Persverklaring: Droomwerk as leesteater in Kaapstad aangebied

  • 0

Petrus droom oor sy voorouers in ’n hospitaal vir geestesiekes: sy stammoeder, Diana van Madagaskar, wat op die seebodem terugloop huis toe; sy oupa Piet, ’n apartheidsenator, herleef sy toesprake op sy doodsbed. Kan Petrus versoening in sy familie bring, of is hy te siek om te onderskei tussen werklikheid en droom?

’n Voorsmaak van die digter Pieter Odendaal se teaterstuk, Droomwerk, wat laasjaar met ’n ATKV-Woordveertjie vir beste nuwe dramateks bekroon is, word op Saterdag 19 November om 13:00 in die Avalon Ouditorium in Kaapstad opgevoer. Bywoning is gratis, maar bespreking noodsaaklik.

Uittreksels uit die teks – wat bekroon is selfs sonder dat dit opgevoer is – sal as leesteater aangebied word. Die twee veelbekroonde Kaapse regisseurs Kanya Viljoen en Lwanda Sindaphi hanteer gesamentlik die ontwerp en regie, en die rolverdeling lees ewe indrukwekkend: Ben Albertyn, Jill Levenberg, Noluthando Mili, Johann Nel en Johann Vermaak

Droomwerk is gebaseer op Odendaal se verkenning van sy herkoms as 'n wit Afrikaanssprekende man met slawe voorouers. Die hoofkarakters is losweg gebasseer op die skrywer, sy oupa (’n apartheidsenator in die 1970s) en sy stammoeder, Diana van Madagaskar, wat in die laat 17de eeu as slavin na die Kaap gebring is.

Odendaal is ’n digter, dramaturg, vertaler en samesteller. Sy debuutbundel, asof geen berge ooit hier gewoon het nie (Tafelberg), is in 2019 met die Ingrid Jonker-prys bekroon. Hy was vroeër die uitvoerende direkteur van InZync Poetry op Stellenbosch en het onlangs sy doktorsgraad in kreatiewe skryfkuns aan die Queensland University of Technology in Brisbane behaal. Hy doseer tans Skryfkuns by NWU in Potchefstroom.

Lwanda Sindaphi is ’n veelbekroonde en gepubliseerde dramaturg, teaterregisseur en digter, gebaseer in Kaapstad. Hy het ’n honneursgraad in Teksskryf by UCT verwerf en ’n sertifikaat in Fisieke Teater van die Magnet Teater. Sindaphi se teaterwerk as akteur en regisseur het hom al na Europa, die Midde Ooste en Mauritius geneem. Sy werk vir die verhoog sluit in KUDU, wat gedurende 2018 drie Fleur du Cap toekennings ontvang het, asook Songs of this Soil, wat hom ‘n toekenning vir beste dramaturg losgeslaan het tydens die National Arts Council Trade Fair.

Kanya Viljoen is ’n skrywer, regisseur, film- en teatermaker, ook van Kaapstad. Sy het haar Meestersgraad aan die Universiteit van Kaapstad voltooi as deel van Andrew W Mellon se projek, Re- Imagining the Tragedy from Africa and the Global South. Kanya se projekte sluit in RAAK (2017), Like Hamlet (2018), mank (2018), Die Skrif is Aan die Muur (2018–2020), Jessie, die Man en die Maan (2019) en Op die Hoek van die Sesde straat (2020). Sy het ook pas haar eerste kortfilm as medeskrywer en -regisseur voltooi. Die film, ekstasis, is reeds deur internasionale filmfeeste gekeur en het by die New Renaissance Film Festival in Nederland vir haar ’n toekenning as beste mederegisseur losgeslaan.

Droomwerk as leesteater begin om 1nm op Saterdag 19 November en word met ’n glas Saronsberg-vonkelwyn aangebied. Daar sal ook na die tyd geleentheid wees om die akteurs en kreatiewe span te ontmoet. Die projek word moontlik gemaak deur die National Arts Council en die NWU.

Bespreek jou gratis sitplek per e-pos aan Marí Stimie by maristimie@gmail.com.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top