PEN Afrikaans Nuusbrief: Oktober 2018

  • 0

Beste lid van PEN Afrikaans
 
Dit is aangenaam om in hierdie nuusbrief te kan verslag doen oor ’n bedrywige paar weke vir PEN Afrikaans. Ons het sessies by Tuin van Digters aangebied, algemene jaarvergadering gehou in Potchefstroom, die internasionale PEN-kongres in Indië bygewoon en deelgeneem aan ’n oop gesprek oor die aanpassing van die reglement vir die Hertzogprys vir drama.

Die Hertzogprys vir drama
 
PEN Afrikaans het vroeër vanjaar ’n skrywe aan die Akademie vir Wetenskap en Kuns gerig waarin ons versoek het dat die reglement vir toekenning van die Hertzogprys vir drama heroorweeg word.
 
Die reglement bepaal tans dat dramas in aanmerking kan kom indien dit binne die voorafgaande drie jaar in boekvorm met ISBN verskyn het. Uitgewers gee al ’n geruime tyd al hoe minder dramas uit omdat die mark daarvoor so klein is dat dit nie winsgewend aangepak kan word nie.
 
Die gevolg is dat, alhoewel daar ’n noemenswaardige opbloei in die Afrikaanse dramakuns is, die meerderheid van nuwe dramatekste nie in aanmerking kan kom vir die Hertzogprys nie aangesien dit nie aan die publikasiekriterium voldoen nie.
 
PEN Afrikaans het dus versoek dat daar herbesin word oor die publikasiekriterium waar dit die dramagenre aangaan. Ons is dankbaar dat die Akademie en die Letterkundekommissie positief op die versoek gereageer het en ’n oop gesprek met belanghebbendes geskeduleer het om oor dié saak te praat.
 
Lees gerus AJ Opperman se berig oor die gesprek hier.
 
Tuin van Digters 2018
 

Die Tuin van Digters was toe inderdaad weer ’n hoogtepunt vir poësieliefhebbers. Hierdie keer was die fokus ook “buite die boek”, met aandag aan vertalings, animasie, verwerkings en toonsettings van gedigte.
 
PEN Afrikaans het met die ondersteuning van PEN International twee sessies op die feesprogram aangebied. Albei sessies is gewy aan die bloemlesing ConVerse, saamgestel deur Pieter Odendaal, Annel Pieterse en Mbongeni Nomkhonwana. Dit is gesamentlik deur InZync en die US Woordfees uitgegee.
 
Mercy Kannemeyer deel hier haar indrukke van dié sessies.
 
Kyk gerus ook na die video-opname van die paneelbespreking waartydens Danie Marais met van die samestellers en bydraers in gesprek getree het.

Daar is ook 'n kort video van die oggend se voorleessessie op ons Facebook-blad beskikbaar. Baie dankie aan die digters, die Breytenbach Sentrum en aan Colin Butler vir die video.

Terugvoer oor die 84ste Internasionale PEN-kongres

Tussen 25 en 29 September vanjaar het verteenwoordigers van PEN-sentrums vanoor die wêreld in Pune, Indië, saamgetrek vir die jaarlikse PEN-kongres. Dit was vir my en Fiona van Kerwel 'n voorreg en belewenis om PEN Afrikaans by hierdie geleentheid te kon verteenwoordig.

Fiona deel haar indrukke van die kongres hier.

PEN Afrikaans se algemene jaarvergadering by Aardklop

 

Foto: Izak de Vries

Op 2 Oktober het PEN Afrikaans algemene jaarvergadering gehou in die gepaste ruimte van die Boeke-oase by Aardklop in Potchefstroom.
 
Dankie aan diegene wat teenwoordig was – ook in gees en/of deur middel van volmagvorms wat geteken en teruggestuur is. Laasgenoemde het beteken dat daar ’n kworum by die vergadering was.

PEN Afrikaans se grondwet is by die vergadering gewysig. Sien die notule van die vergadering vir volledige besonderhede oor dié wysiging.
 
Die verslae wat tydens die AJV gelewer is, is ook op ons webportaal beskikbaar:

Artikels en resensies uit Taalgenoot se Winter 2018-uitgawe

 

Ons deel hierdie maand graag die volgende lot boekstories uit Taalgenoot. Klik gerus hier vir artikels uit dié bekroonde kwartaallikse tydskrif se Winter 2018-uitgawe. Baie dankie aan die Taalgenoot-redaksie!
 
Die nuwe uitgawe, met revolusie as die breë tema, is nou op die rakke. Hou ’n oog daarvoor oop by Exclusive Books- en Van Schaik-boekwinkels.
 
Die kykNET-Rapport-boekpryse is toegeken

Die wenners van die kykNET-Rapport-boekpryse is op Saterdag 22 September 2018 in Kaapstad bekend gemaak. Die Jan Rabie-Rapportprys vir die beste debuut- of tweede prosawerk in Afrikaans asook die kykNET-Rapportpryse vir Afrikaanse resensies is by dieselfde geleentheid toegeken.

Baie geluk aan al die wenners, en veral hartlik geluk aan een van ons bestuurslede, Charl-Pierre Naudé, wat 'n kykNET-Rapport-boekresensentprys vir sy resensie van Radbraak deur Jolyn Phillips ontvang het!

Raadpleeg hierdie webblad vir volledige inligting oor wie met die louere weggestap het.

Wat elke skrywer moet weet: aanlyn outeursregskending

 
Corné Güldenpfennig, ’n prokureur wat in intellektuele goederereg spesialiseer, vertel in die nuwe artikel in ons artikelreeks meer oor die gevare wat die aanlyn omgewing vir skrywers kan inhou. Sy kyk spesifiek na outeursregskending en kuberdiefstal, en gee wenke oor hoe skrywers hul werk kan beveilig.

Vorige gevalle van grootskaalse ongemagtigde verspreiding van e-boeke het al duidelik gewys:  dit is ’n uiters relevante onderwerp vir skrywers wat ook in digitale formate publiseer.

Die artikel is hier beskikbaar.
 
Baie dankie aan Corné vir die verhelderende uiteensetting. Lesers kan met haar kontak maak as daar verdere vrae hieroor is.

Maandelikse resensie-oorsig

 

Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in September 2018 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.
 
Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com.
 
Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.
 
Nuwe Afrikaanse boeke in Oktober 2018
 
Ten slotte is dit altyd 'n plesier om die lys van nuwe Afrikaanse publikasies te deel. Baie geluk aan al ons lede wat hierdie maand nuwe boeke op die rak het.
 
Die publikasielyste vir Oktober kan hier in Excel-formaat afgelaai word.
 
Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top