
Die viertal agter “Buurvrou” is Beer Adriaanse, Nienke Geldenhuys, Luca Geldenhuys en Carla Smith (foto: ©Adam Heyns)
Akteurspaar Carla Smith en Beer Adriaanse, en hul vriende, broer en suster Nienke en Luka Geldenhuys, bring hul nuwe Afrikaanse folkgroep, Buurvrou, Vrydagaand na die Tuin van Digters-fees by die Breytenbach Sentrum op Wellington. Hulle beloof om hul eie, aardse liedjies te vermeng met voorlesings van bekende, gewilde en selfs vergete gedigte.
Hul optrede vind in die ATKV Akkoordtent plaas, ’n klipgooi weg van die Sentrum se Digterstuin vol poësie en lenteblomme – en die inspirasie agter die fees se naam.
Die konsep agter Buurvrou het hoeka in ’n ander groen spasie uitgebroei – die Tuine-woonbuurt in die Kaap. Dis waar Carla en Beer al geruime tyd woon, en Nienke ’n jaar of wat gelede hul buurvrou geword het. Carla en die Geldenhuyse ken mekaar al van hul kinderdae in Durbanville af. Daarom was oor-en-weer kuiers gou aan die orde van die dag/nag – en dikwels was musiek saam maak deel van die pakkie. Einde verlede jaar het Beer en Luka begin saamspeel, aanvanklik vir die pret.
“Toe besef ons dat ons twee wonderlike sangers tot ons beskikking het. Dit het bietjie oortuiging gekos, maar toe Carla en Nienke instem was dit asof die legkaart dadelik in plek geval het,” vertel Beer. “Oor hoekom dit spesifiek ons vier moet wees kan ons bloot sê dis ’n gevoel en tans eer ons daai gevoel.”
Na ’n eerste optrede by ’n vriend se kunsmark einde verlede jaar het die groep reeds vier akoestiese video’s op YouTube bekend gestel, met “Universiteit” die mees onlangse. Die viertal skryf om die beurt die musiek vir “Buurvrou”.
“Hoe dit gewoonlik werk is dat iemand met ’n raamwerk of ’n idee opdaag, en dan takel ons dit saam grond toe,” vertel Beer, ’n bekende gesig op die kassie, ’n eertydse lid van die band Zinkplaat en tans te sien in die nuwe kinderfliek “Silas en die ysbeer op Tafelberg”. Carla speel tans in die fliek “Landmyn”, wat net soos “Silas” heelwat toekennings by die onlangse Silwerskermfees gewen het. Nienke bedryf nienkaapstad.com, ’n aanlynplatform vir handgemaakte “kooigoed” en “sitgoed”, of te wel beddegoed en kussingsoortreksels, en Luka is 'n sagteware-ontwikkelaar.
Oor hul optrede Vrydagaand by die Tuin van Digters, en die byvoeging van spesifieke gedigte daarmee saam, sê Beer: “Goeie gedigte is soos om na ’n baie deftige restaurant toe te gaan en ’n klomp tapas te eet wat een lekkerder as die vorige een proe, en jou smaakkliere se grense verskuif. Behalwe dit voed nie jou maag nie, maar jou siel. As ’n nuwe groep wat liedjies probeer skryf is dit geweldig inspirerend om te sien hoe baie ’n enkele gedig kan kommunikeer, en op hoeveel vlakke.
Hy sê hulle is in die saamstel van die program telkens getref deur die misterie agter poësie, asook die toewyding wat nodig is om aan te hou skaaf tot net die ’waarste’ woorde oorbly.
- “Buurvrou en die gawe gedigte van langsaan” gebeur op Vrydag 11 September 2026 om 21:00 in die ATKV Akkoordtent.
Dit word om 20:00 voorafgegaan deur “Gewone woorde”, waarin Laurinda Hofmeyr nuwe toonsettings van gedigte sal sing, met begeleiding deur Kevin Gibson en Schalk Joubert.
Saterdag 12 September se musikale hoogtepunte sluit in:
- Mense-mense, 14:15: Die ATKV Taalgenoot Ruk-en-Rym-wenner Magé Troskie se liedjies en stories sal vermeng word deur voorlesings van bekende mens-gedigte deur aktrise en skrywer Miché van Wyk.
- Oopmond + oopkop: Nuwe woorde en musiek word daar en dan geskep deur ’n span digters en musikante. Vanjaar se musikante is Hanru Niemand en Deon Meiring, met Danie Marais, Toast Coetzer, Anna-Bet Stemmet, Andries de Beer en Churchill Naude wat as digters hul spoed met woorde sal oefen. Henry Cloete tree as skeidsregter op.
- Laataand: Nick Turner, Jannie “Hanepoot” van Tonder en kie sal die musiek maak vir die afsluitingspartytjie.
Vir die volledige Tuin van Digters-program, besoek www.breytenbachsentrum.co.za, of koop kaartjies op Quicket.
Lees ook:
Persverklaring: Diana Ferrus se invloed met aanbieding by Tuin van Digters 2026 onthou

