
Die seisoen skop af met ’n opwindende en besige naweek, met optredes deur die Juliet-strykkwartet (2 Aug) en die US Koor (3 Aug). Foto: verskaf
Die US Departement Musiek is verheug om die begin van die Tweede Seisoen van die Endler-konsertreeks, wat strek van 2 Augustus tot 7 Desember, aan te kondig, na die geweldige sukses van hierdie jaar se eerste seisoen.
Die seisoen skop af met ’n opwindende en besige naweek, met optredes deur die SAMA-genomineerde Juliet-strykkwartet (2 Aug), en die wêreldberoemde US Koor (3 Aug). Die Musiek Departement geniet ook ’n mylpaal wanneer die US Kamerkoor sy tiende bestaansjaar vier met ’n spesiale optrede by die Hugo Lambrechts Ouditorium in Parow op Sondag 4 Augustus onder leiding van Lunathi Ncamani en Martin Berger.
Die Juliet-strykkwartet wat die reeks op Vrydag 2 Augustus sal open met hul konsert getiteld, Something Old Something New, se program sal werke van Haydn, Dvořak en die wêreldpremière van ’n werk insluit wat spesifiek vir hierdie konsert deur die Suid-Afrikaanse komponis, Franco Prinsloo, geskryf is.
Die werk bestaan uit vyf kort, liriese transkripsies van melodieë in kontrasterende style. Die kwartetlede sluit tans in dr Annien Shaw (viool) en dr Babette Roosenschoon (tjello) van die Universiteit Stellenbosch Musiekdepartement, en Matthew Stead (viool) wat die mede-beginsel tweede viool van die Kaapstadse Filharmoniese Orkes is. Remi Ludick sluit vir oulaas by hulle aan op altviool, voordat hy sy studie in Ierland gaan voortsit.
Die Juliet-strykkwartet het ’n lang geskiedenis van samewerking met plaaslike komponiste gehad. Die kwartet, wat in 2014 gestig is, het nog altyd daarna gestreef om ten minste een Suid-Afrikaanse komposisie per program in te sluit, om nie net plaaslike komponiste te ondersteun nie, maar ook gehoorlede te inspireer om dieselfde te doen.
Hul 2023-album, Maike, het bestaan uit ’n keur van werke deur sulke komponiste, met wie die kwartet goeie werksverhoudings gevorm het. Die album het vir hulle ’n SAMA-nominasie besorg.
Annien Shaw, violis in die kwartet verduidelik: "Dit was by die SAMA-toekennings waar ek vir Franco Prinsloo, die wenner van die Beste Klassieke Album-kategorie, 2023 ontmoet het. Ons het wedersydse bewondering vir mekaar se werk gehad en besluit op die aand om in die nabye toekoms saam te werk. Dit is hoe Prinlsoo se werk uiteindelik vir hierdie spesifieke uitvoering gekomponeer is. Ons is baie opgewonde om Stringsongs op die Endler-verhoog te première."
Op 23 Aug debuteer n uiters unieke konsert, Paranoid Android: Pierrot Lunaire and other psychedelic trips met: Magdalene Minnaar (sang), José Dias (klavier), Petrus Coetzee (viool, altviool), Peter Martens (tjello), Gabriele von Dürckheim (ffluit, piccolo) en Féroll-Jon Davids (klarinet, basklarinet), wat die gaping tussen klassieke en kontemporêre genres oorbrug, en wat ’n psigedeliese ouditiewe avontuur beloof. Die program sluit in Schoenberg se Pierrot Lunaire, die ikoniese toonsetting vir kamer-ensemble van Albert Giraud se 21 gedigte oor Pierrot, die maansiek nar, verlore in ’n surrealistiese landskap van liefde, waansin en verlange. Ander werke sluit in Guillaume Connesson se samesmelting van klassieke tradisie met die polsende ritmes van tegnomusiek, in Techno-Parade. Die rockgroep Radiohead word gevier in ’n opdrag-verwerking deur Matthijs van Dijk van hul treffer, Paranoid Android. Luisteraars sal ook na deur die oer-oue kletiese klanke van Ierland in Frank Martin se Trio on Irish Folk Tunes vervoer word, wat aan die gewilde Pirates of the Caribbeanklankbane herinner. Hierdie konsert, wat die grense van klassieke musiek uitstrek, beloof ’n lewenskragtige musikale ervaring deur die prisma van virtuose kamermusiek.
