
Bibi Slippers (Foto verskaf)
Digter en draaiboekskrywer Bibi Slippers stel vanjaar die program van die 15de Tuin van Digters-fees by die Breytenbach Sentrum op Wellington saam. Die fees, alom bekend as die Tuiste van Afrikaanse Digkuns, vind vanjaar van 11 tot 12 September 2026 plaas.
Slippers is benoem vir die 2026 Hertzogprys vir haar bundel Soekenjin. Sy het in 2016 gedebuteer met Fotostaatmasjien, wat daarna die UJ-debuutprys, die Eugene Marais-prys, die Elisabeth Eybers-prys en ’n ATKV Woordveertjie vir Poësie gewen het. Fotostaatmasjien was ook op die kortlys van die Ingrid Jonker-prys, wat jaarliks by Tuin van Digters oorhandig word.
Oor die jare was Slippers reeds telkens deel van ’n Tuin van Digters-program, hetsy om haar bundels te bespreek, as paneellid of bloot net as besoeker. Vir haar is die fees, met sy uitsluitlike fokus op aspekte van die digkuns, is ’n pluspunt én anker op die kalender van Afrikaanse poësie.
“Die Tuin van Digters is die één fees wat jaarliks fokus op Afrikaanse digkuns; waar jy weet jy ander digters kan ontmoet en saam mee kan kuier, waar jy voorlesings uit die jongste bundels kan hoor saam met gesprekke wat saak maak oor poësie. As programsamesteller is dit werklik ’n voorreg om nou ook op ’n baie meer amptelike manier betrokke te kan wees by ’n geleentheid wat reeds 15 jaar lank saak maak,” sê sy. “Dis vir my belangrik om soveel moontlike sinvolle geleenthede vir digters wat onlangs gepubliseer het te skep, en daarby ’n opwindende program met sorg saam te stel waarby ’n wye spektrum van besoekers aanklank kan vind.”
“Die Tuin van Digters is een van die Breytenbachsentrum se vlagskip-projekte waardeur ons die skeppende krag van Afrikaans ten toon stel. Ons sien baie uit daarna om te sien hoe Bibi se program dit verder gaan help uitbou,” sê André Terblanché, bestuurder van die Breytenbach Sentrum. “Benewens haar gevestigde profiel as gepubliseerde digter en haar ervaring met die saamstel van feesprogramme, bring sy ’n besondere, lewende energie na die Tuin van Digters. Ek ervaar haar as iemand wat met opregte nuuskierigheid en insig na die digkuns kyk, en wat gesprekke op ’n natuurlike manier verdiep en verruim deur haar breë betrokkenheid by die skeppende kunste.
Met ’n vinger deeglik op die pols van die Afrikaanse letterkundige wêreld is Slippers reeds drie jaar lank verantwoordelik vir die saamstel van die Woordfees se Easy Equities Skrywersfees. Sy is ook vanjaar betrokke by die inhoud van dié Stellenbosse fees se diskoersreeks, leefstyl- en kunsbene. Daarby bied sy ook gereelde werkswinkels aan vir aspirant-digters en -skrywers, met die mees onlangse wat by die Breytenbach Sentrum aangebied is.
Die teks wat sy vir Elzabé Zietsman se nuwe kabaret Wat om te doen as die wêreld brand geskryf het is na afloop van die 2026 Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) met ’n Kanna benoem in die afdeling vir beste literêre bydrae. Haar fliek Matilda & Matthys is voorheen vir ’n SAFTA benoem, en haar debuutfilm Die Horries het aan haar ’n nominasie as beste draaiboekskrywer by die KykNET Silwerskermtoekenning besorg. Sy het dié toekenning in 2023 saam met Elanie Rupping ingepalm vir die vollengte film Die tragiese saak van Pamina Vermaak.
Oor die afgelope dekade het sy agter die skerms gehelp met die saamstel van aktuele KykNET-aktualiteitsprogramme soos Insig, Winslyn, Prontuit, Flits, Vrydagnaglaat en Spreekkamer, en het ook voor die kameras verskyn in die nuus-satire “Die nare waarheid met Schalk Bezuidenhout” en die boekeprogram “In die bed met Bibi” op Via.
Slippers volg Francois Lötter, ’n voormalige bestuurder van die Breytenbach Sentrum, op wat die program nege keer saamgestel het. Die fees is in 2011 ingestel deur die Sentrum se eerste bestuurder, Theo Kemp.
Ter agtergrond
- Die datum vir die Tuin van Digters-fees val gewoonlik rondom die geboortedatum van Breyten Breytenbach.
- Die Ingrid Jonker-prys word jaarliks tydens Tuin van Digters oorhandig. Die prys word beurtelings aan ʼn Afrikaanse of ʼn Engelse debuutdigbundel toegeken, die twee tale waarin Ingrid Jonker geskryf het. Vanjaar sal ’n Engelse digter bekroon word.
- Bevestigde ondersteuning vir die Tuin van Digters-fees is reeds ontvang vanaf die Dagbreek Trust (hoofborg), die ATKV en Jonathan Ball Publishers.
- Die volledige program sal teen Junie 2026 bekend gestel word.
- Vir algemene navrae, kontak info@breytenbachsentrum.co.za
Oor die Breytenbach Sentrum
Die Breytenbach Sentrum in Burgerstraat 14 in Wellington is ’n multidissiplinêre, nie-winsgewende kultuursentrum waar ’n wye reeks literêre, visuele, opvoedkundige, musikale, erfenis- en gemeenskapsprojekte deurlopend aangebied word. Dit bied ruimte vir omgang met beeldende kunste, musiek, drama en skryfkuns vir die mense van Wellington en omstreke.

