
Jannie du Toit sing die uitsonderlike liedjies van Marie Tredoux, legende van Jacobsbaai aan die Weskus.
Klavier: Chanie Jonker
Fluit: Annelie du Plessis-Hoberg

So 26 Maart, 15h00
Pierneefteater, Pretoria
R170 volwassenes / R160 pensioenarisse
BESPREEK by info@pierneefteater.co.za of whatsapp 072 460 5568
As jy wel KKNK toe gaan – kom ondersteun ons op 3,4 en 5 April en kry jou kaartjies hier.
Op pad KKNK toe stop ons ook nog in Burgersdorp (31 Maart) en Smithfield (1 April) - sien https://www.janniedutoit.com/
Jannie du Toit met Chanie Jonker (klavier en akkordeon) en Annelie du Plessis-Hoberg (fluit).
Marie Tredoux – ’n legende op Jacobsbaai aan die Weskus – word in September 2023 vier-en-negentig en sy maak steeds liedjies. Sy skryf oor dinge wat die hart raak, oor die juweel en prentjiemooi Jacobsbaai, oor vriendskapsbande en oor die mense van die Weskus. So onopgesmuk soos Marie self is, so is haar liedjies ook sy het juwele in die hoogste tradisie van die kleinkuns geskep. Marie en haar liedjiemakery was ook op Kwêla te sien.
As jong dame het sy later, benewens opleiding as Spoorweg-welsynsamptenares en haar graad in Maatskaplike werk by Wits, ’n Diploma in Drama by die roemryke Akademie vir Drama en Kuns (ADK) onder Aletta Gericke verwerf. Marie (ook ’n nóói Tredoux) is in 1953 getroud met Nic Tredoux, in lewe taalman en besturende direkteur van die vooraanstaande reklame-agentskap Ogilvie en Mather in Suid-Afrika. Hy en Marie het skouers geskuur en was vriende met die voorste van die Afrikaanse Johannesburgse kunste-gemeenskap van die vyftiger-sestiger-sewentigerjare.
Marie het juwele geskep wat in die hoogste tradisie van die kleinkuns uitstaan en een van haar eie tekste – Jacobsbaai se Aandlied – is in die nuwe FAK Sangbundel opgeneem. Haar “Mis oor Jacobsbaai” is in die vroeë tagtigerjare deur Laurika Rauch opgeneem en haar toonsetting van oom Nic se teks “’n Regte ou Kaapse reën” is deur niemand minder nie as Dirkie de Villiers verwerk en is al dekades lank ’n gunsteling by kore in Suid-Afrika.
Veteraanliedjieskrywer/-sanger Jannie du Toit beskou sy betrokkenheid by Marie se “langspeelplaat” in 1988 as een van die hoogtepunte van sy loopbaan. Op Coenie de Villiers se aanbeveling het die Tredouxs hom genader om verwerkings van hulle liedjies te doen. Die egpaar was na hulle aftrede op pad na hulle ou familieblyplek in Jacobsbaai, vanwaar oom Nic beplan het om hulle liefling-oord, wat destyds ‘n goed bewaarde geheim was, te ontwikkel tot die gewilde klein vakansieplekkie wat dit vandag is. Hulle het gevoel dat dit nou tyd was om ‘n klompie van die liedjies en Marie se stem en siel op viniel te verewig.
Jannie het besef dat hier ’n groot skat is wat nie vir Afrikaans verlore mag gaan nie. Daar was die onmiskenbare taal- en musiekaanvoeling wat die hart nie onaangeraak kan laat nie en wat vaagweg herinner aan die emosionele klanke van ’n Nederlandse seemanslied, ‘n Paryse straatkafee of ’n kabaretlied in die beste Europese tradisie. Die verstommende aspek van Marie se “liedjie-maak” is dat sy klaarblylik volledige akkoordprogressies in haar kop kan hoor – sy verskuif gemaklik van ’n majeur-toonaard na die verwante mineur en later weer terug na die majeur. Daar is toe ‘n langspeelplaat opgeneem wat gedurende 2018 l ook op cd verewig is.
Na jare van vriendskap met Marie en haar mense het Jannie du Toit besluit om ’n program van Marie se liedjies aan te bied. Die titel wat hy gekies het, is dié van een van oom Nic se uitmuntende tekste: “Die maan deur ’n gaatjie in die nag”.
Meer as dertig jaar nadat die album “Optelgoed” opgeneem is, laat Jannie Marie se liedjies op die verhoog voortleef. Die naam van die produksie is ook die titel van een van Marie se mooiste liedjies, Die maan deur ’n gaatjie in die nag.

