Persverklaring: Diana Ferrus se invloed met aanbieding by Tuin van Digters 2026 onthou

  • 0

Diana Ferrus en Theresa Carstens by verlede jaar se Tuin van Digters (Foto verskaf)

Een digter se stoel sal merkbaar leeg wees by vanjaar se Tuin van Digters-poësiefees van die Breytenbach Sentrum op 11 en 12 September: dié van Diana Ferrus, wie vroeër vanjaar oorlede is. Sy sal egter op dié Wellingtonse fees onthou word in “Die stoel langsaan”, ’n verweefde poëtiese ervaring wat deur die Mengelmoesdigters aangebied word.

Dié kollektief van digters van regoor die Boland het oor die jare net so ’n instelling by die Fees soos Ferrus self geword. Hulle het hul ontstaan by die Breytenbach Sentrum gehad onder haar skeppende leiding, en tree sedertdien gereeld by feeste om hul digkuns voor te dra. Onder die bekende name uit hul geledere is Gaireyah Fredericks wat in 2025 die Eugene Marais-prys en die UJ-prys vir haar boek Een voet innie kabr gewen het.

’Die stoel langsaan’ beloof om ’n verweefde ervaring eerder as ’n reeks afsonderlike voorlesings te wees waar stemme mekaar ontmoet, aanvul en dra. Dis nie slegs ’n huldeblyk nie, maar ’n poëtiese ondersoek na teenwoordigheid binne afwesigheid,” vertel Merle Danhouse, namens die Mengelmoesdigters.

Diana Ferrus se invloed as digter en skrywersmentor is in 2023 by die Tuin van Digters gehuldig.

Vanjaar is dit digter, romansier en resensent Joan Hambidge se beurt. Haar oeuvre sluit meer as 40 publikasies is. As deel van die huldingsprogram word “Amberkamer” op Vrydag 11 September, die einste dag waarop sy haar 70ste verjaarsdag vier, om 19:00 by die Fees aangebied. Karen de Wet, samesteller van die versamelbundel “Amberkamer”, sal in gesprek tree oor Hambidge se werk, terwyl Laurinda Hofmeyr toonsettings van enkele gedigte sal sing, en Nina Swart voorlesings sal doen.

Nog ’n vrou wat die rolle van beide digter en opvoeder oor die jare vol gestaan het, is Lina Spies. In die “Onthou is die dag wat breek” sal Alwyn Roux en Neil Cochrane met Bibi Slippers oor die gelyknamige bundel gesels wat hulle vanjaar met haar in gedagte saamgestel het.

Slippers sê hul gesprek sal onder meer wentel rondom herinnering en voortsetting, en die spesifieke menslikheid van Spies soos dit in haar werk verwoord word.

“Van die digters wie se werk in die bundel opgeneem is, sal ook hul bydraes voorlees,” verklap Slippers, wat ook programsamesteller van vanjaar se Tuin van Digters is.

  • Onthou is die dag wat breek - Vrydag 11 September om 17:00 tot 17:75 in die ATKV Akkoordtent
  • Amberkamer: Joan Hambidge – Vrydag 11 September om 19:00 – 19:45 in die ATKV Akkoordtent
  • Die stoel langsaan – Saterdag 12 September om 11:00 tot 11:45 in die ATKV Akkoordtent

Kaartjies

Tuin van Digters vind by die Breytenbach Sentrum, Burgerstraat 14, Wellington, plaas. Die program word aangebied in die ATKV Akkoordtent, die Woordtent, die Digterstuin, die Breytenbach Galery en ander ruimtes op die terrein.

’n Dagkaartjie sluit alle programitems op die betrokke dag in. ’n Kaartjie vir Vrydag 11 September gee dus toegang tot die volledige Vrydagprogram, terwyl ’n kaartjie vir Saterdag 12 September toegang tot die volledige Saterdagprogram gee. ’n Naweekpas sluit die volledige program op albei dae in.

Kaartjies kos R100 per volwassene vir Vrydag, R250 per volwassene vir Saterdag en R300 per volwassene vir ’n naweekpas. Studenten met ’n geldige studentekaart betaal R100 vir ’n naweekpas. Kinders onder 16 betaal R50 per dag. Opbetaalde lede van PEN Afrikaans kry gratis toegang.

Kaartjies is beskikbaar via Quicket. Die volledige program is beskikbaar op die Breytenbach Sentrum se webwerf en sosiale media. Die program is onderhewig aan verandering.

Tuin van Digters 2026
11 en 12 September 2026
Breytenbach Sentrum, Wellington

Hier is die program van die Tuin van Digtersfees 2026.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top