PEN Afrikaans se aanlyn New Voices-slypskool: Finale weergawe van "Die Mystic en die vlieg" deur Elisha Zeeman

  • 0


 

Die Mystic en die vlieg

Almal wil net altyd Kaap toe trek. Soek net ’n huisie by die see, ’n woonstelletjie in Stellenbosch. Eerstens, Stellenbosch het nie ’n strand nie en tweedens, dinge het verander. Die tyd van ABBA, albasters met tandepasta in, Casio-calculator-armhorlosies en kassette wat jy kort-kort moet “stop, uithaal, omdraai, terugdruk, speel” is verby.

Mense hier loop deesdae net so vinnig soos die mense in Johannesburg. Kyk verbouereerd om. Wens die lig wil groen slaan wanneer growwe kneukels aan karvensters klop.

Die strate is vol en die atmosfeer is dik.

Uit die stil veld oorkant Die Braak het ’n mall met ’n Woolies Foods gerys, en iemand het Die Mystic Boer (wat aanvanklik wit was en nie ’n voordeur gehad het nie) in mosterd gedoop. Deesdae lyk sy mure eienaardig naar.

 

Op someraande so halfnege se kant as die son agter die mall wegsak en die lug soos die credits-toneel uit ’n cowboy movie lyk, dan, as die hemele bo Stellenbosch só lyk, dán begin Die Mystic Boer pomp. Maak nie saak watter dag van die week dit is nie, hy pomp elke aand Woensdagmusiek. Al wat jy hoor is Woensdag. Woensdag. Woensdag. Elke aand. Woensdag.

Jy kan hom myle vêr hoor. Sy binnensmondse gebrom loop deur die strate tot net voor die woonbuurte waar die ryk mense bly; marketing managers, business managers, human resource management managers en managerial administrative management strategists wat se pols te groot geword het vir hulle Casio’s en nou net Rolex dra. Monstergroot SUV’s in elke tweede driveway. Immergroen uitgelegde tuine agter pastel betonmure wat opreggeteelde miniatuur- yorkshire terriers binnehou. Die gepomp dood net voor daai huise. Die huise met die kinders wat in Hoërmeisieskool Bloemhof en Paul Roos Gimnasium is en al in graad een “Khayelitsha” kan spel.

Vêr uit die glinsterende oog van hierdie spoggerige voorstedelike woonbuurte staan Die Mystic Boer in die middel van die dorp met sy geel wange. Sy maag – die dorp se grootste asblik. Hierin word alles weggesmyt: Black Label-bottels, inhibisies, oorskiet- chicken schnitzels, voornemens, halfgerookte Pall Malls, voosgekoude Stimorols, noem maar op, dit lê en vrot in die swart smeersel oor Mystics se vloer.

Sy reuk gryp jou aan die strot wanneer jy daar verbystap. Hy dwing homself in jou neusgate op en laat jou wonder oor die chicken mayo combo waaroor die menu so brag.

 

Dit was nie altyd só nie. Baie jare terug, toe die plek nog vier en twintig uur ’n dag oop was (as gevolg van die gat in die muur waar die voordeur veronderstel was om te wees) het Mystics, voordat dit “Mystics” was, soos varsgemaalde koffiebone en strawberry milkshakes geruik. Romerig soet. Onbekende struggling akteurs, wat intussen die cover van Huisgenoot gehaal het, het daar ge-waiter. Dit was gesellig en het gevoel soos huis. Pligsgetroue studente het tot in die nagtelike ure met olielampies en kerse by die tafels studeer en gesels oor filosofie en gewonder oor God. Dit was voor die gebrom. Opgewekte gesprekke het elke hoek van die restaurant tot in die kombuis gevul en by die agterdeur uitgedans.

Onder die gesprekke het verliefdes mekaar se hande en bobene stilweg vasgehou. Mense was nog half-ordentlik. Dit was die dae voor Tinder en Grindr en chat rooms en no-strings-attached hook-ups, so as jy iemand soortvan liefgehad het, het jy daai saadjie stadig en met geduld water gegee tot hy ’n dik stam gegroei het en ’n boom geword het, want dit was vir “vir ewig en altyd en nog ’n dag”. Die Universiteit se dramadepartement het suutjies aan die oorkant van die pad vir Mystics geloer en gekyk hoe boompie na boompie opskiet.

Deesdae loer die dramadepartement nie meer nie. Hy gluur. Mystics het ’n voordeur gekry. ’n Pleister wat al die etter binnehou. Hy probeer almal wat daar instap, insluk, maar hy verstik en spoeg hulle uit op die warm teerpad sodat die karre oor hulle jaag.

 

Vandag is Vrydag, vyfuur die middag, en die son sit hoog. Die Mystic Boer se bek is nog redelik stil. Dit sal ’n sonde wees om so vroeg in die dag al te pomp (nie dat Mystics of die dramadepartement omgee oor sonde óf pomp nie, maar ander regte grootmensbesighede sal hulle gaan aankla). So, vir nou vibreer sy klanke saggies teen die ruite in afwagting vir vanaand. Nirvana is net-net hoorbaar as jy buite sit. Van binne is dit bietjie harder, maar mens kan steeds nie die lirieke uitmaak nie. Dit klink asof die ou sing: “I’m a llama.”