Die Reeks is ook trots om ’n inspirerende samewerking tussen die US Departement Musiek en die Centre for Social Justice uit te lig in ’n spesiale konsertoptrede deur die Palissander kamerkoor op 31 Augustus, ter ondersteuning van #Action4Inclusion. Onder leiding van geëerde advokaat en kampvegter vir sosiale geregtigheid, Prof Thuli Madonsela, is die #Action4Inclusionmassabefondsings-inisiatief ’n sleutelkomponent van die Universiteit se Bridge the Gap-jaarfonds en ’n top prioriteit vir die US. Die #Action4Inclusion Palissander-konsert is die begin van ’n ambisieuse initiatief wat streef om fondse in te samel vir behoeftige studente.
Bo en behalwe gereelde konserte van topgehalte van uiteenlopende genres soos kamer- en koormusiek, orkes- en big banduitvoerings asook jazz en Afrika-musiek, is daar ’n paar spesiale, eenmalige konserte op die spyskaart vir die res van die jaar wat nie misgeloop mag word nie:
Die Symphonic Bridges: An International Youth Orchestra Performance met die Stellenbosch Jeugorkes, Weskus Jeugorkes en die Waverley Ensemble (UK) onder leiding van internationale dirigent, Alexander Walker op 6 Aug, is die afsluitingskonsert van die Internasionale Jeugorkesbrugprojek (IYOB) toer - die IYOB-projek bring jong musikante (ouderdomme 13-18) van die VK, VSA, Australië en Suid-Afrika byeen in orkesuitvoerings by verskeie lokale regoor die Wes-Kaap.
Die Universiteit Stellenbosch Simfonie Orkes (USSO) is ook trots om op 6 September onder leiding van die Suid-Afrikaans gebore, internasionaal gevierde dirigent en kontrabasspeler, Leon Bosch op te tree.
Nog so ’n eenmalige hoogtepunt is ’n spesiale konsert ter viering van die legendariese dirigent, Richard Cock se 75ste verjaardag op 27 Oktober in Songs of Praise: Richard Cock 75th Birthday Celebration.
Opwindende simposiums en kompetisies vind ook vanjaar by die US Konservatorium plaas, soos die Simposium van Suid-Afrikaanse Komponiste (SoSAC) 9-13 September, wat blootstelling en geleenthede aan Suid-Afrikaanse komponiste en uitvoergeleentheid aan nuwe plaaslike musiek bied en die Stellenbosch Universiteit Nasionale Ensemble-kompetisie (21 Sept) sowel as die welbekende Hubert van der Spuy (16 – 20 Sept) - en Nasionale Jeug Musiekkompetisies (2-7 Desember) wat vanjaar vir die eerste maal by die Endlersaal sal plaasvind.
Konserte wat in Augustus plaasvind is reeds by Webtickets beskikbaar. Inligting oor kaartjieverkope vir verdere konserte sal op die US Konservatorium se sosiale media platforms bekend gemaak word.
Die volledige Augustus-kalender
2 Aug – Juliet Strykkwartet: Something Old Something New
met: Annien Shaw, Matthew Stead (viool), Remi Ludick (altviool), Babette Roosenschoon (tjello)
Besiel deur ’n gedeelde liefde en entoesiasme vir kamermusiek van die hoogste gehalte, het vier Kaapstad-gebaseerde instrumentaliste hul ervaring en passie saamgespan in die Juliet-strykkwartet. Die kwartet, wat in 2014 gestig is, se huidige lede is die violiste Annien Shaw en Matthew Stead, die altviolis Remi Ludick en die tjellis Babette Roosenschoon. Die uitvoering sal werke van Haydn, Dvořàk, en die wêreldpremière van ’n nuwe werk van Franco Prinsloo, ’n opdragwerk vir hierdie uitvoering, insluit.
