Persverklaring: Innibos 2022 – geen winterfees, maar heeltyd feestyd!

  • 0

Tydens ’n direksievergadering van die Innibos Kunstefees is daar vandeesweek besluit dat Innibos nie in Junie vanjaar in sy pre-Covid formaat aangebied gaan word nie. Die risiko van  ’n vyfde Covid-vlaag, wat in Mei verwag word, asook die verwagte voortgesette regulasies rakende groot byeenkomste, het hierdie besluit genoodsaak.

Mathews Phosa, voorsitter van die Innibos-direksie, sê dié besluit is geneem met inagneming van die risiko en ontwrigting vir feesgangers, kunstenaars, borge en ander rolspelers indien die fees weer, weens onvoorsiene omstandighede, afgestel moet word.

“Maar wees verseker, vir 2023 beplan ons die fees der feeste. Innibos gaan wel vanjaar, ondanks beperkinge, voort om sy mandaat as kunstefees gestand te doen. Onder die oorkoepelende tema ‘heeltyd feestyd’ sal verskeie opwindende projekte deurlopend in en om Mbombela aangebied gaan word. Ons beplan om steeds optreegeleenthede aan kunstenaars te bied, die plaaslike ekonomie te stimuleer en ’n ondersteunende en opbouende rol in die plaaslike gemeenskap te speel deur middel van eiesoortige projekte, getrou aan die aard van Innibos.”

Van die projekte wat beplan word, is onder meer verskeie musiekvertonings in genres wat strek van rock tot klassieke musiek en jazz, ’n teater-safari, ’n familiefees met talle buitelugaktiwiteite asook die sesde aanbieding van die Innibos Handwerkkuns-kompetisie.

Sandra Jacobs, media- en bemarkingsbestuurder van Innibos sê: “Vanjaar val die klem daarop om ’n wye verskeidenheid unieke ervarings vir feesliefhebbers aan te bied wat die fees steeds relevant hou en vir ondersteuners van die kunste genoeg bied om te geniet. Innibos kon, ondanks die beperkende Covid-regulasies, verlede jaar werk skep vir meer as 220 uitvoerende kunstenaars, en ons wil dit vanjaar oortref.”

Die finale datums vir die onderskeie Innibos-projekte sal teen einde Maart aangekondig word.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top