PEN Afrikaans Nuusbrief: Mei 2020

  • 0

Beste lede en vriende van PEN Afrikaans
 
Skrywers se pleidooi op Wêreldboeke- en kopieregdag
 
Wêreldboeke- en kopieregdag word jaarliks op 23 April gevier. Vanjaar het dit saamgeval met ’n inperking waartydens menige lesers opnuut die waarde van boeke ontdek, maar ongelukkig ook met ’n groot toename in die onwettige verspreiding van e-boeke via WhatsApp-groepe en ander platforms.
 
As deel van ’n veldtog wat PEN Afrikaans gedryf het, het skrywers vanjaar die leserspubliek gevra om nie net hul boeke nie, maar ook hul kopiereg te respekteer.
 
Omdat e-boeke so vinnig en maklik versprei kan word, in onbeperkte hoeveelhede, is die potensiële impak op die boekbedryf verwoestend.
 
Die video wat ons versprei het, is hier beskikbaar. Sien en deel gerus ook die skrywers se aanhalings wat die veldtog vergesel het. Baie dankie vir almal se deelname.

Die skaal van die probleem rondom die onregmatige verspreiding van e-boeke blyk duidelik uit die wye beriggewing wat die onderwerp sedertdien belig. Lees die volgende bydraes vir meer inligting oor die onwettige bedrywighede en beoogde stappe daarteen:

PEN Afrikaans Vertaalfonds wag aansoeke in

nternasionale reis is tans tot ’n groot mate opgeskort of beperk, maar gelukkig kan literatuur steeds deur vertaling grense oorsteek.
 
Die PEN Afrikaans Vertaalfonds wag aansoeke van buitelandse uitgewers in. Die Vertaalfonds se sentrale doelstelling is om die Afrikaanse letterkunde internasionaal te bevorder deur meer vertalings en publikasies van verdienstelike Afrikaanse werke moontlik te maak. Die ruim ondersteuning van die Trust vir Afrikaanse Onderwys maak dit moontlik.
 
Die sluitingsdatum vir aansoeke is 15 Mei en die volledige reglement met aansoekvorm is hier beskikbaar. 

Boekhandel op vlak 4 van die inperking
 
Die regulasies vir vlak 4 van die inperking laat die verkope van skryfbehoeftes en opvoedkundige publikasies toe.
 
’n Petisie wat deur bekroonde skrywer Mark Gevisser opgestel is, deur skrywers versprei is en sedertdien op PEN South Africa se webblad gehuisves word, het wyd steun ontvang, onder andere ook van PEN Afrikaans. Die petisie was ten gunste van ’n wyer benadering tot boekverkope tydens vlak 4 van die inperking – ter wille van skrywers, lesers en die voortbestaan van die boekbedryf.
 
Die Uitgewersvereniging van Suid-Afrika het ook ’n beroep op die regering gedoen dat alle boekverkope op vlak 4 toegelaat word.
 
Ongelukkig het die beroep en die petisie nie tot ’n amptelike wending gelei wat boekverkope betref nie. Die regulasies vir vlak 4 beperk steeds boekverkope tot slegs opvoedkundige boeke.
 
Intussen het sommige boekwinkels, insluitend Exclusive Books, egter die standpunt ingeneem dat die meeste boeke tot ’n mate opvoedkundig van aard is, en dat hulle winkels dus nie ’n streng onderskeid tref tussen watter boeke verkoop mag word en watter nie. Sien gerus hierdie artikel vir meer inligting.

Ons sien uit daarna dat die regulasies vir boekverkope amptelik wyer omskryf word en doen 'n beroep op lesers om intussen boekhandelaars so ver as moontlik te ondersteun.
 
Twee mediagroepe kondig sluiting van tydskrifte aan

Die mediagroep Caxton het op 5 Mei aangekondig dat hulle die publikasie en verspreiding van die tydskrifte in hul groep gaan staak. Die Junie-uitgawes sal die laaste uitgawes van die tydskrifte wees wat deur Caxton uitgegee word. Van die mediagroep se tydskrifte het ’n lang geskiedenis in die Afrikaanse medialandskap. Rooi Rose en Vrouekeur is byvoorbeeld gevestigde publikasies wat nie net geliefd is by lesers nie, maar ook verskeie skrywers se loopbane al bevorder het.
 
Hierdie nuus volg kort nadat Associated Media Publishing aangekondig het dat dié maatskappy, wat in 1982 deur baanbreker Jane Raphaely gestig is en verskeie bekende tydskrifte gehuisves het, met ingang Mei permanent van die mark onttrek het.
 
Die Covid-19-pandemie en die beperkings wat daarmee saamgaan, het klaarblyklik ’n reeds sukkelende mediabedryf ’n erge knou toegedien. Ons meegevoel aan die joernaliste, fotograwe, skrywers, teksversorgers, ontwerpers en die res van die spanne wat hierdeur geraak word.
 
Dit is ook ’n groot verlies vir die tydskrifte se lojale lesers, en in die algemeen ook ’n betreurenswaardige verlies aan verskeidenheid op die winkelrakke.

Rapport berig dat Caxton intussen oorval word met aanbiedings vir Rooi Rose en vertroue het dat beide Rooi Rose en Vrouekeur 'n nuwe tuiste sal vind en nie sluit nie.

PEN Afrikaans spreek kommer uit oor skorsing van eNCA-nuusaanbieders

PEN Afrikaans neem met kommer kennis dat twee eNCA-nuusaanbieders, Xoli Mngambi en Jane Dutton, na bewering geskors is. Dit kom nadat hulle tydens ’n nuusprogram hul menings gelug het oor dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, se ommekeer van president Cyril Ramaphosa se vroeëre aankondiging dat tabakverkope onder vlak 4-regulasies toegelaat sou word. Die nuusaanbieders het in gesprek hierdie ommekeer as ’n spierbultery beskryf wat die president se gesag ondermyn het.

Die joernaliste het intussen verskoning vir hul aanvanklike stellings gevra, wat op sigself kommerwekkend is, maar het nog nie weer op die lug verskyn nie.

Dit sal uiters problematies wees as joernaliste wat ’n nuusprogram aanbied waartydens kritiese vrae oor aktuele kwessies gevra word, geskors kan word omdat hulle politici kritiseer.

As die eNCA gestand wil doen aan sy slagspreuk, naamlik “No fear, no favour”, sal die kanaal onmiddellik enige sprake van skorsing of dissiplinêre aksie terugtrek, verskoning daarvoor vra, en die beginsels van vryheid van uitdrukking, kritiese denke en onafhanlike verslaggewing bevorder deur sy werknemers te ondersteun, nie te straf nie.

PEN Afrikaans doen ’n beroep op eNCA om die nuusaanbieders onmiddellik in hul posisies te herstel.

Pers- en uitdrukkingsvryheid is noodsaaklik om te verseker dat die media kan aanhou om ’n waardevolle rol in ons demokratiese samelewing te speel.

Klik hier om die verklaring verder te kan deel.

Maandelikse resensie-oorsig

Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in April 2020 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.
 
Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com.
 
Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.
 
Nuwe Afrikaanse boeke in Mei 2020
 
Laastens deel ons oudergewoonte die gekombineerde lys van nuwe Afrikaanse boeke wat hierdie maand verskyn.
 
Die publikasielys, wat om voor die hand liggende redes minder uitgebreid as gewoonlik is, kan hier in Excel-formaat afgelaai word.
 
Baie geluk aan al ons lede wat hierdie maand nuwe boeke die lig laat sien.

Dit is duidelik dat boeke veral in hierdie beproewende tye baie vir lesers beteken.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top