Persverklaring: Freek Robinson tree finaal uit die aktiewe joernalistiek

  • 1

Die veteraanjoernalis Freek Robinson (73) het bekend gemaak hy lê finaal die tuig neer. Die laaste van sy weeklikse aktuele Zoom-onderhoude in Reguit met Robinson is aan die einde van Oktober op LitNet geplaas. So kom ’n joernalistieke loopbaan van 50 jaar ten einde – van November 1975 tot November 2025.

“Dit is tyd,” sê hy. Dalk ’n jaar of drie vroeër as wat hy sou wou, maar onlangse rampspoedige gebeure het ’n nuwe perspektief gebring wat hom laat besluit het om halt te roep. Robinson en sy vrou, Liza de Villiers, en hul twee seuns se huis in Greenside, Johannesburg, het die nag van 4 November gedeeltelik afgebrand en is onbewoonbaar.

Hoewel hulle hoop om binnekort verblyf te kry wat vir ’n lang tydperk beskikbaar sal wees, stel die huidige nomadiese bestaan en die algehele ontwrigting enorme eise. Robinson is ook etlike jare gelede met Parkinson se siekte gediagnoseer, ’n toestand wat hy saam met sy dokters en met behulp van medikasie en ’n gesonde leefstyl ten beste bestuur.

Robinson glo hy het met sy deurleefde ervaring van die land se geskiedenis en sy blootstelling aan die koerantwese, radio en televisie ’n sinvolle bydrae gelewer in die bevordering van openbare dialoog.

Hy hoop om in die toekoms ’n paar reise te onderneem om bande met vriende en familie te versterk.

In die besonder wil hy dankie sê aan derduisende kykers, luisteraars en lesers vir dekades se ondersteuning en bereidwilligheid om hul stories met hom te deel. Selfs nou nog sal mense hom voorkeer om te groet en praatjies te maak.

As ’n nuusverbruiker wat wyd lees en belang stel in wat in die wêreld aangaan, sal dit altyd deel wees van hom. Oor nuus en aktuele gebeure gesels hy graag, maar sy pad met Parkinson se siekte beskou hy as ’n private kwessie waaroor hy nie wil uitwei nie. “Dit gaan goed met my. Ek stap nie soveel as wat ek wil en moet nie, maar ek glo in die nuwe jaar sal ons sodanig ingeburger wees dat daar meer orde sal wees.”

Sy gesondheid en die welstand van sy gesin is nou sy grootste prioriteite.

Kyk en lees ook:

Is Afrikaners slagoffers?

Op die man af – Freek Robinson lig die sluier oor ’n vol, opwindende lewe

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top