PEN Afrikaans-nuusbrief: September 2019

  • 0

Beste lede en vriende van PEN Afrikaans,

September kondig nie net die begin van die lente aan nie, maar is ook ’n bedrywige maand op die jaarkalender wat literêre feeste en boekverwante inisiatiewe betref.
 
Nasionale Boekeweek, ’n inisiatief van die Suid-Afrikaanse Boekontwikkelingsraad in samewerking met die Departement Kuns en Kultuur, is van 2 tot 8 September gevier. Dit is gemik op die bevordering van ’n leeskultuur in Suid-Afrika en is vanjaar vir die tiende keer waargeneem.
 

Die South African Book Fair het ’n opwindende program oor drie dae in die hartjie van Johannesburg aangebied, terwyl die span van The Book Lounge gesorg het vir nog ’n suksesvolle aflewering van die Open Book-fees in Kaapstad.
 
In ’n tyd wat ook gekenmerk is deur skokkende gevalle van xenofobiese en geslagsgeweld mag dit dalk onvanpas voel om so feestelik te verkeer. Tog word die belang van vierings en byeenkomste van hierdie aard weer tuisgebring as ’n mens kyk na die statistieke oor leesgewoontes in Suid-Afrika. Hiervolgens is slegs 14% van die Suid-Afrikaanse bevolking aktiewe boeklesers, slegs 5% van ouers lees vir hul kinders, en in 58% van Suid-Afrikaanse huishoudings is daar nie ’n enkele leesboek te vinde nie. Laat ons dus hierdie insiatiewe omarm en ondersteun.  
 
Pan Macmillan loods ’n plaaslike kinderboeklys
 
Pan Macmillan Suid-Afrika het verlede maand ’n nuwe publikasie-inisiatief aangekondig wat fokus op die uitbreiding van die plaaslike kinderboekbedryf. Miemie du Plessis, kinderboekkenner en veteraanuitgewer met sewe-en-twintig jaar ondervinding in die bedryf, het met ingang 1 September as kinderboekuitgewer by dié uitgewery aangesluit, en sal die dryfveer agter hierdie nuwe publikasielys wees. Baie geluk aan Miemie en aan Pan Macmillan met hierdie welkome nuwe inisiatief.
 
Storieplaas: ’n Skryfskool in die Swartland
 
Hennie Aucamp het teen die einde van sy lewe geleidelik sy versameling boeke, CD’s en skilderye verklein. Van dié proses het hy gesê, “Ek gee nie weg nie, ek gee aan.”
 
“En dis wat ek met 39 jaar se skryfmyle probeer doen,” sê skrywer Rachelle Greeff.” So het sy al ’n rits beginnerskrywers gehelp om woord vir woord die geil idees wat snags by kreatiewe siele spook aan die oggendlig – en daarna lesers – bekend te stel.
 
Maar hoe kry jy die stories wat in jou grysstof vassteek op jou rekenaarskerm?
 
“Jy kry iemand wat jou skryfhand vat en sê kom ons bou ’n brug van jou skeppende gedagtes oor die maalkolke en stilstaande waters van die kreatiewe proses tot by sinne, paragrawe en op ’n dag bladsye,” sê skryfmentor Rachelle wat onder andere die Skryfskool van die Breytenbachsentrum op Wellington fasiliteer.
 
Die skryfskool sal van 10 tot 14 Oktober plaasvind en die sluitingsdatum vir aansoeke is 16 September.
 
’n Volledige inligtingstuk kan hier afgelaai word. E-pos storieplaas@gmail.com met navrae.
 
 ATKV-Woordveertjies 2019 toegeken


Die ATKV-Woordveertjies is Vrydag 6 September by die Adam Small-teater in Stellenbosch toegeken. Baie geluk aan die wenners. Met die Woordveertjies vereer die ATKV jaarliks uitsonderlike bydraes tot die Afrikaanse woordkuns in ’n verskeidenheid kategorieë:
 
Die ATKV-Prosaprys se beoordelaars was Anastasia de Vries, Elmari Rautenbach en Kirby van der Merwe met die wenner: Die dao van Daan van der Walt –Lodewyk G. du Plessis (Tafelberg).
 
