Persvrystelling: Die Stellenbosch Universiteitskoor is op pad na Londen, Wallis en die Wêreldkoorspele in Tshwane

  • 0

Die internasionaal bekroonde US Koor vertrek 29 Junie op ’n konserttoer wat hulle via Londen en Wallis na die 2018 Wêreldkoorspele in Tshwane sal neem.

Die toer skop 1 Julie af met ’n konsert in die opgeknapte, pas heropende Purcell Room in die Southbank Centre – die grootste kuns-en-kultuursentrum in Europa.

Van Londen reis die koor via Bath na Wallis waar hulle van 5 tot 8 Julie aan die prestige-ryke Llangollen Internasionale Musiek-eisteddfod sal deelneem. Hierdie fees lok jaarliks tot 50 000 besoekers en ongeveer 4 000 deelnemers, waaronder 150 kore, van dwarsoor die wêreld. Die US Koor is saam met slegs drie ander kore genooi om voor ’n gehoor van 2 000 aan die International Celebration Concert deel te neem waarmee die Llangollen-eisteddfod open. Dié konsert word op Britse TV uitgesaai. Die US Koor sal ook deel wees van die kleurryke sogenaamde International Parade deur Llangollen waarin al die deelnemende kore as verteenwoordigers van hul land deur die stad stap. Die hoogtepunt van die Llangollen-eisteddfod is die Choir of the World-konsertreeks waarna die beste koor by dié fees aangewys word. Die US Koor ding in drie kategorieë mee – Youth Choirs (Jeugkore), Mixed Choirs (Gemengde kore) en Open Choirs (Oop kore).

Vanaf Wallis keer die koor terug na Suid-Afrika vir die 2018 Wêreldkoorspele in Tshwane waaraan meer as 300 kore van oor die wêreld deelneem. Die US Koor is genooi om as demonstrasiekoor by die Koorspele op te tree. Omdat André van der Merwe, die dirigent van die US Koor, die voorsitter van die Wêreldkoorspele se artistieke komitee is, mag die koor nie aan dié kompetisie deelneem nie. Kaartjies vir die US Koor se Celebration Concert by die Koorspele in die Universiteitsoord op 12 Julie is deur Nutickets beskikbaar: http://wcg.nutickets.co.za/2018SA

Die US Koor was die afgelope vyf jaar nommer een op Interkultur se ranglys van 1 000 internasionale kore, maar André van der Merwe beklemtoon dat dit nooit om wen en verloor gaan nie:

“Daar is vir my en die koorlede met hierdie toer niks ‘op die spel’ nie. My koorlede weet die uitslag van ’n kompetisie – wen of verloor – mag nie bepaal wie jy is nie. Ons is hier vir die musiek. Ons neem deel aan ’n kompetisie om ons eie standaarde uit te daag en om die musiek op die mooiste manier moontlik uit te voer. Die res is ’n bonus.”

’n Koortoer soos hierdie is ’n groot geleentheid, sê Van der Merwe:

“Vir enige kunstenaar is dit belangrik om sy werk op die internasionale verhoog uit te voer. Dis ’n wonderlike groeigeleentheid om te sien hoe jou kultuur-eie funksioneer binne ’n internasionale konteks. Ons sing interessante musiek en ek is nuuskierig om te sien hoe gehore op die musiek gaan reageer.

“Die US Koor gaan blootgestel word aan internasionale kore wat aan die voorpunt van hul kuns is. Ons gaan deel én leer! En ek is opgewonde om te wys kore dra wesenlik tot nasiebou in ons land by.”

Van der Merwe sê hy sien baie uit na die konsert in die Purcell Room, Southbank Centre, in Londen op 1 Julie: “Dit beloof om ’n besonderse ervaring te wees en heelwat Matie-alumni gaan teenwoordig wees.”

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top