PEN Afrikaans: perspektiewe op die Ghoemas, Afrikaans, borgskappe en sensuur

  • 4

Die bestuur van PEN Afrikaans het die verwikkelinge rondom die Ghoemas gevolg en volg sedertdien die reaksies daarop. Dit is verblydend dat daar knap en helder-beredeneerde meningstukke daaroor verskyn het. Dié stukke is in teenstelling met sosialemedia-kommentaar wat plek-plek aanvallend en verwerplik is. Dit is duidelik dat ’n senuwee raakgeboor is deur die onttrekking van “Die Land” in die kategorie vir beste musiekvideo nadat MultiChoice, die hoofborg van die toekennings, gedreig het om as borg te onttrek. Die rede hiervoor is Steve Hofmeyr, met wie se politieke sienings hul nie wil assosieer nie, se betrokkenheid by die lied. Sedertdien het MultiChoice die verreikende besluit geneem om enige inhoud waarby Steve Hofmeyr betrokke is van hul platforms te verwyder.

Die onderwerpe wat in gesprekke hieroor aandag kry, is juis die sake waarvoor (en waarteen) PEN Afrikaans dikwels standpunt inneem: uitdrukkingsvryheid, sensuur, die kunste, Afrikaans. PEN Afrikaans ondersteun uitdrukkingsvryheid en is gekant teen sensuur. Ons fokus op die viering en die bevordering van die kunste, spesifiek die woordkuns, en van Afrikaans binne ’n meertalige verband.  Ons het egter tot dusver geen kommentaar gepubliseer nie. Ons wil hier ’n verskeidenheid stemme oor die aangeleentheid laat hoor – en hopelik die nuanses daarvan belig.

Ons het bydraers gevra om hul indrukke oor die insident en die gevolge daarvan neer te pen. Vrae waarop hulle kon ingaan, is:

  • Kom die onttrekking van “Die Land” van die Ghoema-toekennings op grond van een van die kunstenaars se politieke sienings neer op ’n inperking van uitdrukkingsvryheid of ’n vorm van sensuur?
  • Indien wel, is daar regverdiging daarvoor?
  • Onderlê ’n stryd vir Afrikaans die hewige teenkanting teen die onttrekking van die lied?
  • Word die kunste bedreig deur sodanige ingrype deur borge?

Hul bydraes is hier onder.

Kerneels Breytenbach
Skrywer, ouduitgewer en voormalige voorsitter van PEN Afrikaans

Die gedwonge onttrekking van “Die Land” uit die kortlyste vir die Ghoema-toekennings was sensuur, iets waarteen Afrikaanse skrywers sedert die jare sewentig geveg het. Ek glo nie hierdie sensuur het enigiets anders vermag as om Hofmeyr en sy geesgenote se harte te verhard nie. Mens bereik niks met sensuur nie. As jy in die vryheid van spraak glo, moet Hofmeyr en kie gehoor word – en is dit ook my plig as iemand wat nie met hom saamstem nie, om daarteen stemming te maak op ’n manier wat my pas.

Dit sou verkeerd wees om te dink dat die stryd vir Afrikaans hier ’n rol speel. MultiChoice, wat die dryfkrag agter die sensuur was, wil nie hê dat hul naam en bedingingsposisie besoedel word in die oë van die regerende party nie. Daar is groot gesprekke in raadsale en politieke enklaves aan die gang oor maniere waarop MultiChoice se monopolie op hul gebied opgebreek kan word. Dit is waarvoor hulle bang is – assosiasie met Hofmeyr via die bekroning van “Die Land” sou ’n nuttige stok gewees het waarmee hulle geslaan sal kan word wanneer die owerheid weer vir MultiChoice onder die vergrootglas plaas.

