
Vorige Talentsoektog-deelnemers: Ashton Rass, Chandre Matthee, Darryn Peterson, Pieter-Jans Durr en Saskia Dominique McDilling
Die Suidoosterfees se Talentsoektog-kompetisie bied vanjaar weer die geleentheid aan amateurkunstenaars om hul talent aan die wêreld bekend te stel. Dié gewilde kompetisie word moontlik gemaak deur dotsure.co.za, en Allison Hendricks van die Kaapse dansskool in Athlone, Dance for All, is die dryfveer agter die projek.

Die Talentsoektog is oop vir deelnemers van 5 tot 35 jaar oud wat in die Wes-Kaap woon, en hulle kan deelneem in vier kategorieë: dans, sang, komedie en instrumentale musiek. Gekeurde finaliste kry die geleentheid om deel te neem aan mentorskapprogramme en professionele werkswinkels wat gelei word deur bedryfskenners.
Deelnemers wat na die eindronde deurdring, gaan tydens vanjaar se Suidoosterfees in Kaapstad optree, waar die wenners aangewys sal word. Hierdie geleentheid voor ’n feespubliek bied waardevolle blootstelling, help om selfvertroue te bou en plaas jong kunstenaars op die radar van talentsoekers en rolspelers in die bedryf.
Daar is opwindende pryse op die spel. Die wenner ontvang R10 000, die naaswenner R3 000 en daar is R1 500 vir die kandidaat wat derde eindig. Die algehele wenner sal ook genooi word om in ’n Suidoosterfees-produksie in 2027 op te tree, terwyl ’n belowende danser moontlik ’n voltydse beurs by Dance for All kan ontvang.
Allison Hendricks, uitvoerende hoof en artistieke direkteur van Dance for All, sê: “Die Dance for All-opleidingsprogram sluit ’n beurs ter waarde van R12 000 per jaar in vir studente wat voltyds wil studeer, of ’n hernubare deeltydse plek, onderhewig aan voorwaardes. Die program bied hoëgehalte-dansopleiding en holistiese lewensvaardigheidsopleiding. Op dié manier versterk ons studente se selfvertroue, ontwikkel hul danstalent en stel ons hulle bloot aan loopbaangeleenthede.”
Mense wat wil inskryf moet suidoosterfees.com besoek en die aanlyn aansoekvorm voltooi, of hierdie skakel gebruik. Aansoeke moet in die vorm van ’n video van maksimum drie minute ingedien word. Die kompetisie is oop vir deelnemers in die Wes-Kaap, en hulle is self verantwoordelik vir vervoer na werkswinkels en optredes.
Deelnemers moet ook kennis neem van die volgende belangrike datums: Aansoeke sluit op 10 April 2026, finaliste word op 13 April aangekondig, en die eerste werkswinkel met finaliste vind op 18 April van 10:00 tot 16:00 by Dance for All plaas. Die Talentsoektog se finale ronde word op 3 Mei om 17:00 tydens die Suidoosterfees in Kaapstad aangebied.
Vir enige navrae oor die kompetisie, kontak asseblief vir Allison Hendricks by allison@danceforall.co.za of 073 192 2763.

Die Talentsoektog word moontlik gemaak deur dotsure.co.za en word aangebied in vennootskap met Dance for All, People’s Post, City Vision en TygerBurger. Die hoofborge van die Suidoosterfees is die Wes-Kaapse regering en die provinsie se Departement van Kultuursake en Sport, Stad Kaapstad, Netwerk24, Die Burger, NATi, kykNET, die ATKV en Kunstekaap.

