Die Foxwoodfees vier in Oktober sy 11de jaarlikse Oktober-aanbieding van die werk van Suid-Afrikaanse kunstenaars. Die fees vind 24 Oktober tot 2 November 2025 in Johannesburg plaas.
Met ’n verdere aksentverskuiwing van kommersiële werk na werk wat gekies word op grond van artistieke meriete, bied die Foxwoodfees ’n paar dae van unieke teateropvoerings en visuele kuns in Johannesburg aan.
In Johannesburg is daar min geleentheid vir teatergangers om opvoerings van Afrikaanse werk op die verhoog te ervaar. Tesame met musiek en visuele kuns, bied die Foxwoodfees ’n rare geleentheid vir Johannesburgse teaterliefhebbers om Afrikaanse verhoogwerk te geniet.
So skep die Foxwoodfees ’n forum vir die werk van kunstenaars wat dikwels nie die geleentheid kry om hulle kreatiwiteit vrye teuels te gee en werk aan te bied wat kuns en die meriete van kuns vier pleks van kommersiële standaarde.
Vanjaar vier ons die ervarings van Suid-Afrikaners met werk wat spesifiek deur Suid-Afrikaners vir Suid-Afrikaners geskep is en wie se ervarings by dié tema pas: Kruger, Pierneef en die outobiografiese werk van Jan Groenewald wat Richard van der Westhuizen briljant gestalte gee.
Die internasionale prestasies van die kunstenaars is nie ter sprake nie maar internasionale erkenning is dikwels die resultaat van werk wat ’n samelewing ryk aan menslike ervarings weerspieël.
So bied die Foxwoodfees ’n verhoog vir Afrikaanse en Suid-Afrikaanse kultuur. Die fees het met rasse skrede gegroei te danke aan die ondersteuning van die Dagbreek- en die LW Hiemstra-trust.
As beskermheer open Ton Vosloo die eerste Foxwoodfees 11 jaar gelede.
Daar is baie hoogtepunte maar ’n paar kan uitgelig word:
- Die LW Hiemstra-trust borg blou-blou waarin Erik Holm sy eie verhaal vertel. Die teks is geskryf deur Jan Groenewald gegrond op inligting uit onderhoude met Erik en ’n artistieke interpretasie wat Erik sy eie gemaak het. Jan was ook die regisseur.
Hierdie solostuk word by verskeie die feeste opgevoer en ontvang ook ’n Naledi-toekenning.
- Die Hiemstra-trust borg ook Pruimboom. By die Woordfees in 2016 kry Groenewald ’n uitnodiging na die Edinburgh Fringe Festival. Die stuk word vertaal deur Clive Rodel met regie deur Godfrey Johnson.
- Deborah Steinmair se Plant vir my ’n boom, André oor die verhouding tussen André Brink en Ingrid Jonker word met welslae opgevoer.
- Die Afrikaanse digkuns van die Israelse digter Olga Kirsch is as’t ware herontdek ná die aanbieding van haar gedigte by die jaarlikse Foxwoodfees, voorgelees deur Sandra Prinsloo.
Die SA Akademie-toekenning aan Jan Groenewald en Pieter de Vos vir ’n TV-teks het gelei tot ’n aanbieding van Emily Hobhouse deur Fiona Ramsay by Foxwood House, en ’n oplewing van belangstelling in die lewe van dié merkwaardige vrou.
Dit is net ’n paar voorbeelde van geslaagde opvoerings wat deur en vir die Foxwoodfees geskep is.
Met die finansiële steun van die Hiemstra-trust is boekrakke gebou om belangrike werk wat deel was van professor Elize Botha se akademiese biblioteek hier te bewaar. Die biblioteek is geskep in een van die vertrekke van die ou herehuis.
Die Foxwoodfees staan vir ’n kulturele ervaring as viering van Afrikaans as ’n belangrike en toonaangewende deel van die Suid-Afrikaanse kultuur.