Bettina Wyngaard
Skrywer, kommentator en regsgeleerde

Daar is natuurlik heelwat wat alreeds oor die naam van die Ghoema-toekennings gesê kan word, en die kulturele toe-eiening wat daar problematies is. Oor die huidige brouhaha wil ek net vier punte maak:

  • Net soos wat dit gewone burgers se vrye reg is om hul geld van Spur weg te hou oor redes wat niks te doen het met die gehalte van hul steaks nie, net so is dit die reg van borge om hul fondse te weerhou van kunstenaars vir redes wat niks met hul kuns te make het nie. Elkeen kan mos met sy geld maak wat hy wil.
  • Elke reg gaan gepaard met ʼn verpligting. Daar is sekere regte in ons grondwet wat onbeperk is. Vryheid van spraak is nie een van hulle nie. Haatspraak word nie toegelaat nie. Maar dan wil ek dit dadelik beklemtoon. Hofmeyr se vryheid van spraak is nie hier aangetas nie. Hy kan sing wat hy wil en sê wat hy wil. Borge maak dit net duidelik dat dit nie met hulle geld en op hulle platforms sal gebeur nie, en dis hulle goeie reg. Dit staan Hofmeyr en sy ondersteuners vry om hul eie geld te gebruik om sy boodskap te versprei. Niemand keer hulle nie.
  • Hierdie is nie ʼn aanval op Afrikaans nie. Die borge wat weier om met Hofmeyr geassosieer te word, doen almal baie vir Afrikaans. Toyota is van 2020 die hoofborg vir Woordfees, wat sekerlik die grootste inklusiewe Afrikaanse fees in die land is. MultiChoice het verskeie kanale wat eksklusief aan Afrikaans gewy word. Afrikaans word nie aangeval nie, en dis ʼn fout om hierdie voorval so te probeer tipeer. Dit gaan hier om ʼn veel groter gesprek. Dit gaan oor watter nasie ons wil bou, en hoe ons in gesprek met mekaar gaan. Dit gaan oor ʼn keuse vir inklusiwiteit en teen rasseverdeeldheid. Al waarvan Hofmeyr ʼn ambassadeur is, is ʼn toenemend verregse onverdraagsame rassisme. Dis nie waarvoor die meeste Afrikaanssprekendes staan nie. Om die een met die ander te vergelyk, is ʼn vals ekwivalensie. Dis nie eens ʼn aanval op witheid nie, tensy witheid onverdraagsaamheid en rassisme beteken.
  • Na my mening behoort meer borge hul waardes bekend te maak en hulself te distansieer van enigiets en enigeen wat vrede en verdraagsaamheid in ons land bedreig.

Izak de Vries
Skrywer, bemarkingshoof en PEN Afrikaans-bestuurslid

Die herrie rondom die Ghoemas en Steve Hofmeyr laat die ou vraag weer ontstaan: Wanneer is borgskappe wat mense uitsluit sensuur? En: Wanneer is sensuur geregverdig, indien ooit?

Vir my is dit positief wanneer ’n sekere borg sê: Ons sit ons geld agter ’n sekere projek.

Kyk byvoorbeeld na Toyota wat besluit het om die naamborg te word van die Woordfees op Stellenbosch. Dit is lekker. Toyota sê hiermee hulle assosieer met Saartjie Botha en haar fantastiese span se visie. Ja, dit is grootliks Afrikaans, maar dit is ook inklusief en baie opsetlik so. Toyota sê: Daardie visie steun ons.

MultiChoice se kanaal kykNET is ook ’n groot borg van die Woordfees, en van ander inklusiewe feeste.
’n Borgskap plaas dus ’n soort stempel van goedkeuring op die span wat enige geleentheid reël.
Die vraag sou dan ontstaan: As jou huiswerk gedoen is en die span wat die geleentheid reël is reeds goedgekeur, mag hulle / moet hulle verder gepolisieer word?

Wat sou gebeur as Borg X vir die span by Geleentheid Y sê: Ons steun jou, maar ...

Sou enige borg vir Saartjie Botha en haar span durf voorskryf wie op die Woordfees se verhoë mag verskyn? ’n Mens sou nie so hoop nie.

Lê riglyne neer en volg dit

Kuns is ’n blikskottel. Kunstenaars is boonop mense en mense is blikskottels.

Borgskappe kan kunsgeleenthede maak of breek.

