PEN Afrikaans se aanlyn New Voices-slypskool: Eerste kommentaar op "Die vlieg en die waiter" deur Elisha Zeeman

  • 3

elishazeeman650

“Die vlieg en die waiter” deur Elisha Zeeman

Izak de Vries se kommentaar

“Die vlieg en die waiter” is ’n sterk stuk en hierdie skrywer het dit in haar om ver te kom as satirikus.

Satire is ’n bitter moeilike genre om in te werk. Hoekom? Die skrywer het skynbaar nie die ondersteuning van die tradisionele storie-elemente nie; wat beteken dat stuk in sigself genoeg interne logika en stramien moet dra om die leser aan die lees te hou. Of, om dit nou baie eerlik te sê: Hierdie stuk is geskryf om die leser kwaad te maak, so waarom aanhou lees?

Daar is twee redes waarom mense hierdie satire sal wil lees: Of jy dink jy is beter as diegene waarmee gespot word (en dan mis jy so amper die punte), of jy knik instemmend die kop in ’n mea culpa-houding, en dan weet jy sal nooit goed genoeg wees om hiervan te ontsnap nie.

Dit is dus nie ontspanningsleesstof nie. Tog wil ek’n paar stukkies kritiek uitsonder wat die interne logika van die verhaal sterker kan maak, want selfs satire kan leer by meer tradisionele vorme.

Kom ons kyk eers wat werk

Die manier waarop die kelner sonder uitsig en die vlieg, met doelwitte, met mekaar gemeet word, is wonderlik. Die feit dat vlieg hier menslike eienskappe aanneem, werk, want die kelner is amper al ’n aasdier, vasgevang in stank en sieldodende roetine – vergelyk ook die siniese tat op die kelner se arm.

Wat werk nie?

Die vlieg se ma wat hom waarsku oor ’n vadoek. Nee. Gits. Sal sy met al agtienduisend telge ’n birds-and-flies-gesprek hê? Nee, nee. Werk op instink, beweging, en dies meer – wat die uiteinde, wanneer die vlieg dik is en nie oplettend nie, soveel sterker sal maak.

Ten tweede: Die afwagting om die Nacho te eet. Regtig? Ek koop nie al tyd wat verloop nie. Dis ’n vlieg met ’n missie – anders as die kelner. Hoekom nie juis inval met ’n vraatsugtige lus nie – presies wat die kelner nie meer het nie. Dan kan die sterre en die orgasme van lekkerkry en alles kom. Dalk kan die orgasmiese lekkerte die vlieg loom maak (dit gebeur met mense ook, nie waar nie).  Dan, juis te meer, as hy dik en lekker is, as hy op ’n missie is om die volgende orgasme te gaan aandurf met die lewe wat mooi is. WOEP.

Of mis ek iets?

Danie Marais se kommentaar

Ek gaan akkoord met alles wat Izak sê en voeg graag die volgende gedagtes by.

Die kwessie van satire en wat dan goeie satire sou wees, herinner my altyd aan hierdie woorde van Dorothy Parker uit ’n klassieke onderhoud met die Paris Review in 1956:

INTERVIEWER

You have an extensive reputation as a wit. Has this interfered, do you think, with your acceptance as a serious writer?

PARKER

I don’t want to be classed as a humorist. It makes me feel guilty. I’ve never read a good tough quotable female humorist, and I never was one myself. I couldn’t do it. A “smartcracker” they called me, and that makes me sick and unhappy. There’s a hell of a distance between wisecracking and wit. Wit has truth in it; wisecracking is simply calisthenics with words. I didn’t mind so much when they were good, but for a long time anything that was called a crack was attributed to me—and then they got the shaggy dogs.

INTERVIEWER

How about satire?

PARKER

Ah, satire. That’s another matter. They’re the big boys. If I’d been called a satirist there’d be no living with me. But by satirist I mean those boys in the other centuries. The people we call satirists now are those who make cracks at topical topics and consider themselves satirists—creatures like George S. Kaufman and such who don’t even know what satire is. Lord knows, a writer should show his times, but not show them in wisecracks. Their stuff is not satire; it’s as dull as yesterday’s newspaper. Successful satire has got to be pretty good the day after tomorrow.

[Die hele onderhoud kan hier gelees word.]

Die uitdaging is dus vir ’n goeie satirikus om, soos Parker beklemtoon, kommentaar op sy eie tyd en leefwêreld te lewer wat nie tydsgebonde is nie. In hierdie geval vertel die skrywer ’n satiriese verhaal wat geanker is in die hede en binne ’n baie konkrete ruimte in Stellenbosch.

Met haar verhaal is Zeeman goed op pad na universele satire. Haar beskrywing van Die Mystic Boer, sy kelner en die vlieg, wat uiteindelik baie soortgelyk is aan sowel die kelner as die Mystic se klante, is nie net nou of plaaslik geldig nie.

Die skrywer het dus ’n analogie met baie moontlikhede beet, maar daar is ruimte vir verbetering.  

Moontlikhede om te oorweeg

Die manier waarop Die Mystic en die kelner beskryf word, is raak, skerp en snaaks. Ek stem ook saam met Izak dat die vermensliking van die vlieg potensiaal het. ’n Mens sou dit egter meer subtiel kon doen deur deurgaans op suggestie te vertrou en só meer aan die leser se verbeelding oor te laat.

