
Die WAT se jaarlikse Nuutskeppingskompetisie vind vanjaar weer tydens die Toyota US Woordfees in samewerking met Monitor op RSG plaas.
U kan nou reeds u inskrywings stuur aan wat@sun.ac.za, met “Nuutskepping” in die onderwerpveld. Inskrywings vir vanjaar se kompetisie sluit op Dinsdag 10 Oktober om 12:00.
Vanaf Maandag 9 Oktober sal daar elke dag in Monitor aangekondig word vir watter drie inskrywings daar gestem kan word, ten einde die drie dagwenners en algehele wenner te bepaal. Die algehele wenner word op Vrydag 13 Oktober aangekondig. Die ATKV is weer die borg van ’n R500-kontantprys vir elk van die dagwenners en vier nagte in ’n ATKV-oord vir die algehele wenner.
Die nuutskeppings moet verkieslik woorde wees wat ’n nuwe verskynsel op ’n treffende manier beskryf of wat ’n alternatief vir ontoereikende bestaande woorde bied. Dit moet dus ’n voorstel vir ’n woord wees waaraan daar ’n behoefte in Afrikaans is. Die nuutskeppings hoef nie te rym of te allitereer nie.
Stuur jou nuutskeppings NOU na wat@sun.ac.za!

Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal het vanjaar weer ’n stalletjie by die Toyota US Woordfees. Kom ondersteun ons deur ’n woord te borg of te koop!
Ons nooi u ook graag uit na ’n gratis paneelbespreking op Donderdag 12 Oktober om 15:30 in Die Khaya:
| Die WAT by ’n T-aansluiting: ’n Toekomsblik Die WAT se jongste letter, T, het pas slegs aanlyn verskyn. Wat is die toekomsplanne onderweg na Z en daarna? Phillip Louw, Alet Cloete en André du Plessis gesels met Naomi Bruwer oor watter rigting die Woordeboek van die Afrikaanse Taal by hierdie T-aansluiting gaan inslaan. |

