Ons skop die nuwe maand af met business as usual, maar op 11 Julie land daar ’n splinternuwe program, Die miljoenrand-idee. In dié reeks volg ons die reis van plaaslike entrepreneurs wat hul miljoenrand-idee moet voorlê aan die miljoenrand-mentors, Thys van Zyl en Riaan Grobler van Everest Wealth. As die naam van die reeks dit nog nie verklap het nie, daar’s ’n miljoen rand kontant op die spel! En dié reis is geen kortpad nie: om vir die miljoen in aanmerking te kom, moet die entrepreneurs met ’n besigheidsplan, vooruitskattings en ’n werkende voorbeeld van hul besigheidsmodel vorendag kom. Ná die siftingsproses, kies die mentors hulle “mentees” en daarna begin die harde werk. “Saam met die program se borg, Everest Wealth, wou ons ’n platform skep waar Suid-Afrika se vindingryke entrepreneurs hul besigheidsidees met ’n breër gehoor kan deel – en natuurlik die geleentheid hê om ’n welverdiende miljoenrandbelegging los te slaan.

By VIA is ons baie passievol oor entrepreneurskap so toe Everst Wealth se Thys van Zyl ons genader het met die konsep vir hierdie TV-program het ons entoesiasties ‘ja’ gesê”, sê VIA se inhoudhoof, Robert Kaden. Oor die besluit om Pieter Koen te kies as aanbieder sê Kaden, “Nes ’n entrepreneur, is Pieter Koen eenvoudig maar net ’n uitstekende all-rounder. Daar is min mense wat kan sê hulle is ’n sanger, ’n TV-aanbieder, én ’n radio-omroeper – en nog minder wat kan sê hulle kan hulle goed van hul taak kwytraak in al drie daai hoedanighede. Pieter is een van daai mense. En dan is hy boonop baie geliefd!”
Skakel elke Donderdag om 19:30 in om dié 13-weke-reis na ’n miljoen rand te volg.
Ná vier suksesvolle seisoene van kykgenot, is daar besluit om episodes van Hier sit die manne te verleng na ’n uur. Jy en Frank Rautenbach kan nou elke Saterdag vir ’n uur lank kuier in die gemak van jou huis. ’n Paar nuwe gesigte daag op in die ateljee; daar wag weekliks ’n boekklub-afspraak op die manne, en die voormalige Springbokspeler Rudy Paige is voortaan in elke episode te sien. Rudy beman die fiksheidsegment waar hy kykers gaan wys hoe om fiks te bly met sy nuttige oefensessies.

“Ek geniet Hier sit die manne, veral die feit dat ek net myself kan wees,” sê hy. “Ek hoop die mense geniet wie ek is as mens. Ek is nie fake nie, en sit ook nie aan nie.” Nes VIA, regtig egtig. Carla Mackenzie is ook terug as veldaanbieder, en kuier saam met ’n paar lekker mense. Gaste wat saamkuier sluit in die musikante Illán van Staden en Janie Bay, en sportsterre soos die Banyana Banyana-doelwagter Kaylin Swart, die Suid-Afrikaanse naelloper Geraldine Pillay, die paralimpiese kampioen Dyan Buis en soveel meer.
Kyk elke Donderdag om 17:00 en weer Woensdae om 20:00 saam.
Geborg deur Clicks.
Nóg hoogtepunte vir die maand sluit in die lekker mense wat saam met Leandie du Randt kom Gesels, en natuurlik die heerlike disse wat Herman Lensing in die kombuis optower. Die Wyfie-aktrises, Beata Bena en Mienke Ehlers, maak ’n draai in die ateljee, en een van Leandie se goeie vriende, Hanna Grobler, loer ook in.

Kyk Gesels, elke Saterdag om 18:00 en weer Maandae om 17:30.
Geborg deur Catrice.
Ons braaiers sit hulle beste voetjie voor vir hul gaste in Kom ons braai: celebs.

Nie net moet hulle hul gaste beïndruk nie, daar kom proe ook ’n paar bekendes saam. Wilhelm van der Walt, Antoinette Louw, Lizz Meiring, Liane Heyl, Amor Vittone, Neels van Jaarsveld en TikTok-tuiskokke Tietie en Nanna beoordeel hierdie maand ons braaiers se disse.
Skakel Saterdae om 20:00 in vir nuwe episodes van Kom ons braai: celebs. Met heruitsendings Dinsdae om 21:00.
Saam met Awesome tools.
- Laai hierdie persverklaring in PDF-formaat hier af.