3 Aug – US Koor onder leiding van André van der Merwe
Die US Koor is een van Suid-Afrika se mees prysbekroonde kulturele skatte. Die wêreld se gehore word bekoor deur die energie, talent en musikaliteit van hierdie studentekoor. Hierdie program bring kultuurskatte van reg oor die wêreld na die Endlerverhoog. Gehore kan hulle regmaak vir ’n program propvol nuwe koorkomposisies en -verwerkings, met nuwe a cappella-weergawes van onder meer The Crossing (Johnny Clegg) en Blou (André Swiegers), asook verwerkings van Kasar mie la gaji (Die aarde is moeg) van Alberto Grau en Balleilakka - ’n nuwe weergawe van die gewilde lied uit die Indiese lokettreffer The Boss.
4 Aug – US Kamerkoor onder leiding van Lunathi Ncamani & Martin Berger
Die Universiteit Stellenbosch Kamerkoor is in 2014 deur Dr Martin Berger gestig, en vanjaar is die koor se 10de bestaansjaar. Die USKK gaan werke van ’n verskeidenheid van komponiste uitvoer, oud en nuut sowel as plaaslik en uit die buiteland, waaronder Os Justi (Anton Bruckner), Loof die Here (Pieter van der Westhuizen), Gebed aan die Nuwe Maan (Hendrik Hofmeyr), ’n Paternoster vir Suid-Afrika (Antoni Schonken), asook Song en Arirang (Kim Shin). ’n Verskeidenheid verwerkings van tradisionele Afrika-liedere sal ook uitgevoer word onder leiding van Lunathi Ncamani. Kom geniet ’n viering van eenheid deur beeldskone musiek – beide tydloos en relevant vir ons tyd.
6 Aug - Symphonic Bridges: An International Youth Orchestra Performance
Gaan op ’n onvergelykbare musikale reis saam met dirigent Alexander Walker, wat die talente van die Stellenbosch Jeugorkes en Weskus Jeugorkes, sowel as besoekende jong musikante uit Engeland, die VSA en Australië lei. Hulle span saam om ’n kulturele tapisserie van simfoniese meesterstukke te weef, wat Afrika-ritmes met klassieke klanke vermeng. Een van die programhoogtepunte is die première van The Future is in Africa deur die SA komponis, Malcolm Dedman, wat in opdrag vir hierdie International Youth Bridges Orchestra-toergeskryf is. Moenie hierdie finale toeroptrede misloop nie, waarin die kapasiteit van musiek om te verenig en te inspireer gevier word, en wat ’n onvergeetlike aand van simfoniese glans beloof.
16 Aug – US / UCT Klavier-uitruil: Clazz
Na die sukses van die afgelope twee-en-twintig jaar, span die Universiteit Stellenbosch Klavierafdeling weer kragte saam met dié van die Universiteit van Kaapstad se South African College of Music vir hul jaarlikseKlavier-uitruilkonsert. Die 2024-program bevat werke wat jazz en klassieke style vermeng, in ’n samesmelting wat deur die SA komponis, en klassieke- en jazzpianis Surendran Reddy, as sy unieke komposisiestyl - 'clazz', gedoop is. Gehore kan ’n verwefing van klassiek en jazz, asook mbaqanga, mbira en verder populêre musiek verwag.
