Persverklaring: Hierdie vyf word by die 29ste KKNK in 2025 vereer

  • 0

Marion Holm, Lee-Ann van Rooi, John Theodore en Die Heuwels Fantasties word deur die KKNK vereer, terwyl Henk Serfontein die feeskunstenaar vir 2025 is. 

Al vyf die vereerdes by die KKNK in 2025 het diep spore in die kunste getrap – twee aktrises, ’n musiekgroep, ’n musiekmeester met wortels op Oudtshoorn en ’n bekroonde visuele kunstenaar.

Die 29ste KKNK, geborg deur Absa, word van 1 tot 6 April op Oudtshoorn aangebied, met ’n spesiale openingskonsert en aandmark op 31 Maart.

Marion Holm ontvang die Kunste Onbeperk-prys vir vertolking. (Foto: verskaf)

Marion Holm ontvang die Kunste Onbeperk-prys vir vertolking. Haar bydrae tot komedie en ’n eiesoortige stand-up, asook haar werk as aktrise op die verhoog en op TV, het deur die jare oor en oor haar veelsydigheid gewys.

Sy was al te sien in meer as 60 teaterproduksies, meer as 20 TV-produksies en is ook die skrywer en regisseur van ’n magdom stukke. Behalwe vir haar solo-vertonings sluit van haar meer onlangse werk die verhoogproduksie Katvoet en TV-reekse soos Nêrens, Noord-Kaap en Trompoppie in. In 2024 is sy vir twee Silwerskermtoekennings benoem – een as beste aktrise in ’n TV-komedie vir Taktiek en een as beste vroulike byspeler in ’n drama vir Trompoppie.

“Ek is baie dankbaar vir hierdie eerbewys,” sê Holm wat in Januarie 2025 haar 60ste verjaardag vier. “Ek glo regtig nie mens kan akteurs se werk met mekaar vergelyk as hulle totaal verskillende rolle speel nie. Dis soos om ’n skaaptjop, ’n yskas en ’n peer te vergelyk. Maar ek glo in en waardeer erkenning. Daai wat die juffrou vir jou ’n goue ster gee, want jy het jou huiswerk mooi en netjies en noukeurig gedoen. Jy is raakgesien en op die skouer geklop. Ek WAARDEER dit. Mens het aansporing nodig.”

Lee-Ann van Rooi is die ontvanger van die Kunste Onbeperk Kruispunt-prys. (Foto: Nardus Engelbrecht)

Lee-Ann van Rooi is die ontvanger van die Kunste Onbeperk Kruispunt-prys. Van die begin van haar loopbaan, het Van Rooi nog nooit weggeskram van enigiets nie. Nie uitdagings, grense of haar rol as aktrise, regisseur en mentor nie. Met verskeie toekennings op haar kerfstok, rus sy nie op haar louere nie. Sy wérk. Haar fokus en dit wat sy doen word altyd aangepak met ’n groter visie om ’n bydrae tot nasiebou in Suid-Afrika te lewer. Sy neem jong spelers en skrywers onder haar vlerk en help om die storieskatkis van die land uit te bou.

Die Kruispunt-prys is vir haar ’n bewys dat sy op die regte pad is. “Mens moet altyd die ego uit die pad neem en daar wees om die storie te vertel,” sê sy. “Ek is dankbaar dat dit raakgesien word.” 

John Theodore ontvang die KKNK-prys vir diens aan die kunste. (foto: verskaf)

John Theodore ontvang die KKNK-prys vir diens aan die kunste. Theodore is ’n Oudtshoorniet in murg en been. Sy eerste musiekles was by die Holy Cross Convent op Oudtshoorn en nou, dekades later, kan hy terugkyk na ’n luisterryke loopbaan as pianis, leermeester en mentor.

Hy het ná matriek in 1973 musiek aan die Universiteit van Kaapstad gaan studeer. Dit was in ’n tyd waar hy weens apartheid spesiale vergunning moes kry om by dié universiteit te studeer, maar dit het hom nie gekeer om ’n meestersgraad te behaal nie. Hy was die ontvanger van verskeie toekennings, het in sy loopbaan op verskeie beoordelaarspanele gedien en was ook ’n eksaminator by Unisa. Jong talent het groot hoogtes onder sy leiding behaal met die bekendste die pianis Sulayman Human, ook ’n boorling van Oudtshoorn.

