
Neo Muyanga (Foto: Museum Boijmans Van Beuningen)
Die komponis Neo Muyanga is met die Helgaard Steyn-prys vir musiekkomposisie vir 2026 bekroon vir sy werk After Tears: A Requiem for Choir and Orchestra – ’n werk wat oorspronklik in 2022 in opdrag van Opera North in Leeds geskep en in 2023 in die Verenigde Koninkryk en Suid-Afrika opgevoer is. Die prysgeld beloop R675 000.
Die komitee het After Tears as wenner gekies “vir die oorspronklikheid, emosionele diepte en kenmerkende Suid-Afrikaanse stem”, aldus prof. Alexander Johnson van die Universiteit van die Vrystaat, sameroeper van die beoordelaars.
“Muyanga herverbeel Mozart se Requiem binne die konteks van ’n eietydse roubetoning en bied ’n vars perspektief op die verhouding tussen droefheid en viering, verlies en herinnering. Die werk vang iets diep menslik vas: die maniere waarop gemeenskappe verlies verwerk in die proses om iemand se lewe te vier en in die koestering van hoop. Die verbeeldingryke benadering, die kulturele resonansie en die kragtige musikale uitdrukking onderskei dit as ’n boeiende en onvergeetlike werk.”
Muyanga het gesê dit is ’n ontsaglike eer om die toekenning te ontvang en het die beoordelaarspaneel bedank. “Ek het dit gekomponeer in reaksie op die verlies van albei my susters, en die werk is ’n besinning oor hoe sentraal en belangrik ons kollektiewe rourituele tydens geleenthede van groot verlies is, en met omwentelinge in die samelewing in die algemeen. Alhoewel die werk as ’n requiem aangebied word, is dit nie uitsluitlik somber nie – die ontembare uitbundigheid van die Suid-Afrikaanse lewe klink op.” In sy verklaring het hy die toekenning opgedra aan “my eie geliefdes, Aisha en Tshuki Muyanga”.
Hy is gebore in Soweto in 1974 en sy komposisiestyl het grootliks ontwikkel uit die Suid-Afrikaanse koortradisie, wat ’n sterk grondslag bied. Hy put ook inspirasie uit sy navorsing oor verskeie musikale tradisies, ingesluit die vroeë Europese musiek, die Italiaanse madrigaal, die Ethiopiese Mezmur (Ortodokse kerkmusiek) en die Shaabi-musiek van Egipte (populêre musiek met volkstradisies as kerninvloed).
Muyanga beskik oor ’n internasionale baccalaureusdiploma van die United World College of the Adriatic (Italië) en ’n meestersgraad in die kunste van die Universiteit van Kaapstad (UCT). Hy is tans besig met sy PhD-graad by die Centre for Theatre, Dance and Performance Studies van UCT. Hy is die impresario (artistieke direkteur en kurator) van The Centre for The Less Good Idea – ’n ruimte gemik op die ontwikkeling van interdissiplinêre kunsprojekte in Maboneng, Johannesburg, wat deur die kunstenaars William Kentridge en Bronwyn Lace gestig is.
Volgens Muyanga bied After Tears ’n blik op Mozart se welbekende Requiem (K. 626), maar uit die perspektief van ’n hedendaagse Suid-Afrika waar begrafnisrituele beduidende veranderinge in styl en gebruike, veral ten opsigte van die jeug se benadering, ondergaan. “Ek het bewus geraak van hoe rituele rondom die rouproses en begrafnisgebruike in die stedelike landskap van Suid-Afrika besig is om te verander. Ek is geïnspireer om op groter skaal as die persoonlike belewenis daaroor te besin – oor hoe ’n volk of ’n land met ’n moeilike geskiedenis uitdrukking gee aan verlies en die onsekerheid oor ’n voortgesette bestaan binne die konteks van die rituele van samekoms, naasbestaan en samewerking.”
After Tears was deel van ’n tweeluik, aangebied deur Opera North en Phoenix Dance Theatre in vennootskap met die Suid-Afrikaanse Jazzart Dance Theatre en Kaapstad Opera by die Leeds Grand Theatre. Yvette Huddleston het in The Yorkshire Post (2 Junie 2023) geskryf: “Westerse klassieke musiekelemente en die ritme van Afrika-slaginstrumente word elegant vermeng tot ’n briljante eindresultaat.”
Sy roemryke loopbaan van meer as 30 jaar sluit verskeie dissiplines in – van opera tot installasiekuns. Hy het die oorspronklike teks en libretto geskryf, asook die musiek gekomponeer en georkestreer vir The Bacchae: An African Choral Ballet, wat vroeër vanjaar in Johannesburg opgevoer en met groot lof ontvang is.
Vanjaar se beoordelaarspaneel het bestaan uit prof. Johnson, Chris van Rhyn van die Noordwes-Universiteit en Evans Netshivhambe van die Universiteit van Suid-Afrika.
Die hoog aangeskrewe Helgaard Steyn-prys word jaarliks toegeken en gee om die beurt erkenning aan uitnemendheid in vier dissiplines: musiekkomposisie, skilderkuns, letterkunde en beeldhoukuns. Werke wat in die vierjaartydperk van 2022 tot 2025 geskep en opgevoer is, kon ingeskryf word. Dit is die 10de keer dat die prys vir musiekkomposisie toegeken word.
Die vorige ontvangers van die Helgaard Steyn-toekenning vir musiekkomposisie is Roelof Temmingh (drie keer), Peter Klatzow (twee keer), Stefans Grové, Hans Huyssen, Adrian More en Christo Jankowitz.
Besoek www.helgaardsteynpryse.co.za vir meer inligting.

