Persverklaring: Hermanus FynArts 2019, ’n kuns-kaleidoskoop 

  • 0

Hermanus FynArts, ’n versmelting van kunstefees en winterskool, word vanjaar vanaf 7 tot 17 Junie aangebied en bied ’n stimulerende program van beeldende en uitvoerende kuns, musiek, kookkuns, die kuns van wynmaak en -proe, en interessante sprekers oor ’n wye reeks onderwerpe oor die kunste en aktuele aangeleenthede.

Die feesdirekteur, Mary Faure, sê:

‘Die afgelope sewe jaar het Hermanus FynArts tot ’n erkende en gerespekteerde kunsgebeurtenis op die Suid-Afrikaanse kunskalender gegroei. Vanjaar bring ons weer eens met trots kunstenaars, musici en sprekers van topgehalte om feesgangers te inspireer en te vermaak en kaartjieverkope vorder fluks.’

Vir vanjaar se fees is ’n stuk of 30 kunstentoonstellings gereël. Die feeskunstenaar is Phillemon Hlungwani, wat beskou word as een van die mees gerekende kunstenaars wat tans in Suid-Afrika werk. Daarbenewens is die immer gewilde Sculpture on the Cliffs weer deel van die fees, asook ’n tentoonstelling van die werk van die finaliste wat om die gesogte Bouchard Finlayson Art Award meeding, sowel as begeleide kunstoere, tentoonstellings op wynplase en in 16 galerye. Meer as 60 keramiek- en borduurkunstenaars sal ook van hul werk ten toon stel.

Sindiwe Magona, onderwyseres, skrywer, digter, dramaturg en vroueregte-aktivis, sal vanjaar se FynArts Legacy Award ontvang. Dit word elke jaar toegeken aan ’n kunstenaar wat ’n lang en unieke bydrae tot die kunste in Suid-Afrika en buite die landsgrense gelewer het. Sindiwe sal ook te sien wees in ander FynArts-items, waaronder ’n storievertel-werksessie vir kinders.

Meer as 20 uitvoerings bied ’n wye keuse van musiek-, dans- en teaterproduksies, van die openingskonsert, Mostly Mozart, tot Dixieland Classic Jazz, en sterbelaaide items tussenin. Dit sluit onder meer ’n konsert van Spaanse danse en musiek, ’n uitvoering deur die Kaapstadse balletgeselskap, die onvergelyklike Pieter-Dirk Uys, die opkomende ster Sima Mashazi, die pianis en koskenner Charl du Plessis, die rockster Karen Zoid, en die bekroonde akteur en komediant Alan Committie in.

In die reeks Stephan Welz-gesprekke en -aanbiedings sal 25 onderhoudende en gerespekteerde aanbieders ’n ryke verskeidenheid onderwerpe bespreek. Daaronder is ’n inleiding tot William Kentridge se Drawings for Projection, ’n bespreking oor die implikasies van die uitslag van die van die 2019-verkiesing, ’n huldeblyk aan Leonard Cohen, ’n kykie agter die skerms van ’n veilingonderneming, die krag van kunsterapie, gesprekke met verskeie skrywers van nuwe boeke, en die sogenaamde Committie of Enquiry waartydens Evita Bezuidenhout deur Alan Committie ‘ondervra’ sal word.

Vanjaar sluit die werksessies weer eens ’n hele verskeidenheid onderwerpe, van juweelontwerp, keramiek, kalligrafie, skryf- en digkuns, botaniese kuns, selfoonfotografie, die maak van soesji tot koekversiering in. Dit is enkele van die altesaam 26 werksessies wat oor halfdae of voldae sal strek.

Onder die sjefs wat aan die reeks demonstrasies in die FynArts opwip-kombuis deelneem, tel televisie-aanbieders, skrywers van kookboeke, wynmakers, ’n avonturier, ’n sjokolademaker en plaaslike Hermanus-sjefs.

Wine Plus, ’n immer gewilde reeks proeërye, gaan vanjaar riglyne verskaf oor hoe om wyn te proe en te geniet. Die vier dae se nege aanbieders, almal keldermeesters of bekroonde wynmakers, is kundiges op hul gebied. Benewens dié proeërye is daar ook middag- en aandetes op die FynArts-spyskaart.

Die volledige program en kaartjies is op hermanusfynarts.co.za beskikbaar. Kaartjies kan ook aanlyn gekoop word by webtickets.co.za of by die Toerismekantoor in die Stasiegebou op Hermanus of deur 060 957 5371 te bel.

 

Navrae by admin@hermanusfynarts.co.za

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top