Persverklaring: Gewilde Wie hyg so? in Junie terug op Staatsteaterverhoog

  • 0

In Wie hyg so? speel Natania van Heerden die rol van Rintha, en Gerben Kamper is dominee Zuurvogel (Foto’s: verskaf)

Die gewilde komedie, Wie hyg so?, gaan Pretorianers van 8 tot 26 Junie 2022 in die Staatsteater laat skater. Die stuk is uit die pen van die voormalige wenner van die Nagtegaalprys, Braam van der Vyver. Die klug word deur die Suid-Afrikaanse Staatsteater in samewerking met Left Foot Theatre Productions vervaardig.

Wanneer die skugter jeugdiaken Christoffel van Wyk ’n smeulende hygroman in ’n vervelige kerkraadsvergadering skryf, begin die poppe dans. Die hygroman kom in die visier van die vermaarde uitgewer, Beulah Bosman, meesterlik vertolk deur Hanli Rolfes. Hygromans wat deur mans geskryf word, verkoop egter nie. Maar Beulah gee nie so maklik op nie. Sy besluit om die boek, Amelia, onder die skuilnaam Venus van Wyk uit te gee, en sy kry die sepie-aktrise Aurelia Oberholzer-Anderson om vir die persona van Venus in te staan.

Alles lyk onder beheer tot Aurelia se borsvergrotingsoperasie en die gevreesde boekresensent, Rintha Roelofse, sake deurmekaar krap. Rintha krap waar dit nie jeuk nie en Christoffel vertrek saam met sy predikant, dominee Zuurvogel, na die sinodesitting in Hartenbos. Dis juis in Hartenbos waar die dominee se ware kleure na vore kom en Christoffel se probleem nuwe afmetings aanneem. Om presies te wees: 36x24x36.

Hanli Rolfes speel die rol van Beulah Bosman en Ruan Wessels is te sien as die jeugdiaken, Christoffel van Wyk (Foto’s: verskaf)

Die rol van die boekredakteur, Beulah Bosman, word deur die ervare Rolfes vertolk. Sy is gereeld op die kassie en in films te sien en was onlangs in die spanningsreeks, Spoorloos, op kykNET. Natania van Heerden, wat al as beste aktrise deur die ATKV bekroon is vir haar vertolking van Mariana in Kruispad, speel Rintha. Sy was ook onlangs in die gewilde reeks Sara se geheim. Steffie le Roux skitter as Aurelia terwyl Zelda Roelofs, wat al in verskeie sepies gespeel het en onlangs in Deurnis Digitaal beïndruk het, die rol van die ywerige gesellin Amelia vertolk.

Die gevierde akteur Gerben Kamper speel die rol van dominee Zuurvogel. Kamper, wie se loopbaan oor 49 jaar strek, was vanjaar in Binnelanders op die skerm. Onlangs het hy rolle in Die Byl en Swartwater op TV, asook in die film Klein Karoo 2, vertolk. Sy lang lys toekennings sluit ’n erepenning van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vir sy lewenslange artistieke bydrae tot die Afrikaanse teater in. Die rol van die jeugdiaken word deur die jong ster, Ruan Wessels, gespeel. Wessels, wat in Mei vanjaar ’n Naledi-toekenning as die beste jong opkomende akteur ontvang het, is ook vanjaar landswyd op die planke in die gewilde eenpersoonstuk, Plesierengel. Hy was voorheen in verskeie sepies te sien.

Die regie van die produksie word behartig deur Èmil Haarhoff en Johan van der Merwe. Albei is deel van die multi-bekroonde Deurnis-projek wat met ’n Fiësta, ’n ATKV-veertjie en kykNET se Blou stoel-toekenning vir innoverende werk spog. Haarhoff is ’n akteur, regisseur, choreograaf en IDC-gekwalifiseerde intimiteitskoördineerder wat gehore vir meer as ’n dekade lank vermaak. Èmil was onder andere te siene in die films Vaselinetjie en Clan of the Cave Bear, asook in teaterproduksies, insluitende Joseph and the Amazing Technicolor Dreamcoat, wat internasionaal getoer het, Peter Pan, Snow White, West Side Story, Deurnis: Anders, Bar(r)ok en Koekeloer. Hy is een van die stigterslede van Intimacy Practitioners South Africa, wat senraal gestaan het tot die daarstelling van die Protokol vir Intieme Inhoud vir televisie en rolprente in Suid-Afrika. Sy intimiteitskoördineering-krediete sluit Savage Beauty, Night Shift, Daryn’s Gym, Blurred Lines, The Estate en Lingashoni op Netflix in.

Van der Merwe is bekroon vir sy werk as vervaardiger. Hy was een van die opdraggewende vervaardigers van Die reuk van appels, Kamphoer en die Deurnis-projek. Hierdie produksies het verskeie pryse ingepalm.

Die klug is van 8 tot 26 Junie in die Dramateater by die Suid-Afrikaanse Staatsteater op die planke. Daar is aandvertonings om 19:30 van Woensdae tot Saterdae, en middagvertonings om 15:00 op Saterdae en Sondae.

Besprekings kan hier by Webtickets.co.za gedoen word. Kaartjies kos R130. Kaartjies vir studente, skoliere en pensionarisse kos R80 en blokbesprekings vir 50 of meer mense is R100.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top