Persverklaring: Dansers en akrobate wys hul passies by Suidoosterfees 2022

  • 0

Die Zip Zap-sirkus se akrobate gaan Suidoosterfeesbesoekers se asems wegslaan met hul toertjies in Moya. (Foto: Joan Ward)

Feesgangers wat lief is vir dans, gaan groot plesier hê by vanjaar se Suidoosterfees, van 27 April tot 1 Mei 2022 by die Kunstekaap-teaterkompleks in Kaapstad. Verskeie dansorganisasies bied items op die feesprogram aan, wat vorme soos ballet, tradisionele Indiese dans en selfs sirkustoertjies insluit. Dié opwindende aanbiedings val saam met internasionale dansdag wat wêreldwyd op Vrydag 29 April gevier word.

Die Suid-Afrikaanse Internasionale Balletkompetisie skop dansdag-verrigtinge af met ’n Ballet-a-Thon, waartydens ’n balletklas, ’n demonstrasie-repetisie en ’n sessie waarin beginnerdansers wenke van meesters ontvang, aangebied word. Drie solo’s en ’n pas de deux, gechoreografeer deur Xola Willie en Angela en Michael Revie, sal tydens die demonstrasie-repetisie gedek word.

Die Ballet-a-Thon vind op 29 April vanaf 15:00 op die Piazza buite Artscape plaas. Toegang kos R200, en belangstellendes kan bespreek deur die ArtOfLife-toep op hul slimfone af te laai.

Op 28 en 29 April word Dance Synergy, ’n energieke geleentheid waar die wonder van dans in al sy fassette gevier word, in die fees se Zip Zap Dome aangebied. Professionele dansers gaan beginners touwys maak. Hierdie spesiale geleentheid word aangebied deur die Figure of 8-danskollektief, in samewerking met verskeie ander dansorganisasies en individue, en toegang beloop R125.

Die gewilde Indiese dansgeselskap, Taare, bring op 30 April ’n aanskoulike Bollywood-styl dansproduksie na die feesverhoog. In When Dancers Unite word oënskynlik teenstrydige dansstyle skitterend vermeng. Terwyl die verskille tussen uiteenlopende dansvorme belig word, word daar tegelyk ’n harmonie van beweging in die produksie geskep. Die resultaat word beskryf as ’n “ontploffing van kleur, prag en verbeeldingrykheid”. When Dancers Unite word in Kunstekaap se kykNET & Kie Operahuis aangebied, en kaartjies kos R135 en R100.

Die bekende Zip Zap-sirkus is net langs Kunstekaap geleë, en vanjaar is die sirkustent een van die Suidoosterfees se betowerende fees-venues. Die professionele sirkusgeselskap gaan sorg dat grense van beweging op asemrowende maniere verskuif word. Moya, Zip Zap se aanbieding tydens die fees, word geregisseer deur Sabine van Rensburg, Brin Schoellkopf en Nikolas Pulka.

In Moya word artieste se persoonlike verhale in eg Kaapse sprokies van beweging en akrobatiek tot lewe gebring. Feesgangers kan gereed maak vir scenario’s waarmee hulle vertroud is, soos ’n jongleur in ’n vrugtestalletjie wat wonderlike dinge met sy produkte aanvang, en voetgangers wat in die Moederstad se suidoosterwind tuimel soos nog nooit voorheen aanskou nie. Moya vind op 30 April en 1 Mei om 20:00 plaas en kaartjies kos R150.

Tensy anders vermeld, is kaartjies by Computicket beskikbaar. Die volledige feesprogram is op www.suidoosterfees.co.za. Die Suidoosterfees volg ’n inentingsbeleid, soos neergelê deur die gesondheidsowerhede ingevolge Covid-19-pandemieveiligheidsregulasies. Feesgangers sal dus elektroniese of gedrukte inentingsertifikate moet kan vertoon om toegang te verkry, of bewys moet lewer van ’n negatiewe SARS-CoV-2-toets wat nie langer as 72 uur tevore geneem is nie.

Die Suidoosterfees word ondersteun en moontlik gemaak deur die department van sport, kuns en kultuur, die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport, Stad Kaapstad, Media24, Die Burger, NATi en kykNET.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top