Indien ’n maatskappy vooraf sê dat hulle bereid is om, volgens sekere kriteria, borgskappe toe te ken, dan moet daardie kriteria deeglik uitgespel word.

’n Mens sou kon dink dat ’n erg konserwatiewe maatskappy sou kon sê: Ons borg geen pryse van enige kuns waarin kragwoorde gebruik word of enige vorm van kritiek op godsdiens voorkom nie. Dit is hulle keuse en dit is die keuse van die organiseerders om daardie kriteria te aanvaar, al dan nie. Sou die organiseerders dan iemand nomineer wat nie aan die kriteria voldoen nie, dan sou die borg die reg hê om die kontrak onder hulle aandag te bring en, les bes, te onttrek.

Sou die organiseerder egter wel die riglyne, of gebrek daaraan, volg en mense nomineer wat problematies is, sou dit waarskynlik beter wees om dit in ’n persvrystelling duidelik te maak dat Borg X uiters ongemaklik is om met die nominasie van Kunstenaar Y, maar dat sensuur nie toegepas sal word nie. Hulle mag so ver gaan om dit duidelik te maak dat hulle gekose ambassadeur by die geleentheid nie die prys sal oorhandig nie, sou die kunstenaar wen.

As kunstenaars hulleself in die openbaar uitspreek oor goed wat problematies is, sou borge die reg hê om hulself ook in die openbaar daaroor uit te spreek.

Om egter borgskappe toe staan en dan te onttrek, bloot omdat die borg nie saamstem met die kunstenaar nie, sou as sensuur gelees kan word.

Die vraag is: Wie word volgende gesensureer?

Steve en die wit nasionalisme

Steve Hofmeyr is baie opsetlik. Hy praat graag namens ’n baie klein aantal, verbitterde mense. Dit is sy keuse. Hy maak daarmee vir hom sekere deure oop en ander deure toe.
’n Mens sou kon verstaan as ’n groot maatskappy voel hulle wil nie ’n direkte borgskap toestaan aan Steve en sy span nie.

Deur nie vir Steve direk te borg nie, of deur wel vir hom geld te gee en daarmee jou logo op sy kitaar te sit, maak ’n stelling. Dit verstaan ’n mens.

Deur egter ’n organiseerder te dwing om op te tree teen iemand nadat jy reeds ’n borgskap aan die organiseerder, nie persoon nie, toegestaan het, dit verstaan ek moeiliker.

Wanneer word protes aanstootlik?

Luister gerus na Churchil Naudé se album Kroesifaaid. Naudé slaan met harde woorde daar. Ek het baie waardering daarvoor, maar as mense nie daarvan hou nie, sou ek dit kon verstaan. Sou ’n groot borg die reg hê om te onttrek aan ’n sekere geleentheid as Churchil sou optree? Dit sou hartseer wees.

Helen Zille het al ’n paar keer vreemde twiets die eter ingestuur. Gaan ons borge aandring dat sy van alle verhoë verban word waar hulle vlae wapper? Mmusi Maimane sal dalk bly wees as Zille nooit weer in die openbaar verskyn nie, maar is dit reg?

Zille is ’n politikus. Hofmeyr dink hy is ’n politikus. Malema is ’n politikus. Ons mag van hulle verskil, ons mag met hulle saamstem.

Steve Hofmeyr is egter ook ’n sanger en hy is baie beter as die meeste getjommel wat op RSG gehoor word. Dit is moontlik om sy kunstenaarskap te erken, maar ook om opsetlik sy politieke standpunte in die openbaar te kritiseer.

Ek vind dit jammer dat Steve homself en Afrikaans soveel skade aandoen deur ’n agenda te dryf waarmee ek nie kan saamstem nie. Ek kan nie en sal nie sy politiek steun nie.

Sou ek sensuur op sy kuns steun weens sy politieke sienings? Nee, ek is ongemaklik daarmee ook.
Ek vra weer: As Steve se kuns vandag gesensureer word, wie is volgende?

