
Johan Myburg (Foto verskaf)
Die aangewese feesdigter vir vanjaar se Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees in Mbombela, Johan Myburg, is Woensdagaand, 26 Junie, gehuldig met musiek, kuns en dans tydens ’n funksie by die ATKV Kuns- en Boeke-oase.
Myburg het in 2020 die Hertzogprys vir poësie ontvang vir sy vierdie digbundel, Uittogboek. Sy jongste bundel, Narreskip, het in 2022 verskyn. Hy is ook bekend as kunskritikus en -kurator, eertydse kunsredakteur van Beeld en bydraer oor wêreldletterkunde vir die RSG-radioprogram Skrywers en Boeke. Hy het spesiaal vir Innibos ’n gedig geskryf rondom die tema “feesmaal” geskryf.
Dié gedig, voorgelees deur Anna Davel, is uitgebeeld in dans deur Èmil Haarhoff met musiek deur ULTRACoustic Duo bestaande uit Wilken Calitz en Dirkie van Staden. Jaco van Schalkwyk, hoogaangeskrewe skilderkunstenaar waarvan werke opgeneem is in die kunsversamelings van onder meer die Suid-Afrikaanse Reserwebank, Universiteit van Pretoria en die Pretoria Kunsmusiem, het ’n skildery geskep wat verrassend met dieselfde tema gewerk het.
Komponis Franco Prinsloo het voorts ’n speelse komposisie getoonset wat uitgevoer is deur die bariton Chris Vale en Maryke Johnson op die klavier.

Johan Myburg in gesprek met Annemarie van der Walt (Foto: N Jackson)
’n Hoogtepunt was die voorlesing deur Myburg van twee van sy gedigte wat onderskeidelik toon hoe sy werk deur onder meer musiek en visuele kuns beïnvloed word, “Verslag” (na ’n tekening deur Jeroen Bosch) uit die bundel Narreskip, en “Scherzo” (verwysend na die gelyknamige musiek deur Gustav Mahler) uit die bundel Uittogboek.
Sandra Jacobs, media- en bemarkingbestuurder van Innibos, het gesê dit is vir die kunstefees belangrik om alle vorme van kuns te omarm en te vier, en dat Myburg as feesdigter al hierdie vorme op ’n elegante en diepgaande wyse versinnebeeld.

