
Die 2025 Toyota Stellenbosch Woordfees vier 25 jaar van kuns, kultuur en uitdrukking met die feestema “Deel”. Jy kan deel wees van die feesvieringe deur jou skribbels, skrabbels en sketse met die feesbestuur te deel, en ’n Woordfeeservaring ter waarde van R2 000 te wen.
“In die kunste is ’n gedeelde ervaring altyd kragtiger as ’n eie afgesonderde een, omdat energie en emosie meesleur, of vrymaak, of diepgang gee. ’n Kunstefees bied ’n geleentheid aan onverwante feesgangers om ’n gedeelde ervaring te hê, en so word ’n unieke band gevorm. By ’n fees deel ons, of ons is deel, met en van mekaar, die kunste en kultuur, van iets groters, deel van ’n gemeenskap,” sê Saartjie Botha, direkteur van die Toyota Stellenbosch Woordfees.
Indien jou bydraes gekies word kan dit in die fees se visuele veldtog gebruik word en wen jy twee kaartjies na ’n produksie van jou keuse, ’n ete vir twee in die BBP-lokaal, en gratis Toyota-pendeldiensvervoer vir twee vir die duur van die fees.
Die Woordfees word weer in die lente in Stellenbosch aangebied vanaf 11 tot 19 Oktober met omtrent 400 unieke produksies. Die program vir die 2025 Toyota Stellenbosch Woordfees word einde Junie bekend gemaak en sal ook op die fees se webwerf, kommunikasie- en sosiale-media-platforms gedeel word. Daar is weer 12 genres op aanbod: Toneel, Toyota Musiekfees, EasyEquities Skrywersfees, Klassieke musiek, Diskoers, Kinderfees, Komedie, Leefstyl, Visuele kuns, Filmfees, Dans, Woorde Open Wêrelde Fees (WOW).
“By die Toyota Stellenbosch Woordfees kan kunstenaars en feesgangers gedeelde ervarings en passies van uiteenlopende smake beleef en uitleef. Dis ’n fees van stories, skepping, nuwigheid én nostalgie, uitdaging en uitnemendheid, gevoel en gesprek – diep én ligsinnig – en ook sommer net ’n lekker bymekaarkom en partytjie,” sê Botha.
Wat beteken die woord “deel” vir jou?
Ons het verlede jaar gespeel, nou gaan ons deel. Bydraes sal tot en met die einde van die fees aanvaar word, wat ook vir latere Woordfees-geleenthede soos die Woordtrofees gebruik kan word. Laai jou kreatiewe bydraes hier op. Bepalings en voorwaardes geld. Besoek woordfees.co.za of die fees se sosiale media vir inligting.

