
Prent: Canva
.......
Rolspelers uit Afrikaanssprekende gemeenskappe kom hierdie naweek byeen om gesprek te voer oor onderlinge struwelinge wat deur hedendaagse kwessies veroorsaak word. Dit sluit in die Afrikaner-verklaring van voor die Mei 2024-verkiesing, Afrikaans Amptelik 100-veldtog tot die meer onlangse “Nie in ons naam nie”-brief.
........
Rolspelers uit Afrikaanssprekende gemeenskappe kom hierdie naweek byeen om gesprek te voer oor onderlinge struwelinge wat deur hedendaagse kwessies veroorsaak word. Dit sluit in die Afrikaner-verklaring van voor die Mei 2024-verkiesing, Afrikaans Amptelik 100-veldtog tot die meer onlangse "Nie in ons naam nie"-brief.
Die byeenkoms begin Vrydagmiddag om 2nm by die Protea Hotel Techno Park op Stellenbosch en duur tot Saterdagmiddag (9vm – 1nm)
Dit word opgedra aan die pas ontslape Franklin Sonn, oudambassadeur, onderwysleier en struggle-ikoon. Hy word wyd gehuldig as ’n "vredemakelaar" in die Afrikaanssprekende omgewing en ook tussen Afrikaanssprekendes en ander gemeenskappe.
Regter Steven Majiedt van die Konstitusionele Hof sal Vrydagmiddag se sessie toespreek oor "Die raamwerk wat die Grondwet stel vir die uitleef van Afrikaanssprekendheid". ’n Ope gesprek – eerlik en indringend - volg daarop.
Die inleidende spreker vir Saterdag se sessie is Francis Petersen, vise-kanselier en rektor van die Universiteit van Pretoria, wat sal praat oor "Saamdoen in Afrikaans op gemeenskapsvlak". Deelnemers vir hierdie sessie kom uit gemeenskappe en sal beste praktyke met mekaar deel en ook aangemoedig word om nuwe vennootskappe te vorm.
Heindrich Wyngaard, uitvoerende voorsitter van Kaapse Forum, sê die byeenkoms is vanjaar se weergawe van dié burgerregte-organisasie se jaarlikse Hoerikwaggo-indaba. Die indaba bied rolspelers en verteenwoordigers van gemeenskappe ’n geleentheid om met mekaar in gesprek te tree en saam oplossings te bedink.
"Ons fokus vanjaar is beïnvloed deur die openbare koppestampery wat sedert die ondertekening van die Afrikaner-verklaring voor verlede jaar se verkiesing plaasgevind het. Dit het veral hewige kritiek vanuit bruin Afrikaanssprekende geledere ontketen.
Ons het 'n voortsetting daarvan gesien in die verdelende reaksies – deur wit én bruin - op onder meer die Afrikaans Amptelik 100-veldtog, sowel as die Afrikaner-memorandum wat in Washington aan die Trump-administrasie oorhandig is."
Wyngaard sê mees onlangs was dit die "Nie in ons naam nie"-ope brief waaroor hare gekloof is onder Afrikaanssprekende mense. "Soos die ander genoemde kwessies in die kryt – ’n uitdrukking wat ek by NP van Wyk Louw leen - lei dit jammerlik daartoe dat mense mekaar slegsê. Gevolglik praat die rolspelers gedurig óór mekaar in byvoorbeeld media-onderhoude, maar nie mét mekaar nie. Ons wil rolspelers met die naweek se byeenkoms aanmoedig om na mekaar te luister en mekaar te probeer verstaan - éérder as om voort te gaan met die gedurige etikettering van die ander."
Lees ook:

