Persverklaring: Gratis filmkursus vir jong Oudtshoorniete

  • 0

Chad Louw met fassiliteerder Shamiel Albertyn, Wayelin Coetzee en Julio Booysen

Die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) in samewerking met iKasi Creative Media en met die ondersteuning van die Departement van Kultuursake en Sport: Wes-Kaap en die Oudtshoorn Munisipaliteit, bied binnekort ’n gratis inleidingskursus in film en digitale media op Oudtshoorn aan. As jy op Oudtshoorn woon, tussen 18 en 35 jaar oud is, ’n matrieksertifikaat het en nie voltyds werk nie, is jy genooi!

Die kursus word van Maandag 19 tot Vrydag 23 April 2021 aangebied, en beloof ’n unieke geleentheid te wees vir die suksesvolle kandidate wat ’n basiese begrip van die film- en TV-bedryf wil opdoen. “Dié inleidingskursus is ’n uitsonderlike geleentheid, nie net vir jong Oudtshoorniete om nuwe vaardighede aan te leer nie, ons wil met die projek ook persoonlike stories uit die Klein Karoo vertel deur video’s wat met ’n selfoon of tablet opgeneem word”, sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK. Deelnemers sal meer leer oor werkgeleenthede in die bedryf, watter vaardighede nodig is vir ’n suksesvolle loopbaan, en hoe ’n filmstel werk.

Top 5, 2019 Vaardigheidsprogram in George: Jovan Maritz (Knysna), Eugene Hendricks (Oudtshoorn), Ingrid Buys (George), Banathi Mphule (Plettenberg), Siyabulela Marinana (Knysna)

iKasi Creative Media is die geesteskind van die aktrise Lika Berning. Haar vennote in dié vaardigheidsprogram is Lamise Inglis, met jare lange opleiding-ondervinding in die bedryf, en Khanya Sosibo, uitsaaier, stemkunstenaar en entrepreneur. “Die doel van iKasi Creative Media is nie net om praktiese vaardighede in digitale media na landelike gebiede te bring nie, maar ook om stories te vertel en die erfenis van gemeenskappe te deel,” sê Berning.

As jy wil deelneem, stuur ’n WhatsApp na 081 219 3526, of gaan na kknk.co.za , klik op projekte en kies iKasi-kursus. Die kursus is gratis, maar plek is beperk. Die organiseerders sal suksesvolle aansoekers kontak.

Indien jy enige hulp nodig het om aansoek te doen, kontak Shandré Harris by die KKNK-kantoor op 044 203 8600 of stuur ’n e-pos na shandre@kunste.org.za vir enige raad, invul-, afrol- of skandeerwerk, soos nodig.

Die KKNK word ondersteun deur ABSA en Media24, met verdere ondersteuning van die Het Jan Marais Nationale Fonds, die Departement van Kultuursake en Sport: Wes-Kaap, die Oudtshoorn Munisipaliteit, Business and Arts South Africa (BASA) en die Jannie Mouton Stigting. Die presidensiële stimuluspakket (stroom 1), geadministreer deur die National Arts Council (NAC) namens die nasionale Departement van Sport, Kuns en Kultuur (DSAC) ondersteun ook die KKNK in sy huidige bedrywighede.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top