jika” – Sounds of the SA Jazz Real Book. (Foto: Gregory Franz)

Benewens Jannie Hanepoot van Tonder se berugte reputasie as lid van die Gereformeerde Blues Band, het hy in die middel-tagtigerjare vir twee jaar saam met Ntemi Piliso se oorspronklike African Jazz Pioneers getoer. Saksofoonspeler Byron Abrahams het onlangs teruggekeer uit die Midde-Ooste waar hy vir vyf jaar voltyds by luukse hotelle opgetree het. Kurt Bowers is alombekend as een van die beste jazz-tromspelers, met sy ritme gewortel in die Kaapse ghoema-tradisie.

“Jika” – Sounds of the SA Jazz Real Book is op 30 April om 17:00 en 1 Mei om 15:00 op die Suidoosterfees se Zip Zap Dome-verhoog. Kaartjies kos R125 en kan by Computicket bespreek word. Die volledige feesprogram is op www.suidoosterfees.co.za beskikbaar.

Die Suidoosterfees volg ’n inentingsbeleid, soos neergelê deur die gesondheidsowerhede ingevolge Covid-19-veiligheidsregulasies. Feesgangers sal dus elektroniese of gedrukte inentingsertifikate moet kan vertoon om toegang te kry, of bewys moet kan lewer van ’n negatiewe SARS-CoV-2-toets wat nie langer as 72 uur tevore geneem is nie.

Die Suidoosterfees word ondersteun en moontlik gemaak deur die department van sport, kuns en kultuur, die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport, Stad Kaapstad, Media24, Die Burger, NATi en kykNET.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top