Binne langs die bar hang die enigste waiter op shift aan die counter en sien op na die lang aand wat voorlê. Sy bloedbelope oë sit een meter diep in sy oogkaste. Dit druk teen sy serebellum. Sy hoofpyn skiet deur alles en loop teen sy ruggraat af tot in sy stuitjie. Dit voel asof daar acid oor sy senuweestelsel uitgegooi is. Alles pyn. Hy lyk soos iemand wat sopas ’n epileptiese aanval voor in ’n kerk gehad het, waar ’n dominee ’n gay demoon onsuksesvol uit hom uit probeer dryf het. Septies.

Hy werk tot môreoggend drie uur. Dis tien ure van olierige pizzas en tequila shots agter sweterige, jags studente aandra. Hy is moeg.

’n Knorgeluid kruip by sy keel op soos hy gaap.

Met sy bewerige nikotienvinger vee hy ’n sliert van sy wenkbrou af. Dit plak teen sy slaap vas. Hy het sy pa se wenkbroue. Dik en hard soos die perdestert in ’n vioolboog. Dit pruik woes en swaar bo sy oë en is net so donker soos die gekoekte klosse op sy kop.

Vir ’n oomblik druk hy sy voorkop teen sy palm, in die hoop dat die druk van buite, die druk van binne sal verminder. Die arm wat sy linkerhand regop hou, is vol tattoos en in plaas van ’n horlosie, spel die swart kursiewe letters in ’n sirkel rondom sy pols: “to fly you must fall.” Dit was een van sy eerstes gewees en is ook sy gunsteling. Hy het sestien in totaal. Sy pols. Sy arms. Sy nek. Sy rug. Sy bors. Vol kloue en vere en patrone en woorde wat alles iets beteken. Dit voel vir hom asof die tattoos hom bymekaarhou. Sy pels. Daarbinne is hy veilig.

Sy pa het dit van die begin af gehaat en sy ma het gedink dis duiwels. Sy ma het gedink alles is duiwels. Eenkeer het sy ’n DVD gekyk oor ’n ou wat gesê het CD’s met “parental advisory explicit content” op kom direk uit die hel, en toe het sy die helfte van sy musiekversameling verbrand. Sy was verkeerd.

Hy hoor hoe sy ore suis van die gif wat deur sy are sukkel. Hy voel hoogs geïrriteerd met homself en alles om hom. Brandy-vermengde vloeistof drup uit sy liggaam. Die taaiheid syfer deur sy verstopte porieë en deur die waaie van sy oksels soos slik. Hy het drie dae laas gewas, maar sy shampoo is op, so what’s the use. Hy skop die leë bottel elk geval net heeltyd per ongeluk om en vergeet elke keer om dit weg te gooi of te vervang. So, hy bly liewer weg van die stort. Sy tandeborselroetine lyk nie veel varser nie.

Sy tande is botter wanneer hy sy bolip optrek om deur skrefies-oë na die helder daglig daar buite te kyk. Hier in die grot is dit altyd donker. Sy droë tong gly oor sy skurwe lippe en sy asem ruik dood. Sy stoppelbaard voel krapperig. Op dae soos dié, as dit drie en veertig grade buite is, jeuk die ding meer as gewoonlik. Asof die hare wat in patches deur sy brandsiek wange steek nie erg genoeg is nie, het sy akneeprobleem van hoërskooldae nogsteeds nie opgeklaar nie.

Hy het vir ’n rukkie op skool die Reacutan wat die dokter vir hom voorgeskryf het, gebruik, maar sy vel was so uitgedroog, sy mondhoeke het aanhoudend gebars. Dit was baie seer. Elke keer as hy sy mond bietjie te groot oopgemaak het, het dit van voor af gebloei en wanneer dit nie gebloei het nie, het hy uit verveeldheid die rofies met die punte van sy naels afgetrek en geëet, en maak nie saak hoeveel Zambuk hy met sy vuil naels uit daardie potjie met die onmoontlike deksel gegrawe het nie, daai einas het eina gebly.

Toe los hy die pille sonder sy ma se medewete. Die dag toe sy uitvind was dit nag: “My kind, dis vir jou eie beswil. Jy doen dit nie vir my of vir jou pa nie. Ons is lankal deur al hierdie goed. Jy doen dit vir jouself, en moenie so aan jou gesig druk nie, dit gaan merke maak.” Sy was reg. Dit het.

 

Buite die spelonk staan daar vier highway-vulstasie-tafel-banke. Twee links van die deur en nog twee regs van die deur. Simmetries.

Op die tafel regs van die deur sit ‘n vlieg. Van die straat af kan jy hom nie sien nie, maar van die sypaadjie af lyk dit soos ‘n stukkie gebrande toast wat daar lê. As jy stop om mooi te kyk, kan jy sien hoe sy agterlyfie groen flits wanneer die sonnetjie sy boude vang.

