Persverklaring: SA Akademie se Algemene Simposium 2026 – volledige program

  • 0

Van kletsbotte tot kunsskepping: SA Akademie plaas KI onder die loep

Van kletsbotte wat help om Afrikaanse werkwoorde aan te leer tot gefabriseerde regspraak en kunsmatig geskepte beelde: Die invloed van kunsmatige intelligensie (KI) kom op 1 en 2 Oktober 2026 in Pretoria onder die vergrootglas wanneer die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) sy jaarlikse Algemene Simposium aanbied.

Kundiges uit verskeie vakgebiede sal die moontlikhede en uitdagings van KI van naderby beskou met aanbiedings oor taal, natuurwetenskappe, die kunste, regte, onderwys, geskiedenis en letterkunde. 

Die program bring sprekers uit taal en taalontwikkeling, die natuurwetenskappe, visuele en uitvoerende kunste, die regte, onderwys, geskiedenis en letterkunde byeen, terwyl die Buitelandse Werkgemeenskap ook ’n internasionale perspektief bied. Onderwerpe wissel van KI as navorsingsvennoot en die gebruik daarvan in taal en onderwys tot die invloed daarvan op kunsskepping, musiek, die reg en geskiedskrywing.

Op Donderdagaand word ’n skemeronthaal van 18:00 tot 19:00 aangebied, gevolg deur die openingsplegtigheid om 19:00. Vicus Bürger van Media24 tree as gasspreker op met sy voordrag “KI: ’n Waterskeidingsoomblik vir die mensdom”. Hy besin oor die tegnologiese revolusie wat KI teweegbring, die ingrypende invloed daarvan op onder meer die ekonomie, arbeidsmark en die wyse waarop ons dink en kommunikeer, asook die uitdagings én moontlikhede wat hierdie waterskeidingsoomblik vir die mensdom inhou.

Bywoning is gratis. Referate word in persoon by die SA Akademie, Ziervogelstraat 574, Arcadia, Pretoria, aangebied; virtuele bywoning is wel moontlik op versoek. Veilige parkering is beskikbaar.

  • Donderdag 1 Oktober vanaf 10:00
  • Vrydag 2 Oktober vanaf 08:30

RSVP teen 28 September by melanie@akademie.co.za. Dui die bywoningsdae aan, of deelname in persoon of aanlyn sal wees, en of die openingsplegtigheid bygewoon sal word. 

Meer oor die program

Die program, wat hier beskikbaar is, plaas praktiese toepassings én vrae oor verantwoordelikheid, betroubaarheid en menslike oordeel op die agenda. 

Hoe kan KI navorsing en onderrig ondersteun? Wat gebeur wanneer dit onjuiste inligting lewer? En hoe verander dit die manier waarop mense kennis ontwikkel en kreatief werk?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top