Persverklaring: ATKV-Suidoosterfees-koorkompetisie – Wes-Kaapse amateurkore kan nou inskryf

  • 0

Die Suid-Afrikaanse Jeugkoor en wenners van die ATKV-Suidoosterfees-koorkompetisie was vanjaar op die feesverhoog saam met Emo Adams (Foto: Gys Loubser)

Die ATKV en die Suidoosterfees het weer goeie nuus vir amateurkore wat gemeenskappe in die Wes-Kaap se harte met hul stemme verower. Inskrywings vir die jaarlikse ATKV-Suidoosterfees-koorkompetisie is nou oop.

Sangroepe en kore wat op plase, in kerke en plaaslike gemeenskappe bedrywig is, kan suidoosterfees.com besoek vir inskrywingsvorms. Die sluitingsdatum is 10 Maart 2025, of sodra die kapasiteit vir die aantal deelnemende kore bereik is.

Kompetisiewenners ontvang trofees en word genooi om tydens die Suidoosterfees op te tree saam met bekende sangsterre. Vanjaar was die volgende kore wat verskillende kategorieë gewen het, op die feesverhoog saam met Emo Adams, Jodi Jantjies en die Suid-Afrikaanse Jeugkoor: Porterville se Messengers of God (sanggroep), die Zolani Jeugkoor van Ashton (gemeenskapskoor) en die Bosman Adama-koor van Wellington (plaaskoor).

Finalis-kore wat uit die inskrywings gekeur word, word genooi om werkswinkels by te woon waar hul vaardighede deur kenners in die musiekbedryf verfyn word. Vanjaar is dié slypsessies in Ceres en tydens die Adam Small-fees in Pniel aangebied.

Die ATKV en die Suidoosterfees bied die kompetisie elke jaar aan om volhoubare musiekgeletterdheid en opleiding onder amateurkore en koorleiers te bevorder.

Johan Esterhuizen van die ATKV sê: “Die ATKV-Suidoosterfees-koorkompetisie is ’n besonderse kompetisie en hartsprojek wat plaaskore, gemeenskapskore en kerkkore die geleentheid gee om hul talente in die wonderlike Artscape aan die breër publiek bekend te stel.”

Vir navrae en meer inligting kan Johan gekontak word by johane@atkv.org.za. Inskrywingsvorms is beskikbaar op suidoosterfees.com. In 2025 word algehele wenners by die fees, in Kaapstad aangebied van 30 April tot 4 Mei, aangewys.

Die Suidoosterfees se hoofborge is die Departement van Sport, Kuns en Kultuur; die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport; Stad Kaapstad; Netwerk24; Die Burger; NATi; kykNET; die ATKV en Artscape.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top