Effens op sy senuwees, spoeg-lek hy die tafel in die hoop dat daar êrens tussen die krakies van die hout ‘n verdwaalde tjippie of tjoppie sal lê. Ah-ha! ’n Stukkie nacho! Hy love nacho’s. Dit is sy gunstelingding in die wêreld. Hy het nacho’s twee dae terug vir die eerste keer in ’n drom agter ’n ander fênsie restaurant in Kerkstraat ontdek. Daar was roomkaas by. Ruim luuks. Hy is agt dae terug gebore (in daardie einste drom) en volgens die boeke het hy nog ten minste agtien dae oor om te lewe.

Agtien dae is ’n lang tyd. Sy hele toekoms is nog voor hom. Toe hy ’n maaier was, was sy wêreld beperk. Ja, hy het sy deel gedoen, sy kant gebring en ’n deeglike bydrae tot recycling gelewer, maar nou het hy vlerke. Nou kan hy vlieg. Heen en weer, op en af. Agteruit as hy moet. Hy kan gaan net waar hy wil.

Hy hoef nie meer in sy eie poef rond te skrop vir iets te ete nie. Hy kan kilometers vêr reis. Paarl, Somerset-Wes, hy hoor Kraaifontein is deesdae die plek waar die vet vlieë rondhang. Hy sal ’n draai moet gooi.

Dalk moet hy nog eers ’n ekstra paar siektes optel. Tans skuil daar min of meer honderd verskillende kieme tussen sy beenhare, maar dis nie genoeg nie. Hy wil rekords breek. Ten minste meer as tweehonderd kieme. Nee. Sommer vyfhonderd kieme. Bring die ingewandekoors, buikloop, cholera, miltvuur, witseerkeel, tuberkulose. Hy wil die beste slegste pestilensies met hom saamdra en met alle mag en mening die uiteindelike doel van sy lewe volbring.

Maar voor dan, moet hy eers hierdie nacho-besigheid afhandel. Fokus.

Eers kyk hy vir ’n oomblik in verwondering na die krummel wat misgevee is. Vir al wat hy weet lê die ding al vir ’n week daar, maar hy gee nie om nie. Een man se dood is ’n ander vlieg se brood. Sy oë is gevestig. Op hierdie spesifieke oomblik in tyd draai sy hele klein vliegiewêreld net om hierdie stukkie nacho. Met twee oë wat uit ongeveer vier duisend lense elk bestaan, lyk daai een vierkante millimeter nacho soos die voorblad van ’n FOOD & HOME-tydskrif. ’n Kunswerk.

Skielik.

In die hoek van sy twee duisend, vier en dertigste oog sien hy ’n swart figuur ’n paar meter van hom af weg. Wat is dit? Hy span elke snaar van elke sintuig styf. Dit ruik dood. Iets wat ontbind. Vleis? Nee. Groente? Beslis nie. Ou brood? Moontlik, maar dit ruik vir hom meer soos voet. Ja, muwwerige asynvoete en klere wat nie ordentlik getuimeldroog is nie. Dit beweeg nie. Doodse stilte. Seker vrek.

Terug by die nacho. Sy tuitjie trek styf. Hy kan voel hoe die kwyl in hom begin opstoot. Hy hou daarvan om so bietjie terug te hou. Dis moeilik, maar die beloning is groot. As jy jouself net vir ’n paar sekondes kan beheer, kophou, en dan wag tot daar genoeg in jou is om op alles voor jou te kots, is die ervaring ’n ontploffing van lekkerte.

Uit pure opwinding begin sy bene onder hom onbeheerbaar bewe. Hy probeer homself regop hou en in amper bonatuurlike ekstase vryf hy sy voorste bene baie vinnig teen mekaar. Dit bly in hom opstoot.

Dan.

Soos die noodlot dit wil hê.

Braak hy.

Op sy feesmaal.

Sy tuitjie is wyd en reg vir aksie. Hy slurp aan die nacho-pappery soos ’n negejarige dogtertjie aan ’n Wimpy milkshake. Hy prop homself vol. Nog. Nog. Nog. Hy kan nie genoeg kry nie. Sy hartklop jaag. Hy voel hoe hy al voller raak. Al vinniger, al voller. Sy pens begin druk tot agter sy oë.

Die wêreld om hom draai. Hy is gestop. Sy maag is gespan. Vol, lam geëet. So tevrede. So gelukkig. Hy soek nie ’n huisie by die see nie, hy wil net hier bly vir ewig.

 

“Jis, dis gross,” sê een van die dronk studente wat intussen by die tafel kom sit het en druk die vlieg met die bodem van haar pienk Brutal Fruit dood. “Kan iemand net asse-fokken-blief vir die useless waiter sê hy moet hierdie tafel kom afvee?” Sy draai om en gil deur die deur: “Hey you! Please can you come vee this table off! It’s really gross, gosh!”

Die waiter kyk op, knik stil, stap in die lig, haal sy vadoek uit en vee die vlieg versigtig in sy linkerhand.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top