Die laaste maand vir inskrywings vir gedigte- en kortverhaalkompetisie het aangebreek!
Tema: Kyk hoe ver het ons gekom
Aangebied deur PEN Afrikaans in samewerking met Versindaba en LitNet
Moontlik gemaak deur Kruger Internasionaal
PEN Afrikaans en ons kompetisievennote herinner graag skrywers aan die geleentheid om teen 8 Januarie 2025, die laaste dag vir inskrywings, deel te neem aan die Kyk hoe ver het ons gekom-skryfkompetisies wat ons saam met LitNet (kortverhale) en Versindaba (gedigte) aanbied ter herdenking van 100 jaar van Afrikaans as amptelike taal.
Daar is, te danke aan ’n ruim borgskap deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur, prysgeld op die spel.
Die prysgeld in beide inskrywingskategorieë beloop R10 000 vir die eerste-, R5 000 vir die tweede- en R2 500 vir die derdeplekwenner.
Die skryf van kortverhale en gedigte is geslypte lense waardeur gekyk kan word na die wêreld, insluitend na hoe Afrikaans en sy sprekers gekom het tot waar ons is.
Kortverhaal- en gedigskeppers word hiermee vir oulaas uitgenooi om die “Kyk hoe ver het ons gekom”-gedagte met eiesoortige invulling en in eie Afrikaanse woordeskat vas te vang. Dus: Dié breë tematiek kan vanuit enige invalshoek en met benutting van watter tongval(le) van Afrikaans ook al toepaslik is, benader word.
Inskrywings kan per e-pos gestuur word aan die volgende adres: penkortverhaalkompetisie@gmail.com.
Hierdie e-posadres geld vir beide kompetisies; en gediginskrywings sal dus ook na hierdie adres gestuur word. Maak asseblief in die onderwerp van jou e-pos duidelik vir watter kompetisie jou inskrywing is.
Gekeurde inskrywings word deurlopend aanlyn gepubliseer – onderskeidelik op LitNet en Versindaba.
Nadat inskrywings gesluit het en die aanvanklike keuring voltooi is, sal ’n beoordelaarspaneel per kompetisiekategorie die gekeurde, gepubliseerde bydraes onder die kritiese loep neem om op drie kortverhaal- en drie gedig-weninskrywings te besluit. Wenners sal in April 2025 aangekondig word.
Kompetisiereëls en riglyne:
- Die kompetisie is oop vir alle skrywers.
- Slegs een inskrywing per skrywer sal per kompetisie in ontvangs geneem word.
- Slegs Afrikaanse kortverhale en gedigte sal aanvaar word. Alle variëteite van Afrikaans is welkom.
- Kortverhale moet uit 1500 – 3000 woorde bestaan. Die lengte van gedigte moet beperk word tot ’n maksimum van 25 versreëls.
- Elke inskrywings moet die skrywer se eie, oorspronklike en ongepubliseerde werk wees. Indien die inskrywing KI gegenereer of voorheen gepubliseer is, in enige formaat of op enige platform, sal dit nie vir die kompetisie in aanmerking kan kom nie. Outeursreg moet soos volg onderaan die ingeskrewe teks verklaar word: © Skrywersnaam, 2024.
- Outeursreg van die inskrywings berus by die skrywers, maar PEN Afrikaans en kompetisievennote sal geregtig wees om die gekeurde inskrywings aanlyn te publiseer en te versprei. Indien van die inskrywings later ook elders gepubliseer word, moet dit geskied met skriftelike kennisgewing aan PEN Afrikaans sowel as volledige erkenning met publikasie.
- Taalversorging van verhale en gedigte mag in lyn met die publikasieplatforms se stylriglyne gedoen word, met goedkeuring van enige inhoudelike redigering deur die skrywer.
- Inskrywings moet in MS Word-formaat aangebied word en elke bladsy moet genommer wees. Gebruik jou naam en van, die kompetisiekategorie, en die titel van die verhaal of gedig as titel van die dokument (Byvoorbeeld: Catrina Wessels.Kortverhaal.Kompas.docx). Let wel: Geen PDF’s sal aanvaar word nie.
- Keuring sal uitsluitlik deur die gekose keurders en beoordelaarspaneel behartig word en daar sal geen korrespondensie oor die keuringsproses of die toekenning van die pryse gevoer word nie.
- Inskrywings wat na 8 Januarie 2025 ontvang word, sal nie in aanmerking kom nie.
Lees ook:
Kyk hoe ver het ons gekom: PEN Afrikaans en LitNet se kortverhaalkompetisie
Kyk hoe ver het ons gekom: ’n gedig- en kortverhaalkompetisie