Hoërskole wat wil deelneem aan Artscape en die Suidoosterfees se Hoërskool Dramafees, kan nou aansoek doen. Dié gewilde fees bied jaarliks aan leerders van skooldramagroepe die geleentheid om hul talent op Kunstekaap se verhoog ten toon te stel, en die wendrama word tydens 2023 by die Suidoosterfees se NATi Jeugteaterprogram ingesluit. Pryse is ook op die spel vir die beste akteur, regisseur en skrywer, en wenner-akteurs gaan ’n gasverskyning in die kykNET-sepie Suidooster maak.
Om deel te neem moet hoërskole teen 20 Mei 2022 ’n video-uittreksel van 10 minute van hul skooldrama stuur na slu@artscape.co.za. Finaliste sal genooi word om van 15 tot 20 Augustus 2022, tydens die Hoërskool Dramafees, hul produksies wat tussen 30 en 60 minute lank moet wees, in Kunstekaap op te voer. Wenners sal daarná aangekondig word.
Deelnemers word uitgenooi om stukke in te skryf wat handel oor sosiale uitdagings waarmee leerders in vandag se lewe gekonfronteer word. Marlene le Roux, hoof- uitvoerende beampte van Artscape, sê dat die teater nog altyd die ideale plek was waar kommentaar oor belangrike kwessies gelewer kan word.

Wenners van 2021 se Hoërskool Dramafees: Zander Oberholster, Le Roux de Vos en Barnie Mans vir Neer daal die reën (Hoërskool Martin Oosthuizen); Elzaan Daniels vir Om teen treine te skree (Jan van Riebeeck Hoër); Lukhanyo Langa en Ayabonga Yantolo vir Ivili (Ihkwezi-teatergroep); en Dean Smith, een van die beoordelaars.
In 2021 is Hoërskool Martin Oosthuizen van Kakamas as kompetisiewenners van die Hoërskool Dramafees aangewys met hul produksie van Neer daal die reën. Dié toneelstuk is onlangs tydens die Suidoosterfees opgevoer. Skole wat in 2021 om dié gesogte geleentheid meegeding het, het inskrywings in Afrikaans, Engels en Xhosa gelewer. Hoërskole soos Jan van Riebeeck en die De la Bat-skool vir gehoorgestremdes in Worcester het deelgeneem.
Artscape en die Suidoosterfees plaas ’n sterk fokus op die ontwikkeling van jong talent in die kunstesektor. Volgens prof. Brian Figaji, direksievoorsitter van die fees, bied die kompetisie vir jong kunstenaars die geleentheid om eerstehandse ervaring op te doen van hoe ’n professionele teater binne die konteks van ’n kunstefees werk.
Navrae kan gerig word aan Tania Williams-Kaponda by taniaw@artscape.onmicrosoft.com.

