
Die digter Ingrid Jonker, wat op 19 September 1933 gebore is en nou 90 jaar oud sou wees, is die digter wat vanjaar by die 13de Tuin van Digters in Wellington gehuldig sal word.
Jonker, wat op 19 Julie 1965 oorlede is, se roerende gedigte en besondere lewe gaan op luisterryke wyse op Vrydag 13 en Saterdag 14 September by die Breytenbach Sentrum gevier word. Dit sluit in ’n dokumentêre program deur Petrovna Metelerkamp oor Jonker se lewe, dood en nalatenskap waarin die digter self ook oor haar lewe praat en van haar gedigte lees.
Terwyl Jonker met die aanbied van die fees 90 jaar oud sou wees, is dit die ideale geleentheid om haar vanjaar postuum by die samekoms van Afrikaanse digters en digkunsliefhebbers te huldig. Só sê Francois Lötter, wat vanjaar die agtste jaar die hooforganiseerder van die fees is. Digters wat al by Tuin van Digters gehuldig is, sluit in Diana Ferrus, Antjie Krog, Breyten Breytenbach, Adam Small, TT Cloete, Wilma Stockenström, Daniel Hugo en Alfred Schaffer.
Verskeie items, waaronder gesprekke en lees en sing van toonsettings van Jonker se gedigte, is Vrydag en Saterdag deel van die feesprogram in en om die digterstuin. Die res van die program bestaan oudergewoonte uit ’n verskeidenheid in woord en klank met die klem op Afrikaanse digters en digkuns. Die Ingrid Jonker-prys vir ‘n debuutbundel sal ook weer by die fees oorhandig word.
Die tema van Tuin van Digters 2024 is “saamsaam” na aanleiding van Breyten Breytenbach se woorde tydens verlede jaar se fees:
Ons is ’n weerspieëling van wat die geskiedenis van ons gemaak het… en hoe ons mekaar mismaak het met die geskiedenis as verskoning. Punt is egter: Ons gee wragtag nie toe dat ons so gemaak en laat staan is nie. Want hierdie is ’n ruimte vir hibridisering en méér: vir saam-mekaarandersmaak.
Tuin van Digters, die tuiste van die Afrikaanse digkuns, word moontlik gemaak deur Dagbreektrust se trust vir kuns, kultuur en erfenis in samewerking met NB Uitgewers.
Kaartjies kan gekoop word by Quicket by https://qkt.io/PInelB.
Kaartjies kos R100 per volwassene vir Vrydag 13 September (alle programitems ingesluit), R250 per volwassene vir Saterdag 14 September (alle programitems ingesluit), R300 per volwassene vir ’n naweekkaartjie, R100 per student vir ’n naweekkaartjie en R50 per dag vir kinders onder 16.
Die volledige program sal beskikbaar wees op die Breytenbach Sentrum se webblad https://breytenbachsentrum.co.za/.
Volg die Breytenbach Sentrum op Instagram en Facebook @breytenbachsentrum en gesels saam: #TuinVanDigters #SaamSaam #MeerDigdinkIsNodig.