Colette Combrink
Student, rubriekskrywer en redakteur van die kampuskoerant Wapad

Die Ghoema-Steve-sage is ’n ingewikkelde een, en mense is selfs al besig om hulle skottels van hulle dakke af te gooi en dekodeerders te braai. Ek dink dis dalk bietjie melodramaties, en dat dit eenvoudiger is om net jou intekening te kanselleer, maar dis net ek. Ek dink dis baie duidelik dat hierdie beheer van die uitsaaier deur die borge vir seker sensuur is, en as mens kyk na hoe die Ghoemas uitgedraai het, het dit vir seker ’n effek op die kunste.

Steve is nie die begin en die einde van Afrikaans nie, nie eers van Afrikaanse musiek nie. Ek dink nie Afrikaans word werklik in gedrang gebring nie – die taal het baie erger al oorleef en dit sal ook weer. Dit sê egter nie ons moet hierdie aanslag op die kunste net gelate aanvaar nie, want dit kan ook die begin wees van ’n groter sensorskapkultuur wat besig is om in die land te groei.

Bernard Odendaal
Digter, bestuurslid van PEN Afrikaans en direkteur van die ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit

My waarneming is dat MultiChoice se aandrang dat die nominasie van die “Die Land” op die “beste musiekvideo”-Ghoemakortlys onttrek moet word, op polities-ideologiese oorwegings berus het.

Raker probeer sê: Dit was ’n aandrang geïnspireer deur ’n afkeer aan die polities-ideologiese standpuntinname deur ’n bepaalde indiwidu wat ook ’n gesiene (dus: opvallende) vermaaklikheidskunstenaar is: Steve Hofmeyr. Hy wat daarvan hou om homself as ’n soort Afrikanerkapokhaan te profileer.

Na my wete is nêrens te kenne gegee dat ’n afkeuring van die strekking van die bepaalde lied die motief vir MultiChoice se aandrang was nie (hoewel ’n mens ongemak daarmee by dié instansie, soos by baie van ons, vermoed).

Die Ghoema Musiektoekennings het wesenlik NIE te doen met beskouings van polities-ideologiese aard nie. Dit gaan ook nie soseer oor persone/persoonlikhede nie, maar oor die estetiese en/of vermaakliksgehalte, dus ook die kulturele waarde, van nuutgeskepte Afrikaanse liedjies. Uiteraard staan so ’n geleentheid, en die vermaaklikheid-/kultuursektor waarbinne dit sy funksie het, nie los van ander samelewingsterreine nie (soos MultiChoice se optrede, en die openbare herrie wat daaroor losgebars het, weldeeglik getuig). Die Ghoema-trust se mandaat setel egter, PRIMÊR, nie elders as in die kulturele vermaaklikheidsektor nie.

’n Mens sou dus kon sê dat die borg se optrede gemotiveer was deur oorwegings wat uit ’n ander samelewingsterrein as dié van (kultuur-)vermaak spruit.

Indien die Ghoema-organiseerders die toekenningsgeleentheid ingerig het as ’n bevordering, selfs refleksie, van die polities-ideologiese beskouings waarteen die borg dit gehad het – ’n doelstelling wat buite die Ghoema-trust se mandaat val – sou dit nie misplaas gewees het as die borg sy afkeer by wyse van oorweging van borgskaponttrekking laat blyk het nie. Ek het nie die geleentheid bygewoon, ook nie na die TV-uitsending daarvan gekyk nie, maar na my wete kon so ’n oorweging (dat die Ghoema-trust, sê nou maar, Afrikanernasionalistiese sentimente in die kollig wil stel) nie ’n rol gespeel het nie.

Derhalwe kan MultiChoice se drukplasing op die Ghoema-bestuurspan as misplaas beskou word, reken ek.

Dit lyk vir my of die argument tot hier ook van toepassing is op die onttrekking van sekere borgskappe aan die “Afrikaans is Groot”-konserte. Sulke optredes deur borge is dus ’n aantasting (poging tot manipulasie) van die onafhanklik geagte bevoegdheid van die instansies wat ’n taalgedefinieerde sektor van die vermaaklikheidsbedryf bedien. Of ’n mens dit sensuur moet noem of nie, hang seker af van hoe dié begrip omskryf word. Beïnvloeding, op grond van oorwegings wat nie tot die kern van die doelstellings van, en met, die bepaalde bedieners van die bedryf behoort nie, is dit wel.

