
Foto van Geon Nel: Leslie van Wyk
Die Afrikaanse teater neem oor by die Baxter in November met drie uitsonderlike produksies waarna gehore kan uitsien. ’n Trio van plesier met Frank Opperman se Ek wens, ek wens, Nico Scheepers se Nêrens, Noord-Kaap na die groot sukses van die reeks op kykNET, gevolg deur hul sustersproduksie, Amper, Vrystaat. Met Nêrens, Noord-Kaap kan jy uitsien na drie broers op die verhoog, soos gespeel in die reeks deur Albert Pretorius, De Klerk Oelofse en Geon Nel. Met Amper, Vrystaat is dit 3 dinamiese vrouens wat voor vat en welbekend met Antoinette Louw, Cintaine Schutte en Milan Murray.
Ek wens, ek wens, gebaseer op roman van Zirk van den Berg, verwerking en regie deur Philip Rademeyer met Frank Opperman
Ek wens, ek wens is ’n fabelagtige verhaal oor Seb, ’n lykbesorger wat ’n grys, eenvoudige en ongelukkige bestaan lei. Sy lewe is een van roetine en kleinighede, en hy sien lankal nie meer die wonder en grootsheid van die lewe raak nie. Tot hy eendag ’n engelagtige seuntjie, Gawie, ontmoet. Die magiese gevolge van hierdie ontmoeting noop Seb om te vra: As ek net een wens het, waarvoor sal ek wens? ’n Ander werk, ’n klomp geld, beter verhoudings met die mense om my? Wat is vir my belangrik? Wat wil ek die graagste in my lewe hê?
“Hierdie produksie is enige teaterganger se droom. Maar Opperman se spel beïndruk die meeste. Die toonaard waarin hy praat, al die bewegings. Alles so perfek uitgewerk. Dat jy sal lag, is gewis, maar dit bevat ’n ongelooflike erns. Want terwyl jy Opperman sy fyn vakmanskap perfek sien uitvoer, wonder jy oor die lewe. En hoe later hoe kwater. En die pragtige slotsin laat jou verder dink. Daar is baie te vertel, maar dis moeilik om nie die aap uit die mou te laat nie. So gaan kyk eerder self. Dié stuk verdien dit.” AJ Opperman – Netwerk24
Zirk van den Berg se sprokie vir grootmense is bekroon met die WA Hofmeyer- sowel as die kykNET-Rapport prys.
Ek wens, ek wens is as Aardklop Nasionale Kunstefees 2021 se beste produksie bekroon, en Frank Opperman het ook die toekenning ontvang vir beste akteur vir sy kragtoer in hierdie eenmanvertoning. Die produksie is ook met groot sukses in 2022 aangebied tydens die KKNK, Suidooster- en Kalfiefeeste, asook by die Atterbury- en Drostdy-teaters.
Nêrens, Noord-Kaap deur Nico Scheepers met Albert Pretorius, De Klerk Oelofse en Geon Nel
Kaapse kykers wat die kykNET-reeks Nêrens, Noord-Kaap geniet het, kan nou uitsien na die teaterproduksie waar alles begin het. Waarvandaan kom al hierdie karakters wat in almal se harte gekruip het tydens die reeks wat in 2021 uitgesaai is.
Frans, Andries en Ronnie het mekaar jare laas gesien. Nou moet die broers terugkeer na hul geboorteplaas, Nêrens, vir ’n verjaarsdagbraai vir hul pa wat 60 word. Hulle is gewone mense met al hulle liefde en haat en soeke na die broederskap wat hulle verloor het. Na uitverkoopte speelvakke by Woordfees, KKNK en Aardklop - is hierdie skreeusnaakse en hartroerende produksie terug by Die Baxter.
