Persverklaring: Afrikaanse folkmusikant Hanru Niemand onthul nuwe album, Opgrawings vir ’n lugkasteel

  • 1

Foto van Hanru Niemand: Dee Lou

Hanru Niemand is ’n veelsydige Afrikaanse sanger-liedjieskrywer afkomstig uit die Boland, waar hy bedags ook as sielkundige praktiseer. As musikant het hy sedert 2003 stil-stil vir homself naamgemaak onder musiekkenners en spog hy vir amper twee dekades reeds met ’n klein kultus-aanhang van musikale fynproewers wat strek van die Kaap tot die Noorde. Van sy werke is ook al na Fins en Russies vertaal deur vooraanstaande vertalers vir die genot van oorsese gehore. 

Tot op hede het drie van Hanru se albums die lig gesien: Tot Stilte (2006), Roepwoorde (2010) en Kreeftegang (2016). Hierdie winter brei hy sy oeuvre uit met die toevoeging van ’n splinternuwe album, getiteld Opgrawings vir ’n Lugkasteel (2020). 

Die album is vervaardig deur die talentvolle en enigmatiese Riku Lätti onder die vaandel van Die Wasgoedlyn Musiek. Finale meng- en meesterwerk is behartig deur Willem Möller, ’n ewe indrukwekkende musikant wat vlerkgesleep het as Meneer Volume gedurende die eertydse Voëlvry-toer en deesdae werk as kopieskrywer en musiekrangskikker in die Moederstad. 

"Die album is deels retrospektief, soos ’n argeoloog wat opgrawings doen by ’n antieke stad. Die opgraafwerk is egter ook gelyk aan ’n post mortem wat wys hoe dinge skeefgeloop en die verval vastrapplek gekry het," verduidelik Hanru. 

Soos ’n goeie ou "mix tape" bestaan Opgrawings vir ’n Lugkasteel uit ’n Kant A en ’n Kant B. 

"Kant A (Voetstoots) bevat songs wat ek dikwels live uitvoer. Die idee hier was om die musiek so na as moontlik aan ’n live uitvoering te laat klink, daarom is die kitaar en stem gelyktydig opgeneem, anders as die moderne neiging om tracks apart op te neem. Van die snitte op Kant A is voorheen op ander albums opgeneem, maar ek wou juis weergawes van hulle boekstaaf soos ek hulle meestal doen – solo, net ek en die kitaar en die bekfluitjie," vertel Hanru. 

Die liedjies wat op hierdie manier opgeneem is"Kreeftegang Wals","Avis Tannie", "Gert Vlok Nel", "Land van Kaïn", "Worcester Woorde", en "Verlange". Hanru se getroue aanhangers sal hierdie liedjies herken as dié wat gereeld deur gehore aangevra word by optredes. 

"Kant B (Ruïnes) bring iets heeltemal anders na die tafel. Dit bevat vier splinternuwe songs – "Freaky Joe", "Morsige Momsen", "Tiran", en "Die prinses se lied". Elkeen van hierdie liedjies wentel om ’n hoofkarakters wat hulself op een of ander manier in die moeilikheid bevind. Hier speel ek saam met ’n reeks wonderlike musikante wat elkeen ’n spesiale dimensie aan die musiek verleen," sê Hanru. 

Die musikante wat saam met Hanru op Kant B optree is Wilken Calitz op viool, Riku Lätti op klavier, Mark Ellis op baskitaar, Jean Marais op tromme en Jacobus Grimm as agtergrondsanger. Die voorblad-kuns vir ‘Opgrawings vir ’n Lugkasteel’ is ’n oorspronklike skildery deur Evert Esterhuizen wat digitaal deur grafiese ontwerper Corli Sadie rangskik is.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top