En daarteen kan (moet) ’n mens, juis ook ’n instelling soos PEN Afrikaans, eksepsie neem.

Veel sterker is egter die eksepsie wat ek (en my medebestuurslede van PEN Afrikaans) neem teen die dikwels rassehatige galbrakery, met name in die sosiale media, wat op MultiChoice (en op die borgskaponttrekkers aan Afrikaans is Groot) se optrede gevolg het. Sodanig dat ek hier sit en skaam kry dat ek die genoemde borgoptredes moet kritiseer. Daai soort bohaai snoer baie simpatiseerders die mond.         

En nou het MultiChoice gegaan en die gordyne van hulle kanaalverskeidenheid totaal oor Steve Hofmeyr as vermaaklikheidskunstenaar laat sak. Ja, hier raak die besluit MultiChoice se werksaamhede as instansie self (naas vir Hofmeyr). Mense wat Steve op TV gaan mis, voel natuurlik ook nie alte ingenome nie – maar hulle kan nie kla dat MultiChoice buite sy bevoegdheid optree nie. Steve is klaarblyklik nie goed, of langer so belangrik, vir hulle sake nie. So lyk dit.

Ek hoop net nie die gedoente rondom die gordynsakkery laat sien ’n mens later ’n stukkie onderrok uitsteek nie. Gaan selfs minder kapokhanerige belyers en vierders van hulle Afrikanerskap en -erfenis maar twee keer moet dink voordat hulle in die toekoms aanklop by die deur van MultiChoice se vermaaklikheidshuis?     

Mercy Kannemeyer
Nagraadse student en rubriekskrywer

As daar so ’n  magdom mense agter Steve en kie staan, kan álmal van hulle verkeerd wees? Waarvoor presies baklei Steve en wat sien sy volgelinge in hom raak?

Vir ’n ruk lank het ek doelbewus niks oor die Ghoema-saga en die onttrekking van “Die Land” gesê of geskryf nie. Nie dat ek nou dink mense wil vreeslik weet wat ek daaroor te sê het nie. Die gebeurtenis het net nogal dikwels in gesprekke opgeduik, en dan sou ek net my oë rol en dit duidelik maak dat ek nie my energie daarop wil mors nie. Daar is groter probleme in die wêreld. Politiekery en magsbeheptheid sorg vir groot kommer. ’n Klipgooi van Suid-Afrika af, in Mosambiek, was daar ’n verwoestende sikloon wat die lewe van duisende mense geëis het. Elders woed daar oorloë. Mense sterf van hongersnood. En ons is besig om die aarde te vernietig.

So, ’n handjievol mense wat ’n funksie boikot wat hulle voel teen hulle diskrimineer, was nou nie juis hoog op my prioriteitslys van dinge om my oor te kwel nie. Toe die stof nou eventueel gaan sak, is ek gelaat met vrae oor sensuur en of hier nou nóg ’n klad op Afrikaans se naam gaan kom.

Vryheid van spraak is elke landsburger se grondwetlike reg. Wanneer vryheid van spraak egter lei tot skade, en sodoende teen ander se menseregte indruis, is dit egter onverantwoordelik en moet daar ’n stokkie voor gesteek word.

Steve en sy span van “Die Land” het natuurlik alle reg om die musiek te maak wat hulle harte begeer. En dit sal skadelik wees as daar vir hulle gesê word “hokaai, julle musiek moet nou bietjie gesensor word”. Almal moet dit wat hulle glo, vrylik kan uitleef. Anders is ons mos nie ’n demokrasie nie.

In die geval van die Ghoemas dink ek nie dit het gegaan oor “Die Land” of om kunstenaars te sensor nie. Dit het gegaan oor ’n man wat skade aanrig met sy uitsprake. ’n Man wat vrees aanwakker in mense en op ongegronde terrein sê dat daar teen hom gediskrimineer word. 

