Enkelsnit ‘Eggo’ met Spoegwolf nou beskikbaar, kyk die video.
***
Op Die Heuwels Fantasties se agste ateljee album Volume sien ons hoe hierdie groep wat konstant innoveer, hulle negentigsinvloede in die huidige digitalestroomera inspan.
Volume wat op Vrydag 22 Oktober uitgereik word, spog met ’n eklektiese mengsel van akoestiese treffers, pop-punk, synth-ballades en so bietjie electro-folk vir ’n uitsonderlike oudio-umami.

Hunter Kennedy vertel dat hy “uit sy nate” is oor die uitreiking van die nuwe album: “Dit is ons derde een sedert die pestilensie en ek dink dit het in ons guns getel om geolie te bly. Pierre het ’n great job gedoen met die skryf van “Eggo” en die samewerking met Spoegwolf het dit natuurlik tot ’n volgende vlak geneem. Ek hou ook baie van “Werk Vir ’n lewe” se energie. Ons het dit ontgin, daar waar Blink-182 die wortels begrawe het. Ek sou sê die album as geheel is ’n kombinasie tussen die volwassenheid van Herverbeel en die dringendheid van 2021. Volume II is ook al amper klaar en dit maak my nog meer opgewonde. Ons het baie nuwe musiek om te deel!”
Fred den Hartog voeg by: “Met Volume het ons die saksofoon, kitaar, klavier, perkussie en stemme op ’n ander manier benader. Ons het alles stuk-stuk opgeneem om uiteindelik by ’n plek te kom wat vars, uniek en steeds Heuwels is, as dit sin maak. Ek hoop almal hoor en voel ons deur hierdie paar songs te luister.”
Die eerste enkelsnit vanaf die nuwe album “Eggo” is ’n karige ballade vir onseker tye. Die subtiele klavier en tjello skep asemhalingsruimte vir Pierre (Die Heuwels Fantasties) en Danie (Spoegwolf) om hul aparte kwesbaarhede te emotiveer. Die lied se crescendo is ’n katarsiese samekoms van twee generasies van alternatiewe Afrikaners.
“Eggo” is reeds vanaf 15 Oktober op alle digitale platforms beskikbaar: https://Platoon.lnk.to/eggo.
Snitte op die album:
- Hoor jy my?
- Werk vir ‘n lewe
- Eggo (met Spoegwolf)
- Okay, fine
- Hardloop weg 2.0
- Days are dark
- Goeiemore Suid-Afrika
- Bellville
Volume, die album is hier beskikbaar vanaf 22 Oktober: https://Platoon.lnk.to/volume.
***
Hou die pers dop vir “Volume by die fort”, ’n groot show by die Voortrekkermonument op 31 Oktober met Die Heuwels Fantasties, Early B, Coenie de Villiers en Refentse.
FB: https://www.facebook.com/events/153653650219982
Kaartjies en meer inligting: http://www.bydiefort.co.za

