Persverklaring: Bernadino Heights wen Artscape en Suidoosterfees se Hoërskool Dramafees

  • 0

Hoërskool Bernadino Heights is vanjaar as wenner aangewys van die Hoërskool Dramafees, aangebied deur Artscape, Suidoosterfees en Stad Kaapstad. Van links na regs: Dara Kometz; Herman van der Westhuizen; Lluwellyn Edas (regisseur van die wenproduksie Brandmerk); Marlene le Roux, hoof van Artscape; Edmund Jeneker, Suidoosterfees-direksievoorsitter; en Mbulelo Grootboom.

Die Hoërskool Dramafees wat jaarliks in Augustus by Artscape in Kaapstad aangebied word, het pas ten einde geloop. Nege hoërskole het tydens die feesweek meegeding nadat hulle as finaliste uit 34 inskrywings gekeur is. Bernadino Heights Hoërskool van Scottsdene se Brandmerk is as beste produksie aangewys.

Brandmerk, deur die dramaturg Stephren Saayman, het ook die prys vir die beste dramateks ontvang. Die stuk handel oor ’n seun wat ná ’n dramatiese insident ’n fobie vir roomys opdoen. Die verhoogstuk, geregisseer deur Lluwellyn Edas, sal volgende jaar tydens die 21ste Suidoosterfees op die jeugteaterprogram ingesluit word.

Kakamas se Hoërskool Martin Oosthuizen, wat in die verlede al uitstekende prestasies by die dramafees behaal het, het verskeie toekennings ontvang vir Rita & Raul. Zander Oberholster is as beste akteur in ’n hoofrol aangewys, Barnie Mans as beste regisseur, en Rita & Raul is ook bekroon vir beste tegniese bydrae.

Mesuli Magida, wat die rol van Mkhokheli in Luhlaza Hoërskool se The Society vertolk het, is as beste akteur in ’n ondersteunende rol aangewys. Dié produksie het ook ’n spesiale beoordelaarstoekenning ontvang vir die innoverende manier waarop die geselskap rekwisiete gebruik het. Houtbaai Internasionale Skool se Epic “Othello” het weggestap met die toekenning vir beste ensemblespel.

Ander skole en instansies wat vanjaar stukke by die Hoërskool Dramafees opgevoer het, is die Amoyo-stigting van Houtbaai, Sinenjongo Hoërskool van Milnerton, Manyano Hoërskool van Khayelitsha, Parklands Kollege en die Pionierskool van Worcester.

Benewens die uitnodiging aan Bernadino Heights se Brandmerk om in 2024 in die Suidoosterfeesprogram ingesluit te word, gaan ’n uitblinker-akteur van die Dramafees ook genooi word om ’n gasverskyning in kykNET se gewilde Suidooster-reeks te maak.

Herman van der Westhuizen, Mbulelo Grootboom en Dara Kometz was vanjaar beoordelaars. Van der Westhuizen het na afloop van die toekenningsgeleentheid op 25 Augustus gesê: “Ons was beïndruk met die gehalte van hierdie jaar se produksies en die ongelooflike talent wat ons deur die week gesien het.”

Die Hoërskool Dramafees word elke jaar in Augustus deur Artscape, die Suidoosterfees en Stad Kaapstad aangebied, en die fees word ondersteun deur die Wes-Kaapse regering en die Departement van Sport, Kuns en Kultuur. Marlene le Roux, Artscape se uitvoerende hoof, het opgemerk: “Daar is so baie mense om voor dankie te sê: mense wat dié dramafees elke jaar ’n sukses maak. Maar ek moet ’n groot dankie sê aan die onderwysers wat soms onder uitdagende toestande met die leerders werk om hulle jaarliks na hierdie fees te bring.”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top