Ek hoop die skrywer sal Izak se bedenkinge oor haar mensvlieg ter harte neem en haarself afvra: Hoe kan die vlieg ingespan word op ’n manier wat die vlieg toelaat om meer vliegerig te bly? Deur die vlieg minder oulik menslik te maak en bloot akkuraat in sy blinde drifte en walglike maniere te beskryf, sou dieselfde suggestie en analogie steeds daar wees, maar sterker kommunikeer.

As ’n voorbeeld kan hierdie kortverhaal van Dave Eggers waarin die ek-verteller ’n hond is – “After I Was Thrown in the River and Before I Drowned” – gerus oorweeg word: http://nrhs.ccrsb.ca/sites/default/files/file_attachments/after-i-was-thrown.pdf

(Dié storie is opgeneem in Eggers se 2005-kortverhaalbundel, How We Are Hungry.)

Eggers se verhaal het uiteindelik ’n onverwagse en onthutsende metafisiese strekking, maar kyk hoe hy dit regkry om sy hoofkarakter-verteller sowel mens as volledig hond te maak en daarmee tegelyk treffend duidelik te maak hoe mens die hond en hoe hond die mens is.

Zeeman sou dit dus kon oorweeg om minder van die vlieg se menslike begeertes en gedagtes weer te gee en net sy gedrag baie fyn te beskryf – dalk meer in ’n Animal Planet-styl maar met die tong steeds in die kies.

’n Passasie soos hierdie sou byvoorbeeld heeltemal geskrap kon word:

“Ouch, dis seer, maar oeg, dis lekker.

Sy bene begin effens lam word. As hy ’n mens was, het hy nou sy asem opgehou tot hy blou is in die gesig, maar goddank hy het nie longe nie, en goddank hy is nie ’n mens nie, want as hy wel ’n mens was, was hierdie beslis nie nou so wonderlik nie.”

Die humor in die res van die verhaal is eerstens baie meer subtiel en tweedens sal die vlieg-analogie meer treffend wees as ruimte vir die leser gelaat word om menslike eienskappe te projekteer op die vlieg se groteske gedrag.

’n Mens sou ook die slot kon heroorweeg. Die kelner is reeds skerp geteken, maar deur hom weer ’n verskyning aan die einde te laat maak, sou die geleentheid ontstaan om die verhaal ’n verdere kinkel te gee.

Deur te vertel hoe die “useless waiter” die tafel met die dooie vlieg kom skoonmaak, kan die skrywer iets meer en dalk selfs ’n ander kant van dié karakter wys. In sy huidige vorm lê die kern van die satire in ongekwalifiseerde weersin. Die skrywer sou die kelner ten slotte op ’n manier kon vermenslik wat haar satire met deernis en miskien ’n tikkie melancholie verder kompliseer.

Ten slotte wonder ek ook oor die openingsparagraaf: Deur Stellenbosch te beskryf as ’n Beloofde Land van weleer word op ideologie en ’n vroeëre politieke bestel gesinspeel. Die voorbeelde wat genoem word, draai egter alles om ’n veranderende verbruikerskultuur.

Ek stel dus voor dat die skrywer weer gaan dink oor haar eerste paragraaf – wat presies sy daarmee wil sê of suggereer en hoe dit skakel met die res van haar verhaal en uiteindelik die slot. Die konkrete detail wat sy in die eerste paragraaf noem, roep ’n vervloë era helder op. Daar is dus niks verkeerd met die beskrywing nie. Ek vermoed egter dat sy hier meer wil sê of aandui oor radikale veranderings wat meer as net kosmeties van aard is.  

  • 3

Kommentaar

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Die onnodige Engelse woord in die titel hinder my maar blykbaar nie vir die twee resensente nie.

    • Beste Johannes, as ek gedink het die Engelse woord in die titel was onnodig en 'n geval van lui taalgebruik sou ek dit beslis uitgelig het. In kreatiewe skryfwerk gaan dit egter nie vir my in die eerste plek oor wat korrek is nie, maar oor wat pas oftewel werk en oortuig binne 'n spesifieke konteks en milieu en/of vir 'n spesifieke karakter. Binne die konteks waaroor hier geskryf word, 'n studentehool, meen ek dat "waiter" beter pas as "kelner" of "kroegman" omdat die keuse van die Engelse woord iets van 'n spesifieke karakter en milieu aandui en verklap.
      Die toets is uiteindelik vir my 'n eenvoudige, praktiese een: Sou daardie karakter só gepraat het onder daardie omstandighede?
      Indien wel, is dit korrek.
      Dieselfde geld gekruide taal. Wat die skrywer of die wêreld dink van vloekwoorde, is onbelangrik wanneer hy/sy 'n spesifieke karakter of milieu realisties wil uitbeeld. As 'n spesifieke karakter in 'n spesifieke situasie sy taal sou meng, sou swets of sou spoeg of dwelms gebruik of wat ook al, moet die skrywer hom/haar toelaat om dit te doen.

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Ek weet dat en verstaan waarom karakters realisties of aanvaarbaar uitgebeeld behoort te word. Wat my grief, is dat Engels al hoe meer in die titels van Afrikaanse tekste voorkom. Myns insiens word daar deesdae in hierdie opsig erg oordryf. "Die algemene riglyn is om die minimum Engelse woorde in Afrikaanse skryfwerk te gebruik" (Louise Voigt in Dalene Muller se boek, Skryf Afrikaans van A tot Z, Kaapstad: Pharos, 2007, p 652). In die nuwe Suid-Afrika is daardie riglyn meer as ooit sinvol as die voortbestaan van Afrikaans vir ons erns is.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top