“Dit was hoogtyd vir ’n Teksmark in Johannesburg en dié eerste aanbieding van Teksmark Joburg was ’n reusesukses.”
Só sê Hugo Theart, uitvoerende hoof en artistieke direkteur van die KKNK, wat dié bekroonde teaterteks-ontwikkelingsprojek vir die eerste keer op Vrydag 3 en Saterdag 4 November by die Foxwood-teater in Houghton aangebied het.
Teksmark Joburg is ’n KKNK-projek, moontlik gemaak deur NATi, ondersteun deur die Foxwood-teater, ATKV en Vrystaat Kunstefees, in samewerking met die Feesteforum.
Skrywers kry tydens dié projek ’n geleentheid om oor hul teks-idee vir ’n teaterproduksie te gesels en dit aan potensiële beleggers voor te lê. ’n Uittreksel van tien minute word daarna as leesteater opgevoer, waarna die vloer oopgestel word vir vrae en verdere bespreking van die teks tussen die skrywer, betrokkenes en die gehoor.
Theart sê die diverse genres by Teksmark Joburg was veral opvallend. “Uittreksels uit klugte en satire tot ernstige dramas is as leesteater voorgelê en dit was wonderlik om die werke van nuwe opkomende dramaturge, sowel as veteraan teaterskrywers hier te sien. Alhoewel die fokus op skrywers is, was dit ook ’n geleentheid om bekende gesigte wat lanklaas op die verhoog te sien was in die uittreksels te sien, en ook nuwe talent onder die akteurs en regisseurs te ontdek.”
Volgens Theart was daar ’n leemte vir ’n ontwikkelingsprojek soos Teksmark in Johannesburg. “Belangstellendes kan beslis voorberei vir nog só ’n geleentheid volgende jaar. Ons sien reeds uit na Teksmark Joburg in 2024,” sluit hy af.
Cornelia Faasen, uitvoerende hoof van NATi, sê die rede waarom hulle jaarliks by Teksmark betrokke bly en dit nou ook uitgebrei het na Johannesburg, is omdat hierdie ’n projek is wat hulle om verskeie redes na aan die hart lê. “Dit is ’n geleentheid vir nuwe én gevestigde skrywers om hulle tekste voor ’n gehoor te toets. Ons is so gedruk in ons bedryf om gereeld nuwe werk te lewer en na feeste te neem, dat skrywers baie selde die kans kry om te reflekteer op hulle werk en dit te toets met verskillende akteurs en regisseurs. Teksmark is ’n fantastiese platform vir ons om ons skrywers te eer en te sê ons besef dat teater sonder hulle niks is nie.”
Vir dramaturg en teatermaker Herschelle Benjamin is Teksmark ’n baie belangrike projek in die kunstebedryf. “Ek is self ’n uitvoerproduk van Teksmark, met twee tekste wat ek voorgelê het wat reeds vir kunstefeeste ontwikkel is. Dit is baie belangrik om vir skrywers die geleentheid te gee om nuwe idees voor te lê en om dit prakties te doen. Dit is ’n fantastiese loodsprojek vir enige jong kunstenaar en akteur.”
Die 13 nuwe tekste, deur 14 skrywers, wat by Teksmark Joburg voorgelê is en die skrywers is: And ... Action! deur Jane Mpholo, A Street Taxi Named Desiree deur Obett Motaung, Dance of the Rain Lion deur Fabian Rainers, Die hysbak deur Johann Smith, Die spreekkamer deur Almero Welgemoed & Pietie Beyers, Don’t Believe Word I Say deur Tankiso Mamabolo, Ek sal jou leer om die melk te deel deur Lwanda Sindaphi (vertaal deur Pieter Odendaal), Forte deur Pierre-Andre Viviers, Koebaai, ou Koba! deur Nico Luwes, Laaitie mettie biscuits deur Christo Davids, Medepligtig deur Wentzel Lombard, Op die hoek van Styx en River is Nora per abuis met die dood oorgeslaan deur Henque Heymans en The Crimson Code deur D.J. Kruger.
Meer as 28 spelers was betrokke in die opvoer van die uittreksels, waaronder Tobie Cronjé, Elzabé Zietsman, Lizz Meiring, Henriëtta Gryffenberg, Heidi Molentze, Stephren Saayman, Anele Situlweni, Ryno Hattingh, Peter Terry, Rina Nienaber, Pietie Beyers, Maude Sandham, Rika Sennet, Wilhelm van der Walt, Gretha Brazelle en David Viviers.
Daar was vanjaar meer as 100 tekste vir oorweging by Teksmark ingedien, waarna ’n onafhanklike evalueringspaneel 18 tekste gekies het om by Teksmark in die Baxter-teater in Augustus voor te lê en ’n verdere 13 tekste gekies om by Teksmark Joburg voor te lê. Alle skrywers – gevestig en opkomend – kan voorstelle vir Teksmark indien en enige voorstelle vir oorweging by dié projek in 2024 kan nou reeds gestuur word na Lizané Basson, algemene bestuurder, by lizane@kunste.org.za.
Die 28ste KKNK word van Saterdag 23 tot Sondag 31 Maart 2024 op Oudtshoorn aangebied en dié fees se program word op Woensdag 6 Desember in Kaapstad bekendgestel, waarna kaartjieverkope vir die fees open.
Vir KKNK-inligting, hou die fees se sosiale media dop, besoek www.kknk.co.za, kontak 044 203 8600, stuur ’n e-pos na info@kknk.co.za of ’n WhatsApp na 065 285 2337.