Nog minder het dit gegaan oor Afrikaans. Afrikaans is besig om te floreer en die handjievol wat voel hulle taal word onderdruk, het nog nie wye omvang van die taal besef nie. Hulle is miskien ook nie vertroud met die diverse agtergrond van hierdie taal nie en dink dat dit aan ’n minderheid behoort. Afrikaans behoort aan almal wat dit praat. Ek voel al soos ’n plaat wat vashaak, maar een groep mense kan nie alleenreg op die taal hê nie.

As daar so ’n  magdom mense agter Steve en kie staan, kan álmal van hulle verkeerd wees? Waarvoor presies baklei Steve en wat sien sy volgelinge in hom raak?

Steve het byna ’n messias vir ’n sekere onderdrukte Afrikaner geword. En daardie mense moenie veroordeel word nie. Steve is vir hulle ’n simbool van hoop.  Ons moet onsself eerder afvra of ons demokrasie daardie mense gefaal het. Natuurlik is daar diegene wat net vassit in die verlede en nie wil sien hoe die land as ’n geheel vorentoe beweeg nie. Steve is ’n spreekbuis vir mense wat voel die land het op ’n manier haar rug op hulle gedraai. En dis hartseer. Niemand wil natuurlik iewers leef waar daar nie hoop is nie. Mag regs en links in die tye wat voorlê ’n bietjie meer verdraagsaamheid aan die orde van die dag plaas.  Iewers gaan ons mekaar halfpad moet ontmoet …

 

Lees ook

Steve Hofmeyr: Bannelingskap redux – stil is die windjie en skraal

  • 4

Kommentaar

  • Avatar
    Francois Verster

    Die kommentators doen uitstekend deur geldige punte aan te raak. Self voel ek dat 'n mens moet probeer om so onpartydig (durf ek se "objektief?") as moontlik na die saak te kyk. Of jy van Steve as mens/kunstenaar/politieke kommentator hou of nie, jy behoort sy naam vir 'n oomblik uit te blok met 'n anonieme "X" en dan weer na die optrede van die betrokke borg te kyk. Wat is jou bevinding dan?

  • Avatar
    Hetta Pieterse

    Ek glo soos Mercy Kannemeyer. Ek voel nie bedreig nie. Ek hou van Steve se musiek maar nie al sy uitlatings nie. Hier in die Kaap het ons baie wonderlike Afrikaans en baie Afrikaanse "dialekte" wat soet in die mond lê. Ons moet wegbeweeg van Pretoriaanse eksklusiwiteit.

  • Avatar
    Andries Gerhardus Henning van der Walt

    Hoeveel van die bogenoemde "kenners" was al betrokke by borgskapprogramme waar hulle die besluit moes neem om 'n projek te borg al dan nie. En voor jy die besluit neem seker te maak dat dit in die maatskappybeleid pas. Een vraag wat ek mis is of MultiChoice vooraf geweet het Steve Hofmeyr neem deel? En as hulle dit nie geweet het nie, hoekom nie? Wat ek mis in wat geskryf is, is dat daar net op die Ghoema-toekennings gekonsentreer word en nie die stand van Afrikaans in die breër gemeenskap nie. Hoekom nie dieselfde uitbarsting teen Lesufi van Gauteng wat daarop uit is om Afrikaans uit skole te kry. Wat doen jy as jy 'n maatskappy of organisasie skakel en hulle weier om jou in Afrikaans aan te spreek? En om vir my te kom vertel dat MultiChoice so baie vir Afrikaans doen is lagwekkend. Kyk net na KykNET. Hoeveel van die "kenners" hierbo kyk ooit daarna? MultiChoice se besluit deur sy hoof uitvoerende beampte wat kort daarna met Gwede Mantashe se dogter getroud is, is 'n storm in 'n teekoppie wat dit nie werd was nie. Een ding wat ek geleer het is om my nie aan die menings soos hierbo uitgespreek te steur nie en my eie afleidings te maak. Fokofpolisiekar?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top