Persverklaring: Dié skrywers haal die 2025 Stellenbosch Woordfeeskortverhaalbundel

  • 0

Drie-en-twintig verhale is gekies vir publikasie in die tiende Stellenbosch Woordfeeskortverhaalbundel. Dit sluit in kortverhale van die bekroonde digters Jolyn Phillips en Lynthia Julius, wie se suster Sisca Julius ook die bundel gehaal het.

“Elke jaar lees ek en my medekeurders, Valda Jansen en Marius Swart, die ongeveer vyftig verhale op die kortlys met groot afwagting. Met watter temas het die skrywers vanjaar vorendag gekom? Gaan die inskrywings weer so goed wees soos die vorige jaar? En die antwoord is ja, soveel so dat dit moeilik was om tussen al die kandidate te kies. Hiermee ons hartlike gelukwense aan elkeen van die 23 skrywers wat die bundel gehaal het, en ’n groot dankie aan elkeen wat die moeite gedoen het om in te skryf. Ons waardeer julle harde werk!” sê Suzette Myburgh, sameroeper van die keurpaneel.

Die bundeltitel is altyd dieselfde as die Stellenbosch Woordfees-tema. Vanjaar is dit Deel, wat aansluit by die fees se viering van 25 jaar van stories, kuns, kultuur en uitdrukking.

“Stories is die hartklop van die Woordfees, wat begin het as ’n deurnagviering van Afrikaanse woordkuns in 2000. Die EasyEquities Skrywersfees is steeds die hart van die fees, wat tot een van die grootste kunstefeeste op die vasteland gegroei het. Met dié kompetisie lok ons jaar op jaar meer topskrywers en die gehalte van vanjaar se inskrywings spreek tot die groot spronge wat ons in tien jaar met die kompetisie gemaak het,” sê Saartjie Botha, direkteur van die Stellenbosch Woordfees.

Vanjaar se kompetisie het 329 inskrywings gelok. Die algehele wenner sal by die bundelbekendstelling by vanjaar se Stellenbosch Woordfees aangekondig word. Die wenner kry altesaam R30 000 met die komplimente van EasyEquities, wat sedert 2022 die fees ondersteun as naamborg van die EasyEquities Skrywersfees. Elke skrywer wat in die bundel opgeneem word ontvang R5 000, asook ’n

EasyEquities-beleggingsrekening met R500 om te belê.

“By EasyEquities is ons trots om hierdie jaar weer eens die naamgewer en borg van die Skrywersfees te wees. Ons doen dit omdat ons glo stories maak saak. En dat skrywers onontbeerlik is vir ’n samelewing wat wil groei. Om te skryf is om betekenis te gee. Om te lees is om ander se wêrelde te betree. En om stories te deel is om iets mensliks, iets kragtigs oor te dra – iets wat tyd, plek, selfs taal kan oorskry,” sê Carel Nolte, bemarkingshoof by EasyEquities. “By EasyEquities help ons mense om hul eie finansiële stories te skryf. Stories van insig, van selfvertroue, van moontlikhede. Stories wat begin met ’n klein belegging, ’n eerste stap, en dan stadig maar seker momentum kry. Maar sonder verbeelding, sonder taal, sonder storievertellers – sou niks daarvan moontlik wees nie. Geniet die gesprekke, die boekrakke, die uitdagings en die mooi. En mag jy, terwyl jy hier is, geïnspireer word om jou eie storie verder te skryf.”

Ook PEN Afrikaans het vanjaar geld geskenk om die publikasie van die bundel moontlik te maak.

Die skrywers wat in die 2025 Stellenbosch Woordfeeskortverhaalbundel opgeneem word, in alfabetiese volgorde, is:

  • Anna-Bet Stemmet
  • Daneel Jantjies
  • Daniël Lötter
  • Donovan Greeff
  • Frederik de Jager
  • Gerrit Rautenbach
  • Herman Jonker
  • Ivor Swartz
  • Jaco van der Merwe
  • Jan Vermeulen
  • Johann de Waal
  • Jolyn Phillips
  • Krischka Strydom
  • Lynthia Julius
  • Madeleen Welman
  • Marelize Marais
  • Marliza van den Berg
  • Mercia S Burger
  • Petro van Deventer
  • Rentia Weber
  • Sandy Schoeman
  • Sisca Julius
  • Tarina Jordaan
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top