17 Aug – iiNceba zoMdali: Angilelanga
met: Ncebakazi Mnukwana (hoofsang, uhadi, umrhubhe, hand-perkussie), Lungiswa Plaatjies (sang, uhadi, dodo harp, hand-perkussie), Mkhokheli Kim Masala (marimba, cajón, sang), Bongani Nikelo (baskitaar, sang)
Na ’n optrede as deel van Constellations by Spier in 2022, het die regisseur Brett Bailey van Third World Bunfight Ncebakazi Mnukwana genooi om saam met ’n ensemble by die Spier Harvest Festival 2023 op te tree. Mnukwana het die uitsonderlike musikant en verwerker, Lungiswa Plaatjies van Langa, Kaapstad, genader om die ensemble iiNceba zoMdali te stig. Kim Masala, ’n marimba- en perkussiespeler, en Bongani Nikelo, ’n Afro-Jazz elektriese baskitaarspeler, het by die ensemble aangesluit, met Mnukwana wat die tradisionele en inheemse musiekrepertorium saamstel. Kom geniet eklektiese Afrika-musiek wat spreek tot ons Pan-Afrikaanse tradisies, wat inheemse musiekinstrumente soos uhadi, umrhubhe, dodo harp, nyungwe nyungwe, marimba en kayomba insluit.
23 Aug - Paranoid Android: Pierrot Lunaire and other psychedelic trips
Reis saam met Pierrot se Twilight Ensemblena ’n wêreld van vars perspektiewe wat die gaping tussen klassieke en kontemporêre genres oorbrug, en wat ’n psigedeliese ouditiewe avontuur beloof. Die program sluit in Schoenberg se Pierrot Lunaire, die ikoniese toonsetting vir kamer-ensemble van Albert Giraud se 21 gedigte oor Pierrot, die maansiek nar, verlore in ’n surrealistiese landskap van liefde, waansin en verlange. Ander werke sluit in Guillaume Connesson se samesmelting van klassieke tradisie met die polsende ritmes van tegnomusiek, in Techno-Parade. Die rockgroep Radiohead word gevier in ’n opdrag-verwerking deur Matthijs van Dijk van hul treffer, Paranoid Android. Luisteraars sal ook na deur die oer-oue kletiese klanke van Ierland in Frank Martin se Trio on Irish Folk Tunes vervoer word, wat aan die gewilde Pirates of the Caribbeanklankbane herinner.
Hierdie konsert, wat die grense van klassieke musiek uitstrek, beloof ’n lewenskragtige musikale ervaring deur die prisma van virtuose kamermusiek.
30 Aug – US Sangafdeling: Opera Gala
Die Universiteit Stellenbosch Sangafdelingbied weer hierdie jaar hul gewilde "Opera Gala" aan op 30 Augustus. Die program sluit bekende arias en ensembles uit geliefde operas soos Bizet se Carmen, Le Nozze di Figaro en Don Giovanni van Mozart, asook La Bohème van Puccini in. Kore uit operas soos Verdi se Nabucco, I Pagliacci van Leoncavallo en Die Zauberflöte van Mozart word ook uitgevoer, om die indrukwekkende stemme van die afdeling se jong sangers ten toon te stel.
31 Aug - #Action4Inclusion Palissander-konsert
Sluit by ons aan vir ’n spesiale musiekkonsert deur die Palissander-koor ter ondersteuning van #Action4Inclusion, gelei deur gewaardeerde advokaat en maatskaplike geregtigheid-kampioen, prof Thuli Madonsela. Die #Action4Inclusion skarebefondsingsinisiatief is ’n sleutelkomponent van die Universiteit se Bridge the Gap-jaarfonds, en ’n topprioriteit vir die US. Dit is ’n deurslaggewende stap om studenteskuld te beëindig en studente se potensiaal te ontsluit, wat hulle in staat stel om aktief by te dra tot ons land se ontwikkeling.
Die Palissander-koor, een van Suid-Afrika se voorste kamerkore, het homself gevestig as ’n ambassadeur vir hoop en vrede in beide plaaslike en oorsese gemeenskappe. Vir meer as 30 jaar maak hulle ’n impak op mense se lewens deur musiek. Sluit by ons aan om ’n verskil te maak en toegang tot opvoeding vir almal te verseker.

