
Sandra Prinsloo, Dawid Minnaar en Ludwig Binge in Die moeder (Foto: Nardus Engelbrecht; met toestemming gebruik)
Met Die moeder keer die gevierde regisseur van rolprente soos Kanarie en Poppie Nongena, Christiaan Olwagen, terug na sy eerste liefde – die teater.
Die moeder (oorspronklik The Mother) is ’n boeiende portret van leënessindroom deur die bekroonde dramaturg Florian Zeller, wat ook The Father geskryf het. Die rolprentweergawe van The Father het Oscars vir beste akteur (Anthony Hopkins) en beste draaiboekverwerking gewen.
Olwagen het Die moeder, wat by die 2022- Toyota US Woordfees debuteer het, vertaal en die gebeure na ’n eietydse Suid-Afrika verplaas. Volgens Netwerk24 se nasionale kunsredakteur, Laetitia Pople, is hierdie verskuiwing so herkenbaar dat dit net sowel hier kon afspeel.
Op haar blog, De Beer Necessities, skryf die gesoute teaterresensent Diane de Beer dat hoewel Christiaan Olwagen se sukses as fliekregisseur merkwaardig is, dit altyd sy teaterwerk is wat haar die meeste beïndruk: “Dit voel asof dit ’n medium is wat hy geweldig goed verstaan, waarin hy tuis voel en manjifiek aan sy visie gestalte kan gee.”

Sandra Prinsloo, Ludwig Binge en Ashley de Lange in Die moeder (Foto: Nardus Engelbrecht; met toestemming gebruik)
Sandra Prinsloo speel die rol van Anna wat nie kan vrede maak met die gewaarwording dat haar moederskap verby is nie. Anna se kinders het grootgeword en het lewens en liefdes van hul eie. Van ure alleen deurbring, begin die wêreld om haar kantel. Het haar man regtig ’n verhouding? Het haar gunstelingseun werklik huis toe gekom? Of het die eensaamheid Anna tot waansin gedryf?
“Prinsloo kruip onder jou en haar karakter se vel in met ’n vertolking wat alles oortref wat sy tot dusver gedoen het (en sy het al baie groot rolle uitstekend gespeel),” meen Diane de Beer.
Die res van die rolverdeling bestaan uit Dawid Minnaar, Ludwig Binge en Ashley de Lange.
“Binge, Prinsloo, Olwagen en sy tegniese span dans ’n teaterdans wat nog lank onthou sal word. ’n Dans van onvergeetlike vergetelheid,” skryf Machelle van Zyl in INK.
“Elke ma gaan met Die moeder identifiseer ... ’n Skitterproduksie ... Dit wys opnuut watter kaliber kunstenaars ons het,” oordeel Laetitia Pople.
Die moeder is vanjaar met drie kykNET Fiëstas bekroon: beste feesproduksie, beste regie (Christiaan Olwagen) en beste spel in ’n hoofrol (Sandra Prinsloo). Dié produksie het ook vyf Woordtrofees-toekennings verower.
Die moeder is van 12 tot 29 April in die Baxter-teatersentrum in Kaapstad se Flipside-teater op die planke. Engelse onderskrifte word saam met die stuk vertoon. Kaartjies is by Webtickets beskikbaar.