Die kategorie Prys vir Liefdesroman se beoordelaars was Shireen Crotz, Roela Hattingh en Madri Victor met die wenner: Uit die bloute – Chanette Paul (LAPA).
 
Diana Ferrus, Charl-Pierre Naudé en Bernard Odendaal het die Prys vir Poësie beoordeel met die wenner: Asof geen berge ooit hier gewoon het nie – Pieter Odendaal (Tafelberg).
 
Die Prys vir Romanses is deur Carol-Ann Alexander, Naomi Bruwer en Riette Rust beoordeel met die wenner: Blameer die skoenlapper – Elsa Winckler (Romanza).
 
Die Prys vir Spanningslektuur se beoordelaars was Phyllis Green, Thys Human en Valda Jansen met die wenner: Prooi – Deon Meyer (Human & Rousseau).
 
Marina Griebenow, Ilse Oppelt en Hennie van Greunen was die beoordelaars vir die Prys vir Dramateks en die prys gaan vanjaar aan Klippe wat val – Philip Rademeyer.
 
Prys vir Niefiksie is deur Jean Meiring, Herman Wasserman en Bettina Wyngaard beoordeel met die wenner: Ingrid Jonker – Petrovna Metelerkamp (Penguin Random House).
 
Die Woordwystoekenning vir woordeboeke en taalgidse is beoordeel deur Rufus Gouws, Sophia Kapp en Fred Pheiffer en is aan Pharos Afrikaansgids (2018) toegeken. Samesteller: Nicol Faasen. Uitgegee deur Pharos, ’n druknaam van NB-Uitgewers.
 
Die Toekenning vir Leesbevordering gaan vanjaar aan die Du Toitskloof Fairtrade Mobiele Biblioteek en Mediasentrum.
 
Die wenners van die ATKV-Kinderboektoekennings, ’n kategorie waar die kinders self vir hulle gunstelingboeke en -illustrasies stem, is soos volg:
 
Voorleeskategorie: Graad RR – 1

  • Skrywer: Jaco Jacobs – Die dag toe Ernst ’n ertjie geëet het (LAPA)
  • Illustreerder: Johann Strauss– Die dag toe Ernst ’n ertjie geëet het (LAPA)

 
Selfleeskategorie: Graad 2 – 3

  • Skrywer: Jaco Jacobs – Spaghetti tussen jou tone (LAPA)
  • Illustreerder: Alex van Houwelingen – Spaghetti tussen jou tone (LAPA)

 
Selfleeskategorie: Graad 4 – 5

  • Skrywer: Jaco Jacobs – Max die masjien (LAPA)
  • Illustreerder: Stephen Wallace – Max die masjien (LAPA)

 
Selfleeskategorie: Graad 6 – 7

  • Skrywer: Celeste Slabber-Loriston – Jinx (Protea Boekhuis)

 
Selfleeskategorie: Graad 8 – 10

  • Skrywer: Fanie Viljoen – Veldiep (Tafelberg)

 
Die Koalisie vir Doeltreffende Outeursreg in Suid-Afrika: ’n video

Die Koalisie vir Doeltreffende Outeursreg in Suid-Afrika gaan voort met bewusmaking van en opposisie teen die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg, wat steeds nie deur die president geteken is nie. Met drukgroepe wat luid vir én teen die beoogde wetgewing stelling inneem, is dit onwaarskynlik dat dit in die vergetelheid sal verdwyn.
 
Gerugte uit regeringskringe dui daarop dat die president kennis neem van die opposisie teen die wetsontwerp, veral uit die bedrywe wat die wetsontwerp bedoel is om te dien: die skeppende bedrywe.
 
