
“Bellville” is die eerste nuwe enkelsnit vanaf Die Heuwels Fantasties se nuwe album met die titel C’est La Vie wat vroeg in September uitgereik word. Die lirieke is deur Pierre Greeff se vrou Jani, gedurende die onlangse Covid-tydperk, geskryf.
Kyk net na die lirieke van “Bellville”:
Altyd gereed
Hand op die heup
Altyd die buitekant glimlag
Maar die binnekant bly maar seer
Sê vir my Pa ek kom huis toe
Jani verduidelik dit so:
“Ek het my pa op ’n baie jong ouderdom verloor. Die idee ‘om jou pa te bel as jy in die knyp is’ is vir my soms moeilik om te begryp. Ek het die liedjie geskryf toe ek gevoel het dat ek omring was deur die dood en ek het gewonder, as dit vir my kom, hoe sal dit lyk? Wanneer dit my tyd is, hoop ek dit is my pa wat my kom haal. Maar wie weet hoe die dinge gebeur? Wie ook al opdaag, moet weet dat hulle my tien teen een op die hoek van Jip en Kommissaris straat in Bellville sal vind.”
Hunter Kennedy voel dat daar ’n super lekker energie tussen die lirieke en musiek van “Bellville” is:
Liries dwaal dit in ’n alledaagse eksistensialisme en wroeg met voorstedelike vrees, maar sonies is dit triomfantlik. Die trompetverwerking deur virtuoos William Haubrech sorg vir die emosionele oorwinning terwyl die dromerige volksmusiek jou oop maak om huis toe te verlang.”
Die video vir “Bellville” is gedeeltelik verfilm tydens die opname van die liedjie. Die res van die video is deur die meesterlike Damiane van Reenen geskep en vervaardig.
Kyk die video hier:
C’est La Vie is Die Heuwels Fantasties se negende studio album. Hul sewende album Herverbeel het in 2021 ’n SAMA gewen vir die kategorie ‘Beste kontemporêremusiekalbum.’ Hul mees onlangse album Volume is hierdie jaar in dieselfde kategorie genomineer.

Foto: Damiane van Reenen
Kunstenaars wat met Die Heuwels op C’est La Vie samewerkings gedoen het is: CHXRL, Francois van Coke, Jack and June, Coenie de Villiers, Ettienne en Taleswapper.
C’est La Vie word op 2 September uitgereik.
Volg Die Heuwels Fantasties op die web en sosiale media:
- Facebook: https://www.facebook.com/dieheuwels/
- Twitter: @DieHeuwels
- Instagram: @dieheuwelsfantasties
- Youtube: https://www.youtube.com/user/dieheuwels
- Webtuiste: https://www.dieheuwels.co.za/