Theodore sê hy is van nature nie gemaklik met die kollig op hom nie, maar is tog dankbaar vir ’n eerbewys soos hierdie van die KKNK. “Ek het nog altyd alles met eerlikheid, opregtheid en lojaliteit gedoen sonder om erkenning en eer te verwag. Ek hoop hierdie eerbewys sal as aansporing vir veral my gemeenskap dien.”

Die Heuwels Fantasties ontvang die Kunste Onbeperk-prys vir innoverende denke. (Foto: verskaf)

Die Heuwels Fantasties ontvang die Kunste Onbeperk-prys vir innoverende denke. Hulle eerste album, Die Heuwels Fantasties, is in 2009 vrygestel. Die groot treffer is “Klein Tambotieboom” en in 2010 wen die groep die SAMA-toekenning in die kategorie beste Afrikaanse alternatiewe album.

Sedertdien het verskeie trefferalbums gevolg waaronder Wilder as die Wildtuin, Alles Wat Mal Is en Herverbeel. In 2024 stel hulle twee enkelspelers vry – “OG VIP” saam met wyle Jan Bloukaas en Janie Bay en ’n akoestiese weergawe van “Ek en jy” saam met Margot. Daar was deur die jare ook samewerkings met ander kunstenaars soos Laurika Rauch, Jack Parow, Coenie de Villiers en Frieda van den Heever.

Maar dit is ook elders in die musiekbedryf waar hulle hulle stempel as liedjieskrywers en vervaardigers afdruk. Pierre Greeff is die mede-stigter van Liefde by die Dam, die gewilde musiekkonserte wat die eerste keer in 2016 by Emmerentiadam in Johannesburg gehou is met Kaapstad en Windhoek wat gevolg het en Hunter Kennedy werk al geruime tyd saam met die ATKV op van hulle projekte soos hulle liedjieskryfwinkels en Taalgenoot-RUK EN RYM.

Henk Serfontein is die KKNK 2025 se feeskunstenaar. (Foto: verskaf)

Henk Serfontein is 2025 se feeskunstenaar. Hy is ’n voormalige wenner die Sasol New Signatures-kompetisie en was ook ’n inwonende kunstenaar by die Cité Internationale des Arts in Paris, asook die Piramidón Center for Contemporary Art in Barcelona, Spanje. Van sy werk is opgeneem is die permanente uitstallings van onder meer Gencor, Rand Merchant Bank, Spier en Absa.

“Ek het die KKNK die eerste keer in 1995 bygewoon en gehoop die fees sou groei en standhoudend word,” sê hy. “Die afwagting en potensiaal is uiteindelik volbring, want hier vier ons die 29ste herdenking van die fees.”

Om as feeskunstenaar gekies te word, is vir hom ’n eer en buitengewone erkenning van sy loopbaan die afgelope drie dekades. Die stomme aarde is die titel van sy uitstalling. “Dit volg op my vorige samewerkings met Wilma Stockenström. Opgeneem in die uitstalling is ’n reeks omgewingsbewuste tekeninge wat gebaseer word op die gedigte met ’n ekologiese strekking in Stockenström se eerste twee digbundels. Hierin span ek digkuns as tolk in, vir ’n reeks werke wat deelneem aan die groen gesprek. ’n Reeks klipgedigte gebaseer op haar gedig ‘Almoeder’ word ook uitgestal.”

Holm is op die verhoog in haar nuwe eenvrouvertoning, Marion Monroe. Van Rooi is in die regisseurstoel vir Marianne Thamm se komediedrama, Sonde met die spoke en Die Heuwels Fantasties is op die Feesmark-verhoog te sien.

KKNK 2025 word geborg deur Absa, met ondersteuning van die Het Jan Marais Nationale Fonds, NATi, Checkers, Netwerk24, kykNET, ATKV, Oudtshoorn Munisipaliteit en die Wes-Kaapse regering. 

Die volledige program vir die 29ste KKNK, geborg deur Absa, is aanlyn beskikbaar by kknk.co.za. Kaartjies is te koop by Webtickets of die KKNK se kantoor. Vir meer inligting, besoek kknk.co.za of kontak 044 203 8600, info@kknk.co.za of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top