Die volgende video gee ’n goeie oorsig van die Koalisie se bedrywighede: https://youtu.be/ISsB64R0le0
 
Luister gerus ook na die lied Vikela Mina, “beskerm my”, waarin ’n groep sangers, komponiste en musikante ’n beroep op die president doen om nie die wetsontwerp te teken soos dit tans daaruit sien nie.
 
Mag die woorde nie op dowe ore val nie.
 
’n Tweede slypskool in samewerking met die Afrikaanse Taalraad


Die Afrikaanse Taalraad het in samewerking met PEN Afrikaans op 16 Augustus ’n tweede slypskool by Rosendal Primêre Skool in Delft aangebied. Bekende skrywer Diana Ferrus het wenke met die jong skrywers van Rosendal Primêr en Belhar Primêr gedeel – nie net oor die skryf van ’n teks nie, maar spesifiek ook oor die redigering daarvan.
 
Foto’s: ses skrywers skryf tesame


Die skrywersresidensie wat die Jakes Gerwel Stigting in samewerking met PEN Afrikaans aangebied het, het verlede maand tot ’n einde gekom. Tydens die maand se verblyf in die Paulethuis op Somerset-Oos, het ses skrywers geskep, geskaaf, skolebesoeke afgelê en saam om die etenstafel in dié historiese huis gesit.
 
Hier is ’n fotoblad met Ronelda Kamfer se foto’s van dié ervaring.
 
Algemene jaarvergadering by Tuin van Digters 2019


Tuin van Digters is om die draai en ons sien daarna uit om by die Breytenbachsentrum by mekaar te kom ter viering van die digkuns. Die finale feesprogram kan hier bekyk word.
 
Ons algemene jaarvergadering sal op 14 September om 13:00 in die Wellington-biblioteek oorkant die Breytenbachsentrum gehou word. Ons hoop om soveel as moontlik van ons lede daar te sien. Bevestig asseblief bywoning by penafrikaans@gmail.com sodat ons kan verseker dat daar genoeg stoele en lafenis is.
Met die oog op die vergadering word julle vriendelik versoek om op die volgende te let:

  • Slegs opbetaalde lede het stemreg by die AJV, waar ’n nuwe bestuur verkies sal word.
  • Opbetaalde lede word aangemoedig om bestuurslede te benoem deur van hierdie nominasievorm gebruik te maak. Stuur dit asseblief so gou as moontlik na die bogenoemde e-posadres. 

Taal- en boekverwante inhoud uit Taalgenoot Herfs 2019

 
Te danke aan die Taalgenoot-redaksie kan PEN Afrikaans die taal- en boekverwante inhoud uit dié kwartaallikse tydskrif se Herfs 2019-uitgawe deel. Wat ’n plesier. Klik gerus hier om die artikels gratis in PDF-formaat af te laai.

Die volledige tydskrif kan hier digitaal aangeskaf word.
 
Die wêreld van die skrywer
 
“Die wêreld van die skrywer” is PEN Afrikaans se artikelreeks waarin skrywers uitbrei oor temas wat met die praktyk van skryf te doen het. Die artikels verskyn kwartaalliks.
 
Lees hierdie keer hoe beantwoord bekroonde digter, vertaler en letterkundige Henning Pieterse die volgende vrae:

  • In watter mate is plaaslike en/of internasionale kontakte vir skrywers van belang?
  • Watter impak het verbintenisse met uitgewerye, skrywersorganisasies asook individuele vriendskappe met ander skrywers op skrywersloopbane? 

Sy artikel is hier beskikbaar.
 
Maandelikse resensie-oorsig

Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Augustus 2019 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.
 
Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com.
 
Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.
 
Nuwe Afrikaanse boeke in September 2019
 
Oudergewoonte deel ek graag ten slotte die lys van nuwe Afrikaanse boeke wat hierdie maand verskyn, met dank aan die uitgewers wat telkens hul lyste aan ons beskikbaar maak. Dit is ’n plesier om maandeliks die geheelbeeld te kan weergee.
 
Hartlik geluk aan al ons lede wat nuwe boeke op die rak het. Die publikasielyste vir September kan hier in Excel-formaat afgelaai word.
 
Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top