Persverklaring: Geel jou hart vir liefde

  • 0

Jak de Priester skop die feesseisoen by die Boer Restaurantteater in Durbanville af met die konsertreeks ‘Geel Jou Hart vir Liefde’, ’n vertoning in samewerking met Tygerburger met die missie om ‘sonskyn’ te bring en terug te ploeg in ’n wêreld met baie nood!

Hierdie inisiatief het laasjaar in Pretoria by die Blou Hond-restaurantteater begin en vanjaar versprei die liefde ook na Durbanville in die Kaap om diere se nood te verlig. Ter agtergrond vertel Jak de Priester: “Desember 2017 het elke gehoorlid van ses konserte vrywillig dierekos gebring en onder die goudgeel kersbome geplaas. Teen die einde van die week se konserte was dit moontlik om vragtevol hondepille, katkos, ens. by die DBV af te laai. Die meeste dierebeskermingsorganisasies kry nie meer befondsing van die staat nie en dit bring verligting vir die organisasies, veral in ’n tyd soos Desember.”

Hierdie jaar by Die Boer-teaterrestaurant gaan ’n deel van die opbrengs van kaartjieverkope plus alle dierekos wat ingesamel word ook na die Lucky Lucy Foundation in Durbanville.

Lucky Lucy Foundation is ’n veilige hawe vir katte en honde wat sonder eie toedoen haweloos en ongewens is. Lucky Lucy se passie is vir die hopelose diere, waar die meeste 'shelters' nie meer kan help nie. Hulle fokus op ouer diere en diere met spesiale behoeftes, maar ’n kwaliteitlewe bly hul eerste prioriteit. Die organisasie word bedryf deur ’n handjievol passievolle vrywilligers. LLF doen ook opvoeding in verskeie areas om te help om verantwoordelikheid te kweek. Lucky Lucy is 100% afhanklik van ondersteuning en donasies van die publiek. Vir meer inligting of om betrokke te raak, stuur ’n e-pos aan volunteer@luckylucy.org.

Jak de Priester in sy ‘Geel Jou Hart vir Liefde’-konsert sal die jaar perfek afsluit en die gehoor op reis neem met lag en traan. Word asseblief deel van hierdie inisiatief sodat ons die ‘Geel Jou Hart vir Liefde’-inisiatief ’n jaarlikse instelling kan maak en sodoende sonskyn en liefde vir die diere kan bring.

Bring jou bure, jou ouma en jou oupa en almal wat lief is vir diere, sonskyn en musiek! En weet geel is die kleur van sonskyn!

28 / 29 / 30 November en 01 Desember – Die Boer, Durbanville

Kaartjies is R150 en beskikbaar by 021 979 1911 of aanlyn by www.dieboer.com

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top