Martha Graham, die Amerikaanse danslegende, het eens opgemerk dat dans die “versteekte taal” van die siel is. Produksies op die Suidoosterfees se dansprogram beloof om vanjaar weer mense te betower met aanskoulike tegnieke en passies.
Figure of 8-dansteater, een van Kaapstad se voorste geselskappe, sorg saam met Suidoosterfees vir verskeie hoogtepunte op die dansspyskaart van 30 April tot 4 Mei in Kunstekaap. Vollengte produksies is in die feesprogram se dans-afdeling op suidoosterfees.com gelys, en kort, kragtige dansvertonings van 30 minute is in die Kort voor lank-programafdeling.

Die een wat bly by die Suidoosterfees, 3 en 4 Mei 2025
Daneel van der Walt, die aktrise wat TV-kykers se harte verower het in reekse soos Nêrens, Noord-Kaap, Koek en Kelders van geheime, se veelsydigheid is skynbaar eindeloos. By die Suidoosterfees wys sy haar talent as beweging- en mimiekkunstenaar in Die een wat bly saam met Grant van Ster en Shaun Oelf, Figure of 8 se hoofdansers.
LitNet-lesers sal Daneel van der Walt se uitsonderlike optrede in hierdie Stemme-monoloog deur Regard Visser nie gou vergeet nie:
Dié dansdrama het onlangs by die KKNK, Suidoosterfees se produksievennoot, met groot lof gedebuteer. Laetitia Pople beskryf dit op Netwerk24 soos volg: “Die een wat bly sal jou na woorde laat gryp soos ’n wafferse digter, dit sal salf aangee vir geestelike wonde wat jy nie geweet het jy het nie en jou totaal meevoer met die absolute skoonheid van lywe wat kán beweeg.”
Wessel Pretorius is die regisseur en die choreograaf Natalie Fisher het met die geselskap saamgewerk. NATi, die Festival Enterprise Catalyst (FEC) en die Jobs Fund het die ontwikkeling van Die een wat bly moontlik gemaak.

Maze of the mind by die Suidoosterfees, 1 en 2 Mei 2025
Nog ’n Figure of 8-produksie wat feesgangers se verbeelding op loop gaan sit is Maze of the mind. Shaun Oelf is op die planke onder regie van Grant van Ster. Choreografie word in dié pragproduksie ingespan om betekenis te vind in die mens se dikwels verwarrende doolhof van gedagtes, emosies en aksies.
Verskeie Kaapse dansorganisasies werk met die fees en die Figure of 8-geselskap saam om die vierde uitgawe van Dance synergy op die planke te bring. Dié aankoulike produksie loop oor van uitbundige energie en vermeng ’n wye verskeidenheid elemente en dansstyle, van kontemporêre dans tot ballet, Indiese dans en jazz.

Dance synergy volume 8 by die Suidoosterfees, 29 April en 3 Mei 2025
’n Dag voor die Suidoosterfees, op 29 April, word ’n spesiale vertoning van Dance synergy volume IV ter viering van Internasionale Dansdag gehou. Van die Kaapse dansorganisasies wat saam met die Figure of 8-geselskap deelneem is die Rebirth Dance Company, Imbewu Dance Collective, House of le Cap, Taare, New World Dance Theatre, Sbondaba Dance en Dance for All.
Kaartjies vir al die vollengte dansproduksies kos R150 en kan by Webtickets bespreek word.
Opwindende dansvertonings is ook op die spyskaart in die Suidoosterfees se Kort voor lank-programafdeling, aangebied met die ondersteuning van NATi en die Johann Brink Trust.

Wings of light: Dance of an angel by die Suidoosterfees, 1–3 Mei 2025
Die Kaapstadse Stadsballet, wêreldwyd bekend vir die diversiteit in hul repertoire, se kortproduksie Bite-size ballet spog met ’n pragtige vermenging van klassieke en kontemporêre dansuitvoerings. Hulle span ook kragte saam met Figure of 8 en die kitaar-maestro Mauritz Lotz in Wings of light: Dance of an angel. Lotz het die musiek spesiaal vir dié produksie gekomponeer.
Thalia Alberts is die regisseur en choreograaf van Ode to earth worms, ’n aangrypende dansproduksie wat beskryf word as “’n apokaliptiese liefdesbrief”. In dié stuk, wat uitstekend presteer het by die Première Teaterfees op Stellenbosch, beeld ’n groep professionele dansers ’n walviskarkas wat na die seebodem sak, uit.

Ode to earth worms by die Suidoosterfees, 2 en 4 Mei 2025
Studente van die Waterfront-teaterskool kombineer dans met musiek en drama in hul kortproduksie Spotlight. Die jongelinge gaan met “hoë-oktaan choreografie en musiek met dramatiese storievertelling” wys waarom die teaterskool die regte tuiste is vir die ontwikkeling van hul talent.
Dit is egter nie net Suid-Afrika se beste professionele dansers wat op die feesverhoog gaan skitter nie. Daar is oudergewoonte volop geleenthede vir feesgangers wie se voete jeuk vir die dansvloer. Sosiale danssessies en gratis dansklasse is ook geskeduleer.

Dansklasse word tydens die Suidoosterfees aangebied.
Son, die Kaap se gewilde poniekoerant wat alles raaksien, bied elke feesaand die jolige Piazza socials gratis vir feesgangers in die Netwerk24-feeskafee aan. Hier kan feesbesoekers hulle litte lekker losmaak, en niemand hoef ’n bekroonde danser te wees nie om deel te neem nie.
Tussen al die dansery deur gaan die Figure of 8-geselskap se choreograwe en dansers feesgangers met fantastiese opwip-vertonings op die feesterrein verras.
Gratis dansklassse word ook aangebied deur choreograwe en dansers wat hul merk oral in die wêreld gemaak het. Kapasiteit vir klasse is beperk en vooraf besprekings moet deur Webtickets gemaak word.
Op 3 Mei om 09:00 leer Louisa Talbot feesgangers die fynere kunsies van Musiekteater-dans, en om 11:00 wys Berlin LaCap waaroor dit gaan in die Vogue Fem-genre. Op 4 Mei om 09:00 gee Sifiso Kweyama les in Kontemporêre dans, en om 11:00 maak Ashlynn Erasmus mense touwys in Amapiano (TikTok).
Die Suidoosterfees word geborg deur die departement van sport, kuns en kultuur; die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport; Stad Kaapstad; Netwerk24; Die Burger; NATi; kykNET; die ATKV en Kunstekaap.

