Persverklaring: Eerste Teksmark vir Johannesburg in November

  • 0

Verloren, Teksmark 2023 (Foto: Nardus Engelbrecht)

Teksmark, die KKNK se bekroonde teaterteksontwikkelingsprojek, word binnekort vir die eerste keer in Johannesburg aangebied.

Dié projek, ondersteun deur die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi), skep vir opkomende en gevestigde skrywers ’n geleentheid om hulle teks-idees vir moontlik verdere ontwikkeling voor te lê.

“Ons het vanaf die begin van Teksmark, wat sedert 2016 jaarliks by die Baxter-teaterkompleks in Kaapstad aangebied is, versoeke van feeste, teaters en gehoorlede wat in die Noorde van die land woon, vir ’n Teksmark in hulle omgewing ontvang. Dit is vir ons ’n groot voorreg om danksy finansiële ondersteuning van NATi se direksie, die eerste Teksmark Joburg in November 2023 aan te bied.” Só sê Cornelia Faasen, uitvoerende hoof van NATi.

“Teksmark het begin as ’n eksperiment en oor die afgelope agt jaar ’n instelling in Kaapstad geword, as gevolg van wonderlike vennote in die Baxter-teaterkompleks en NATi. 36 uitstaande tekste en bekroonde produksies is reeds uit dié projek ontwikkel. Daar was reeds verskeie opwindende uitvloeisels uit die projek, waaronder Teksmark Oudtshoorn en ’n internasionale weergawe, Tekstmarkt, met verskeie Nederlandse vennote. Dit is hoogtyd dat ons die projek uitbrei na Johannesburg en ons is opgewonde oor die eerste weergawe in Gauteng, wat moontlik gemaak word deur NATi en aangebied word in Houghton se Foxwoord-teater,” sê Hugo Theart, uitvoerende hoof en artistieke direkteur van die KKNK.

Teksmark Joburg vind op Vrydag 3 November en Saterdag 4 November by die Foxwood-teater in Houghton, Johannesburg plaas. Bywoning is gratis, maar dit is belangrik om vooraf op die KKNK se webblad te registreer vir sessies wat bygewoon word, aangesien spasie in die teater beperk is. 

Dryfhout, Teksmark 2023 (Foto: Nardus Engelbrecht)

Uittreksels uit 13 nuwe tekste, deur 14 skrywers, is by Teksmark Joburg te sien. Dié tekste en hulle skrywers is: And ... Action! deur Jane Mpholo, A Street Taxi Named Desiree deur Obett Motaung, Dance of the Rain Lion deur Fabian Rainers, Die hysbak deur Johann Smith, Die spreekkamer deur Almero Welgemoed & Pietie Beyers, Don’t Believe Word I Say deur Tankiso Mamabolo, Ek sal jou leer om die melk te deel deur Lwanda Sindaphi (vertaal deur Pieter Odendaal), Forte deur Pierre-Andre Viviers, Koebaai, ou Koba! deur Nico Luwes, Laaitie mettie biscuits deur Christo Davids, Medepligtig deur Wentzel Lombard, Op die hoek van Styx en River is Nora per abuis met die dood oorgeslaan deur Henque Heymans en The Crimson Code deur D.J. Kruger.

Elke skrywer het by Teksmark Joburg ’n geleentheid om oor hul teks-idee vir ’n teaterproduksie te gesels en dit aan potensiële beleggers voor te lê. Daarna word ’n uittreksel van tien minute as leesteater opgevoer, waarna die vloer oopgestel word vir vrae en verdere bespreking van die teks tussen die skrywer, betrokkenes en die gehoor.

Ken jy vir Dewie, Teksmark 2023 (Foto: Nardus Engelbrecht)

Uittreksels word deur meer as 28 spelers opgevoer, waaronder Tobie Cronjé, Elzabé Zietsman, Lizz Meiring, Henriëtta Gryffenberg, Heidi Molentze, Stephren Saayman, Anele Situlweni, Ryno Hattingh, Peter Terry, Rina Nienaber, Pietie Beyers, Maude Sandham, Rika Sennet, Wilhelm van der Walt, Gretha Brazelle en David Viviers. Regie word deur 14 regisseurs hanteer, insluitend Alby Michaels, Christo Davids, Mercy Kannemeyer, Nico Luwes, Jade Bowers en Toni Morkel.

Teksmark Joburg is ’n KKNK-projek, moontlik gemaak deur NATi, ondersteun deur die Foxwood-teater, ATKV en Vrystaat Kunstefees, in samewerking met die Feesteforum.

Meer as 100 tekste is vanjaar vir oorweging ingedien,  en met die insae van ’n onafhanklike evalueringspaneel, is 18 tekste by Teksmark in die Baxter-teater in Augustus voorgelê en ’n verdere 13 tekste gekies om by Teksmark Joburg voor te lê.

Vir meer inligting oor Teksmark Joburg kontak die KKNK-kantoor per e-pos by info@kunste.org.za, telefonies by 044 203 8600 of via WhatsApp by 065 285 2337 of besoek www.kknk.co.za.

Die 28ste KKNK word van Saterdag 23 tot Sondag 31 Maart 2024 op Oudtshoorn aangebied. Vir meer inligting oor dié fees, hou die KKNK se sosiale media dop, besoek www.kknk.co.za of kontak 044 203 8600, stuur ’n e-pos na info@kknk.co.za of ’n WhatsApp na 065 285 2337.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top