Persverklaring: Inskrywings nou oop vir sesde Teksmark

  • 0

'n Toneel uit Grot (Foto: Nardus Engelbrecht)

Alle skrywers, hetsy gevestig of opkomend, het nou ’n geleentheid om hul teks-idees vir die sesde Teksmark in te dien. 

Teksmark, ’n projek van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK), ondersteun deur die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief (NATi) en die Baxterteatersentrum, word weer van 16 tot 19 November 2021 in Kaapstad aangebied. 

Tien tekste vanuit hierdie projek, wat in 2018 met ’n spesiale Fleur du Cap-prys vir innovasie in teater bekroon is, is reeds tot volwaardige produksies ontwikkel. Verder het skrywers en tekste wat tydens Teksmark die lig gesien het, ook reeds vele pryse en nominasies ingepalm. Een van die tekste is onlangs gepubliseer.

Teksmark stel ten doel om nuwe Suid-Afrikaanse verhoogtekste te ontwikkel en aan skrywers ’n geleentheid te bied om hul idees en tekste vir moontlike verdere ontwikkeling aan belangstellendes in die teaterbedryf bekend te stel. Alle skrywers, gevestig en opkomend, word genooi om deel te neem.

'n Toneel uit Al dra 'n aap 'n goue ring (Foto: Nardus Engelbrecht)

’n Aantal tekste uit die voorstelle word deur ’n onafhanklike paneel gekies, waarna dit as leesteater by Teksmark voorgelê word. Skrywers het hier die geleentheid om met verteenwoordigers van teaters, feeste, vervaardigers en ander moontlike beleggers oor hul idees te gesels. Kort uittreksels van elke teks word as leesteater met professionele regisseurs en akteurs aangebied. Die mark is oop vir enige belanghebbendes om met skrywers te onderhandel oor moontlike belegging in en/of verdere ontwikkeling van hul tekste.

Slegs Suid-Afrikaanse burgers kan voorstelle vir Teksmark indien. Hoewel teks-idees in alle genres oorweeg word, word komedie en satiriese tekste aangemoedig. Voorstelle in alle amptelike Suid-Afrikaanse tale word oorweeg, terwyl veeltalige produksies aangemoedig word. Slegs tekste wat nog nooit voorheen professioneel opgevoer is nie, word oorweeg.

'n Toneel uit Grot (Foto: Nardus Engelbrecht)

’n Volledige lys van riglyne vir voorstelle is op die KKNK se webblad by www.kknk.co.za/teksmark beskikbaar, waar voorstelle ook ingedien kan word. Die sluitingsdatum vir voorstelle is Maandag 27 September 2021 en geen laat voorstelle sal oorweeg word nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top