Persverklaring: Elsa Joubert se Spertyd met Sandra Prinsloo by die Atterburyteater

  • 0

Spertyd is in die grendeltyd ontwikkel, en het onder die Aardklop-vaandel by Die Boer in Kaapstad geopen. Na slegs hierdie een speelvak is Prinsloo genomineer vir ’n Fiësta-toekenning as beste aktrise. Spertyd is ’n reis deur die kontinent van die ouderdom:

My lewe is nou ’n doodloopstraat. My dogter sê: Ma, mens bly nooit in ’n doodloopstraat nie. Jy draai om, ry terug en kry ’n nuwe koers. Dit klink baie dapper, maar ek is nie meer dapper nie.

So eerlik en onsentimenteel skryf die bekroonde Elsa Joubert oor die oudwordproses. Prinsloo volg haar vorige kragtige eenvrouvertonings (Kamphoer – die verhaal van Susan Nell, Oskar en die pienk tannie) op in hierdie werk wat inspireer en ontroer, maar ook vertroos.

Joubert is op 14 Junie 2020 te midde van die Covid-pandemie oorlede. Kort voor haar afsterwe het sy die teksverwerking gelees, en was sy opgewonde oor Prinsloo se vertolking van haar lewensverhaal. Die karakter kyk op 95-jarige ouderdom terug na haar vol lewe, vanaf haar kinderjare, haar huwelik, tot waar sy tans as weduwee in ’n aftreeoord woon. Die herinneringe daag bloot op, soos wat herinneringe maar doen. Alle Suid-Afrikaners kan aanklank vind by hierdie intieme introspektiewe verhaal met sy universele kwessies. Sy vertel oor die oudwordproses, waarmee elke mens en sy of haar gesin onvermydelik gekonfronteer word. Dit bied ’n helder insig in hierdie merkwaardige skrywer se lewensbeskouing, en nooi ten slotte die gehoor uit om diep na te dink oor sy of haar bestaan.

Philip Rademeyer – notas as skrywer en regisseur:

Die eerste lees van Spertyd het my diep geraak – nie net die insigte wat Elsa Joubert oor ’n verskeidenheid onderwerpe lewer nie, maar veral die eerlike en weerlose manier waarmee sy met intieme temas soos oudword, die dood en verlies omgaan. Spertyd is meesleurend, beeldskoon, hartverskeurend en soms ook regtig snaaks. Ek het dadelik ingestem om deel te wees van die projek. Die temas en atmosfeer van die stuk pas goed by die tipe teater wat ek skep, en dis iets wat regtig my oë oopmaak oor dinge wat ek (as relatiewe jongmens) as vanselfsprekend aanvaar: beweeglikheid, geheue, die sintuie, kommunikasie. Om die projek te doen is ook ’n kans om op my eie baie klein manier hulde te bring aan een van Suid-Afrika se grootste skrywers. Ek wou boonop baie graag saam met Sandra aan ’n eenvroustuk werk. Om een tot een met haar te werk en sáám met haar lewe te bring aan die storie is ’n wonderlike geleentheid. Verder wou ek myself as skrywer uitdaag: om ’n nie-fiksie boek te verwerk tot ’n teaterstuk – iets wat ek nog nooit vantevore gedoen het nie. Ons is tans besig met repetisies, en dis baie opwindend om die woorde van die bladsy af te lig en die stuk te laat léwe, om die oomblikke tussen die woorde te vind. Een van die deurlopende temas van Spertyd is die waarde van medemenslikheid en deernis – dis ’n gevoel wat ons tydens repetisies ervaar en verhoog toe bring!

Spertyd-programinligting:

Met: Sandra Prinsloo
Teksverwerking en regie: Philip Rademeyer, na die roman deur Elsa Joubert
Klankbaan: Simon Kohler
Verhoogbestuur: Jeanne Steenkamp
Vervaardig deur: Margit Meyer-Rödenbeck en Alexa Strachan
Ondersteun deur: Aardklop, NATi, LW Hiemstra Trust, Clemengold, RSG
Ouderdomsbeperking: Ouerbegeleiding

Kaartjies:

Beskikbaar by https://allevents.in/lynnwood/spertyd-met-sandra-prinsloo/200020850747219 vir die volgende vertonings:

Dinsdag 20 April 20:00 (R250)
Woensdag 21 April 10:00 (R200)
Woensdag 21 April 20:00 (R250)
Donderdag 22 April 20:00 (R250)
Vrydag 23 April 20:00 (R250)
Saterdag 24 April 15:00 (R200)
Saterdag 24 April 20:00 (R250)
Sondag 25 April 14:00 (R200)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top