Persverklaring: Gee jou kreatiwiteit vlerke met Teksmark

  • 0

Uitnodiging vir voorstelle van teatertekste

Teksmark is ’n KKNK-projek, in samewerking met NATi (Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief) en die Baxter-teatersentrum

Die verhoog is slaggereed om aan jou verbeelding, unieke stories, intriges, kinkels en onvergeetlike karakters vlerke te gee by die agtste Teksmark, wat van Woensdag 30 Augustus tot Vrydag 1 September 2023 in die Baxter-teatersentrum in Kaapstad aangebied word.

Of jy nou ’n gesoute of aspirant dramaturg is, hierdie uitnodiging vir voorstelle is jou kans om lewe te gee aan jou teatertekste wat nog nie op die verhoog te sien was nie, om die kollig op jou idees te fokus en hulle te laat floreer.

Teksidees word in alle genres verwelkom, met spesiale fokus op komedie, satire en kinderteater. Ons omarm die krag daarvan om lekker te lag, die impak van sosiale kommentaar en die verwondering en bekoring van jongmense se gedagtes.

Om jou teksidee voor te stel benodig jy ’n tema, storielyn, kort beskrywing van die karakters en ten minste vyf bladsye se dialoog. Die voorgestelde teks moet lank genoeg wees vir ’n optrede van ten minste tien minute. Volledige tekste word ook verwelkom, maar is nie ’n vereiste nie.

Die sluitingsdatum vir voorstelle is Maandag 3 Julie 2023 om middernag.

Sedert die ontstaan van Teksmark in 2016, is 125 tekste ingesluit as deel van dié inisiatief, met 36 teks-idees wat in volskaalse produksies ontwikkel is, waarvan verskeie bekroon is met ’n rits toekennings en pryse.

Die Teksmark-proses van begin tot einde
  1. Stuur jou teks-idees teen Maandag 3 Julie om middernag per e-pos na Daventia Kennedy by daventia@kunste.org.za.
  2. Alle tekste word deur ’n onafhanklike paneel geëvalueer, waarna verskeie tekste gekies word om by Teksmark in Kaapstad voorgelê te word.
  3. Regisseurs en akteurs word in oorleg met die skrywer en organiseerders gekies om ’n uittreksel (10 minute) uit die teks as leesteater vir verteenwoordigers van teaters, feeste, vervaardigers, ander moontlike beleggers en teaterentoesiaste op te voer.
  4. Skrywers het hier die geleentheid om hulle teks met die gehoor te bespreek en gehoorlede neem deel deur middel van vrae en terugvoer.
  5. Die mark is oop vir enigiemand wat daarin belangstel om met die skrywer te onderhandel oor moontlike verdere ontwikkeling van hulle teks.
  6. Tekste wat gekies word, word verder tot volledige verhoogtekste ontwikkel.
Kriteria vir die indien van ’n teksvoorstel vir Teksmark
  • ’n Teks-idee, temas, storielyn, kort beskrywing van karakters en minstens vyf bladsye se verloop of dialoog moet ingedien word. Volledige tekste is welkom, maar nie ’n vereiste nie. Die voorgestelde teks moet lank genoeg wees vir ’n optrede van ten minste tien minute.
  • Slegs Suid-Afrikaanse burgers kan voorstelle indien.
  • Teks-idees in alle genres word oorweeg, maar komedie, satire en teatertekste vir jeug en kinders word aangemoedig.
  • Tekste in alle amptelike Suid-Afrikaanse tale word oorweeg.
  • Veeltalige tekste word aangemoedig.
  • Slegs tekste wat nog nie vantevore professioneel opgevoer is nie word oorweeg.
  • Alle voorstelle moet ten volle ingedien word, met al die nodige dokumentasie.
  • Geen laat voorstelle word aanvaar nie en geen uitstel sal na die sluitingsdatum gegee word nie.
  • Geen handgeskrewe voorstelle word aanvaar nie – dit moet in Word- of .pdf-formaat ingedien word.

Vir meer inligting, besoek die KKNK se webblad by www.kknk.co.za/teksmark, of kontak Lizané Basson by lizane@kunste.org.za, skakel 044 203 8600 of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337.

Dien vandag jou teksvoorstel per e-pos in na Daventia Kennedy by daventia@kunste.org.za en geen jou verbeelding vlerke met jou teks in die kollig!

  • Alle foto’s geneem tydens Teksmark 2022 waar verskeie tekste as leesteater by die Baxter-teatersentrum voorgelê is. © Nardus Engelbrecht
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top