Toekennings: Beste Nasionale Debuut-produksie - VRYSTAATKUNSTEFEES 2018 kykNet Fiësta 2018: Beste Duo of Ensemble (Wenner) KykNet Fiësta 2018: Beste Akteur - De Klerk Oelofse (Nominasie) KykNet Fiësta 2018: Beste Nuutgeskepte Afrikaanse Teks - Nico Scheepers (Nominasie) WoordTROfees 2018: Beste Speler - De Klerk Oelofse (Nominasie) WoordTROfees 2018: Beste Regisseur - Nico Scheepers (Nominasie) WoordTROfees 2018: Beste Teaterstuk (Nominasie) KKNK KANNA Toekenning 2018: Beste Regisseur - Nico Scheepers (Nominasie) KKNK KANNA Toekenning 2018: Beste Akteur - Geon Nel & De Klerk Oelofse (Nominasie) KKNK KANNA Toekenning 2018: Beste Teateraanbieding (Nominasie)
“As regisseur en dramaturg het Scheepers ’n onberispelike vermoë om die energie op die verhoog te manipuleer om die gehoor deurgaans vasgenael te hou. Die een oomblik skaterlag jy, dan spreek hy skielik tot die siel en dwing jou tot introspeksie.” - Andrea Winckler (Kritiek)
“Die ensemble laat kykers eers krul van die lag, en dan duik vir die snesies.” - Marchelle van Zyl (Kalahari Nuus) “Die teks is so knap ontwikkel en geskryf dat elke noot van ’n broer tot die simfoniese geheel bydra en die spanning onderling en oorhoofs op soortgelyke trant tot ’n treffende klimaks ophou.” - Marina Griebenow (Ink)
Amper, Vrystaat deur Nico Scheepers met Antoinette Louw, Cintaine Schutte en Milan Murray
Die sustersproduksie van Nêrens, Noord-Kaap is ook terug op die planke na uitverkoopte optredes in Durbanville vroeër die jaar.
“Mense sê die Vrystaat is waar geheime die emmer skop, waar die aarde so plat is jy sien jou toekoms as jy 'n windpomp klim . . . Drie vervreemde susters ontmoet vir Ma se begrafnis in Amper, 'n dorpie duskant nêrens. Daarby het die vreemde omstandighede rondom hulle ma se dood die hele kontrei aan die gons . . .”
Amper, Vrystaat is ’n komedie met hart. ’n Storie met waarheid wat elke mens raak. Daarby het elke mens het ’n geheim . . .
Die produksie ontvang Beste Debuutproduksie by die Vrystaat Kunstefees 2015, vyf Fiësta-nominasies in 2016 (en wen die Fiësta vir Beste Teaterontwerp), ’n ATKVeertjie-benoeming vir Beste Nuwe Afrikaanse Teks in 2016, asook Beste Produksie by Aardklop 2016.
Alle besprekings via webtickets.
Indien jy belangstel in ’n teaterpakket vir al 3 produksies kontak: Marie Vogts: 071 965 2870/info@marievogts.com
R180/R100 (Pensionarisse)
Ek wens, ek wens
Met: Frank Opperman
Teksverwerking, ontwerp en regie: Philip Rademeyer, na die roman deur Zirk van den Berg
Ondersteun deur: NATi, AK21, Aardklop nasionale kunstefees
Taal: Afrikaaans
Ouerbegeleiding: 0/13 (Taal)
Tydsduur: 75 minute
Datums: 15 - 19 November om 19h00
Nêrens, Noord-Kaap
Met: Albert Pretorius, De Klerk Oelofse en Geon Nel
Teks en Regie: Nico Scheepers
Taal: Afrikaans
Ouerbegeleiding: Geen o/16 (Taal)
Tydsduur: 75min
Datums:
19 November om 15h00
20 November om 15h00
22 November om 19h00
24 November om 19h00
26 November om 19h00
Amper, Vrystaat
Met: Antoinette Louw, Milan Murray en Cintaine Schutte.
Regie & ontwerp: Nico Scheepers
Teks: Die geselskap.
Taal: Afrikaans
Ouerbegeleiding: o/16 (Taal)
Tydsduur: 75 min
Datums:
23 November om 19h00
25 November om 19h00
26 November om 15h00
27 November om 15h00

